2026-06-13
Efesiërs 3:18 NLV
Thomas Aquinas was een van die grootste skrywers en denkers van die Middeleeue. Sy Summa Theologica is een van die geskiedenis se blywendste teologieë. Aquinas het dit egter nooit voltooi nie as gevolg van iets wat op 6 Desember 1273 gebeur het. Hierdie gebeurtenis het veroorsaak dat hy heeltemal ophou skryf het. ‘Alles wat ek al geskryf het, lyk soos onsin,’ het Aquinas gesê, ‘in vergelyking met dit wat nou aan my geopenbaar is.’ Presies wat hierdie openbaring behels, bly ‘n raaisel, maar daardie een openbaring het al die kennis wat hy opgedoen het, oortref.
Dis wat jy ook nodig het. Jy het ‘…geestelike wysheid en insig…’ (Efesiërs 1:17 NLV), nodig. Niks sal jou lewensuitkyk, of selfs jou persoonlikheid, so vinnig verander soos ‘n openbaring van God se liefde nie. Dit is egter geheel en al anders as die manier waarop ons liefde op ‘n menslike vlak gee en ontvang. Sy liefde is eerstens onvoorwaardelik. Daar is niks wat jy kan doen sodat God jou meer of minder lief het nie, want Hy het jou reeds perfek en ewig lief. Selfs wanneer jy dit nie beantwoord nie, ontmoedig of verminder dit nie sy liefde vir jou nie. Dit beklemtoon dit.
‘God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Dis maklik om iemand lief te hê wanneer hulle op hul beste is. Dis egter nie so maklik wanneer hulle op hul slegste is nie. Dis egter die toets van ware liefde. Ons liefde is geneig om reaktief te wees, maar God se liefde is proaktief. Hy het ons lief wanneer ons dit die minste verwag en dit die minste verdien.
Sielskos: Eseg 31-33; Matt 18:21-35; Ps 80:12-19; Spr 15:15-17
2026-06-12
Efesiërs 3:18-19 NLV
Op die gebied van algemene relatiwiteit, is daar ‘n punt van geen terugkeer nie. Dit is die punt waar swaartekrag so groot word dat dit onmoontlik is om daarvan te ontsnap. Die mees voor die hand liggende voorbeeld hiervan is ‘n swart gat – ‘n hemelliggaam so massief dat lig sy swaartekragveld slegs kan binnedring, maar nooit kan verlaat nie. Sodra jy sy horison oorsteek, is daar geen omdraaikans nie. God se liefde is soos hierdie punt van geen terugkeer nie.
Die Bybel sê dat God die liefde self is (sien 1 Johannes 4:8). Die implikasies van hierdie enkele stelling sal ‘n ewigheid neem om te ontrafel. Niks is sterker of langer as God se liefde nie. Sodra jy dit oorsteek, kan jy nie terugkeer nie. Wie sou in elk geval wou? Logika sal jou nie tot by God se liefde kry nie. Sy liefde is meer as logies – dit is teologies. Die enigste manier om God se liefde te ontvang, is deur ‘n openbaring daarvan te kry.
Paulus het geskryf: ‘Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word’ (Efesiërs 3:18-19 NLV). Die liefde van God is onmeetbaar. Dit pas nie in ‘n boks nie, nie eers in ‘n boks so groot soos die heelal nie. As die heelal nie groot genoeg is nie, sal God se liefde beslis nie binne die grense van ons menslike logika pas nie. Hoe kry ons dit dan in ons harte en gedagtes? Deur ‘n persoonlike openbaring! Die woord vir jou vandag is dus: bid vir ‘n openbaring van God se liefde.
Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Matt 18:10-20; Ps 80:1-11; Spr 15:11-14
2026-06-11
2 Korintiërs 10:4 NLV
Net soos Jerigo ‘n vesting in Kanaän was, het ons vestings in ons lewens. Paulus het geskryf: ‘Die wapens van ons stryd is… die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (verse 4-5 NLV).
‘n Vesting is ‘n ‘argument’ of ‘n ‘skans’ wat ‘teen die kennis van God opgerig word.’ Dit is ‘n oortuiging, uitkyk of geloof wat probeer om met die waarheid in te meng. ‘n Vesting is ‘n valse uitgangspunt wat God se beloftes ontken. Dit probeer om die probleem te vergroot en God se vermoë om dit op te los, te minimaliseer.
Het ‘n vesting ‘n sterk greep op jou? God gaan my nooit vergewe nie (die vesting van skuldgevoelens). Ek kan daardie persoon nooit vergewe nie (die vesting van wrokkigheid). Slegte dinge gebeur altyd met my (die vesting van selfbejammering). Ek moet in beheer wees (die vesting van trots). Ek verdien nie om liefgehê te word nie (die vesting van verwerping). Ek sal nooit herstel nie (die vesting van nederlaag). Ek moet uitblink, anders sal God my verwerp (die vesting van prestasie). Ek is net so goed soos ek lyk (die vesting van voorkoms). My waarde is gelykstaande aan my besittings (die vesting van materialisme).
Baie Christene herken nie die vestings in hul lewens nie. Jy hoef egter nie een van hulle te wees nie. God het jou die wapens van gebed, die Skrif, die Naam van Jesus, die bloed van Jesus, die Christelike gemeenskap, ens. gegee. Saam is hulle ‘die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig’ (vers 4 NLV).
Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Matt 18:1-9; Ps 143; Spr 15:8-10
2026-06-10
Filippense 3:13-14 NLV
Iemand het gesê: ‘Die geheim van sukses is om soos ‘n eend te wees – glad en onverstoord bo die water, en woes besig om onder die oppervlak te swem.’ Niccolò Paganini, die bekende negentiende-eeuse violis, het die waarheid hiervan geïllustreer. Sy onvergeetlikste konsert was nie ‘n maklike uitvoering nie. Hy moes woes onder die oppervlak spartel om die konsert uit te voer. Die konsert is met ‘n volle orkes voor ‘n stampvol gehoor in Italië uitgevoer. Diegene wat hom hoor speel het, sê dat sy tegniek ongelooflik en sy toon fantasties was.
Teen die einde van die konsert was hy besig om sy gehoor met ‘n baie moeilike komposisie te verstom, toe een snaar op sy viool skielik breek en slap van sy instrument afhang. Paganini het net gefrons, sy kop geskud en aanhou speel deur pragtig te improviseer. Toe, tot almal se verbasing, insluitend Paganini s’n, breek ‘n tweede snaar. Kort daarna breek ‘n derde snaar. Dit het soos ‘n komedie gelyk waar Paganini voor die ontsaglike skare met drie snare wat aan sy Stradivarius-viool hang, staan. In plaas daarvan om egter die verhoog te verlaat om sy instrument te herstel, het hy ferm bly staan. Hy het die moeilike stuk kalm op die een oorblywende snaar voltooi – ‘n vertoning wat hom applous, bewondering en blywende roem besorg het.
Paulus was ook so ‘n man: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het.’ Ons almal wat geestelik volwasse is, moet ook so dink. Moet dus nie opgee nie; hou aan!
Sielskos: Eseg 22-23; Matt 17:14-27; Ps 132:11-18; Spr 15:5-7
2026-06-09
1 Korintiërs 15:10 NLV
Trots bevorder selfstandigheid. Dit sê vir ons dat ons inderdaad dinge op ons eie kan doen. In ons poging om in selfvertroue te wandel, slaan ons die deur in God se gesig toe en sluit die werk van die Heilige Gees, ons Helper, uit. Paulus was geleerd, gesofistikeerd en toegewyd, maar hy het nederig verklaar: ‘Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ‘n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het. Maar deur God se onverdiende goedheid is ek vandag wat ek is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het’ (verse 9-10 NLV).
Dit maak nie saak hoeveel talente en vermoëns jy besit nie, sonder God sal dit jou net tot by ‘n sekere punt bring. Jesus het gesê: ‘Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan my verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). Die bron van ons vertroue moet dus God en nie onsself wees nie.
Wanneer mense wat in Godvertroue wandel se planne skeefloop, is hulle wys genoeg om hul begeertes ondergeskik aan die soewereine wil van God te stel. Hulle herinner hulself vinnig: “‘n Mens kan hoeveel planne maak, maar op die ou einde gebeur wat die Here besluit het” (Spreuke 19:21 NLV). Hulle is oortuig dat God ‘n hoër doel vir hul lewe het en dat geen mens dit kan dwarsboom nie. Oefen dus Godvertroue eerder as selfvertroue uit.
Sielskos: Eseg 20-21; Matt 17:1-13; Ps 132:1-10; Spr 15:1-4
2026-06-08
Spreuke 2:6 NLV
Bill Gates het voorspel: ‘Daar sal in die toekoms ‘twee samelewings’ wees; hoogsbetaalde kenniswerkers en laagbetaalde dienswerkers.’ Die gesegde ‘kennis is mag’ is waar. Dit is selfs meer waar in die geestelike realm. Hoe meer jy van God weet, hoe meer selfversekerd sal jy wees. Kennis van God se Woord kan duidelikheid oor die raaiselagtige kwessies van die lewe gee.
Toe ‘n sekere godsdienstige sekte probeer het om Jesus in een van hul debatte oor ‘n spesifieke kwessie uit te vang, het Hy geantwoord: ‘…Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie’ (Matteus 22:29 NLV).
Daar is ‘n paar waarhede wat jy in jou hart moet vasmaak en toelaat dat hulle vrede in jou gees bring. Byvoorbeeld, niemand kan God se doel vir jou lewe dwarsboom nie. ‘Die Here die Almagtige het besluit, en wie sal sy planne kan verander? Wanneer sy hand beweeg, wie kan dit terugbring?’ (Jesaja 14:27 NLV). Jy moet weet en glo dat ondanks enige gebeure, dinge tot jou beswil sal uitwerk. Daarom kan jy angs en bekommernis laat vaar. ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV).
Daniël herinner ons dat God die Een is wat: ‘…aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig’ (Daniël 2:21-22 AFR83). Die ‘lig’ wat jy nodig het, behoort aan God. Jy hoef ook nooit onseker oor enige aspek van jou kennis wanneer jy Hom ken, te voel nie, want Hy weet alles.
Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Matt 16:13-28; Ps 48; Spr 14:33-35