Die Woord wat lewe gee

2026-06-07
Johannes 6:63 NLV

Jesus word elf keer ‘Rabbi’ in die Evangelies genoem. Hy was egter nie soos enige ander rabbi nie. Rabbi’s het ander mense se woorde aangehaal, maar Jesus het gesê: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle…’ In die evangelie van Johannes sê Hy dit twee keer: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle…’ (Johannes 6:47; 14:12 AFR53). Jesus was nie soos enige ander rabbi nie, want Hy was God wat vlees geword het. Paulus het gesê: ‘In ‘n eenheidsband met Christus is al die geheime skatte van wysheid en kennis te vind’ (Kolossense 2:3 NLV).

Die vroeë kerkvaders het ‘n gunstelinggesegde gehad: ‘Die Evangelies is soos ‘n rivier waarin ‘n muggie kan swem en ‘n olifant kan verdrink.’ Die Evangelies – die verslag van Christus se lewe en lering – het die wêreld soveel beïnvloed dat dit in 2 527 verskillende tale vertaal is. Die tweede mees vertaalde boek, Don Quixote, is in ongeveer 60 tale vertaal. Tot vandag toe bly die Bybel die topverkoperboek van alle tye. Akademici hou rekord van hoe gereeld enige artikels wat hulle skryf, deur ander akademici aangehaal word. Volgens sulke berekeninge, is Jesus se intellektuele impak ongekend. Hoekom is dit so? Want wanneer alles anders faal, werk God se Woord.

Jesus het dit so verduidelik: ‘Dit is die Gees wat lewend maak, die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe.’ As jy ‘n onderwyser is, weet jy dat die nommer een vraag in enige klas die volgende is: ‘Gaan hierdie inhoud in die eindeksamen gevra word?’ As jy jou eindeksamen met hoë punte wil slaag, moet jy jouself elke dag in God se Woord verdiep en dit deel van jou maak.

Sielskos: Matt 5:4; Ps 30; Rom 12:15

Ontwikkel ‘n geestelike denkwyse

2026-06-06
Romeine 8:5 NLV

‘Muscle memory’ word nie in jou spiere gestoor nie. Dis ‘n geheue wat in jou brein gestoor word elke keer wanneer jy ‘n spierbeweging herhaal. Of dit nou ‘n gholfhou of viool speel is, die ‘muscle memory’ word sterker hoe meer dit herhaal word. Het jy al gehoor van die 10 000-uur-reël? Sielkundiges sê dis hoeveel tyd dit neem om ‘n kenner op enige gebied te word. Dis bemoedigend, want dit beteken enigiemand kan dit doen, maar dis ontmoedigend, want dit beteken daar is geen kortpaaie nie, maak nie saak hoe slim of begaafd jy is nie.

Net soos ‘n vreemde taal, is die ontwikkeling van ‘n geestelike denkwyse ‘n leerkurwe. Kan jy jou voorstel om gefrustreerd te wees op die eerste dag wat jy ‘n ander taal begin leer, omdat jy nog nie die taal vlot kan praat nie? Dis hoe ons dikwels voel wanneer ons nie vlot in gebed, of sterk in geloof, of gedissiplineerd in ons gewoontes is nie. Psalm 84:8 (NLV) sê ons ‘…kragte sal vermeerder…’ Jy sal hieraan vir die res van jou lewe, een dag op ‘n slag, moet werk. Jy sal jou vordering moet aanhou meet.

Moenie ‘n fout maak nie – hierdie geestelike dissiplines bou saamgestelde rente op. Hierdie rente word in terme van vreugde, vervulling en krag van God, uitbetaal. ‘Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede’ (Romeine 8:5-6 NLV).

Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Matt 16:1-12; Ps 1; Spr 14:29-32

Hoe om jou Jerigo te oorwin (2)

2026-06-05
Josua 5:2 NLV

Voordat die Israeliete Jerigo verower het, het God vir Josua gesê om die Israeliete vir ‘n tweede keer te besny. Seshonderd jaar tevore het God die praktyk van manlike besnydenis ingestel. Hy het vir Abraham gesê dat dit ‘…’n teken dat julle my verbond nakom’ (Genesis 17:11 NLV), sou wees. Wat was God se bedoeling met die tweede besnydenis? Jy moet onthou aan wie jy behoort!

In ‘n sekere sin is alle gelowiges besny. Paulus het geskryf: ‘Omdat julle één is met Christus is julle ook besny, nie met ‘n besnydenis deur mense nie, maar met die besnydenis wat Christus bewerk. Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van jou sondige geaardheid’ (Kolossense 2:11 NLV). Dit beteken dat jy nou God se kind (Johannes 1:12); Christus se vriend (Johannes 15:15); ‘n lid van Christus se liggaam (1 Korintiërs 12:27); verlos en vergewe van al jou sondes (Kolossense 1:14); een met Christus (Kolossense 2:10); vry van veroordeling (Romeine 8:1-2); God se medewerker (2 Korintiërs 6:1); saam met Christus in die hemel gesetel (Efesiërs 2:6); God se handewerk (Efesiërs 2:10); ‘n burger van die hemel (Filippense 3:20); aangeneem in God se familie (Efesiërs 1:5); en uit God gebore en bewaar van die bose (1 Johannes 5:18), is.

Weer eens skryf Paulus: ‘Julle moet dus ook verseker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle één is met Christus’ (Romeine 6:11 NLV). Wanneer die duiwel dus naby jou kom, moenie sy beskuldigings verduur nie en moenie vir sy aanvalle terugdeins nie. Wanneer hy jou vorige foute ophaal, vertel hom wie jy in Christus is (sien 2 Korintiërs 5:17). Hy het geen verweer teen hierdie waarheid nie. Hy weet wie jy is. Hy hoop net dat jy dit nie weet nie, of dat jy dit sal vergeet.

Sielskos: Eseg 10-13; Matt 15:29-39; Ps 129; Spr 14:25-28

Hoe om jou Jerigo te oorwin (1)

2026-06-04
Josua 4:7 NLV

Jerigo was die sterkste stad in die Beloofde Land en die eerste stad wat Josua se leër moes verower. Omdat Jerigo se mure ondeurdringbaar gelyk het, sou dit intimiderend vir enige voornemende indringer voorgekom het. Daarom het God vir sy mense gesê om te onthou en op te teken wat Hy in die verlede vir hulle gedoen het. Hy het gesê: ‘Kies twaalf mans uit die volk, een uit elke stam en sê vir hulle: ‘Kry twaalf klippe uit die middel van die Jordaan’… by Gilgal het Josua die twaalf klippe… opmekaargestapel’ (Josua 4:2-3, 20 NLV). Josua het dit ter herinnering toe God die water van die Jordaan geskei het, opgerig.

Een van jou beste wapens teen Satan se aanvalle is ‘n goeie geheue. Moenie een van God se seëninge vergeet nie! Die psalmdigter sê: ‘Dit is Hy wat my vergewe as ek verkeerde dinge doen. Hy maak my gesond. Hy red my uit die kloue van die dood… Die Here oorlaai my met al die goeie dinge in die lewe… Die Here help almal wat onderdruk word. Hy is goed’ (Psalm 103:3-6 DB).

Skep ‘n trofeekamer in jou hart. Elke keer as jy ‘n oorwinning ervaar, plaas daardie herinnering op ‘n rak. Voordat jy ‘n uitdaging in die gesig staar, neem ‘n vinnige toer van die prestasies wat God namens jou bereik het. Kyk na al die salarisstrokies wat Hy voorsien het, die seëninge wat Hy gegee het en die gebede wat Hy verhoor het. ‘Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot’ (Klaagliedere 3:21-23 AFR83).

Sielskos: Eseg 5-9; Matt 15:15-28; Ps 124; Spr 14:21-24

Ken en geniet jou erfenis

2026-06-03
Romeine 8:17 NLV

Ons deel dieselfde erfenis as Christus! Wat Hy het, het ons ook! ‘…In hierdie wêreld is ons situasie immers presies dieselfde as Jesus s’n…’ (1 Johannes 4:17 DB). As ons dus mede-erfgename saam met Christus is, waarom sukkel ons deur die lewe? Om twee redes:

1) Ons weet nie van ons erfenis nie. Niemand het ons ooit vertel dat ons vanuit ‘n posisie van oorwinning veg, in plaas daarvan om vir oorwinning te veg nie. Wanneer jy jou hart vir Christus gee, het Hy ‘…al die geestelike skatte wat daar in die hemel is, verniet vir ons gegee’ (Efesiërs 1:3 NLV). Jy besit reeds alles wat jy nodig het om alles te wees wat God begeer. Jy het toegang tot al die geestelike skatte. Dit beteken ook dat God jou ‘…sal toerus met alles wat nodig is om sy wil uit te voer…’ (Hebreërs 13:21 NLV).

2) Ons glo nie in ons erfenis nie. Stel jou voor wat sou gebeur as ‘n generasie Christene vanuit hul erfenis leef. Hulle sou pornografie op die internet afskakel. Die eensames sou vertroosting in God en nie in die arms van vreemdelinge vind nie. Sukkelende paartjies sou meer tyd in gebed en minder tyd in woede deurbring. Kinders sou dit as ‘n seën beskou om na hul bejaarde ouers om te sien.

‘Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo. Dieselfde magtige sterkte was ook aan die werk toe God Christus uit die dood opgewek het…’ (Efesiërs 1:19-20 NLV). Dieselfde inwonende Gees wat Christus uit die dood opgewek het, sal elke ‘Ek kan nie’ van jou in ‘n ‘Ek kan’ verander. ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV).

Sielskos: Eseg 1-4; Matt 15:1-14; Ps 4; Spr 14:17-20

Glo God vir oorvloed

2026-06-02
Deuteronomium 30:9 NLV

‘n Jong kunstenaar het eendag haar tante gebel om haar te laat weet dat sy op pad na ‘n luukse oord is om te probeer om haar houtsneewerk van seevoëls aan die eienaar van die geskenkwinkel te verkoop. Sy het haar tante gevra om te bid dat haar onderneming suksesvol sou wees. Haar tante het haar verseker dat sy sou bid vir die grootste bestelling wat sy nog ooit ontvang het!

Daardie aand het die jong kunstenaar haar tante teruggebel. Nie net het die geskenkwinkel-eienaar al haar houtsneewerk gekoop nie, maar ook soveel houtsneewerk bestel as wat sy kon maak! Sy was vol verwondering oor hoe oorvloedig God die gebed verhoor het. ‘Nou moet Tannie asseblief weer bid,’ het sy vir haar tante gesê, ‘dat ek hierdie groot bestelling sal kan nakom!’ Haar tante het geantwoord: ‘Die Here maak nie ‘n deur oop tensy Hy verwag dat ons suksesvol daardeur gaan loop nie. Wanneer ons vir reën bid, moet ons nie verbaas wees as ons ‘n wolkbreuk kry nie!’

Bid jy dat God ‘n behoefte in jou lewe sal vervul? Watter antwoord verwag jy? Wees eerlik. Die absolute minimum? Karig maar bevredigend? Of verwag jy oorvloedige, meer-as-genoeg voorraad? Staan op God se Woord: ‘Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen…’ Jesus het gesê: ‘Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê’ (Johannes 10:10 NLV).

Paulus het geskryf: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:8 NLV). Glo dus in God vir oorvloed.

Sielskos: Amos 5:18-9:15; Matt 14:22-36; Ps 121; Spr 14:13-16