2026-05-14
Markus 4:35 NLV
Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘…Kom ons vaar oorkant toe.’ Volgende lees ons: ‘Daar het ‘n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die boot gebreek…’ (vers 37 NLV). Die dissipels het na Jesus gedraai en gesien dat Hy vas aan die slaap is! Hulle het geskree: ‘…Leermeester, skeel dit U niks dat ons besig is om te vergaan nie?’ (vers 38 NLV). Jesus het wakker geword, die storm beveel om te bedaar en toe vir sy dissipels gesê: ‘…Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?’ (vers 40 NLV).
Wat ‘n verstommende teregwysing! Waarom het Jesus hulle berispe? Eenvoudig: hulle het Hom nie op sy Woord geneem nie. Hy het gesê dat hulle na die oorkant toe gaan vaar. Hy het nie gesê: ‘Ons gaan in die middel van die see verdrink,’ nie. Jesus het reeds die uitkoms aangekondig. Toe die storms egter kom, het die dissipels die gebrul van die winde gehoor en sy Woord vergeet.
Jy sal ook storms ondervind. Winde sal huil, jou boot sal rondgeslinger word en jy sal ‘n keuse hê: Sal jy na Christus of na die krisis luister? Sal jy ag op die beloftes van die Skrif of op die geraas van die storm slaan? God het vir Josua gesê om dag en nag oor die Skrif te mediteer (sien Josua 1:8). Die beeld is een van ‘n persoon wat God se Woord oor en oor opsê, oefen en oorweeg.
Paulus sê: ‘Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid…’ (Kolossense 3:16 AFR83). Begin met ‘n gebed: ‘O God, spreek asseblief vandag tot my hart terwyl ek u Woord lees.’ Lees dan die Skrif met ‘n oop gemoed, totdat die boodskap jou tref.
Sielskos: Luk 24:50-53; Hand 1:1-11; Ef 4:7-10
2026-05-13
Markus 16:15 NLV
In 1993 het ‘n groep genaamd AD2000 United Prayer Track met ‘n innoverende idee vorendag gekom. Om hul doelwit van “‘n kerk vir elke volk en die evangelie vir elke persoon teen 2000 NC” te help verwesenlik, het hulle ‘n program genaamd ‘Praying through the Window’ gestig. Die ‘venster’ het na ‘n gebied op die aardbol van tien grade tot veertig grade noord van die ewenaar, van Noord-Afrika en Suid-Spanje ooswaarts tot Japan en die noordelike Filippyne, verwys. Byna drie miljard mense woon in hierdie gebied, waar die prominentste godsdienste Boeddhisme, Islam en Hindoeïsme is.
Vir die hele maand van Oktober 1993, en weer in 1995, het miljoene Christene vir die mense in ‘die 10/40-venster’ gebid. Die doel was dat nuwe kerke gestig en nuwe sendelinge na hierdie gebiede gestuur word. In 1993 alleen het die aantal kerke in Albanië van 50 tot meer as 300 gegroei en die aantal Christelike gemeenskapsgroepe wat in Indië gevorm is, het van ‘n gemiddeld van drie tot sewentien per dag gestyg.
As jou wêreld slegs uit jou geliefdes, jou werk en jou kerk bestaan, vra God om jou oë vir die buitewêreld oop te maak. Bid dat Hy in daardie nasies sal beweeg. ‘Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsie, die einde van die aarde as jou besitting’ (Psalm 2:8 NLV). Jy vra: ‘Kan ons realisties glo dat die hele wêreld na Christus sal draai?’ Lees die volgende: ‘Die hele aarde sal die Here erken en na Hom toe terugkeer. Mense uit elke nasie sal Hom weer dien’ (Psalm 22:28 NLV).
Sielskos: Deut 32:29-34:12; Matt 10:11-20; Ps 49; Spr 12:20-22
2026-05-12
Genesis 2:22 NLV
God het ons behoefte na geselskap erken toe Hy gesê het: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie… die Here God [maak] ‘n vrou en bring haar na die mens toe’ (verse 18, 22 NLV). Die meeste van ons is sosiale wesens wat op ons beste funksioneer wanneer ons in ander mense se geselskap is. Ons kry energie en ondersteuning van hulle.
Daar is egter mense wat skaam voel om te erken dat hulle eensaam is. Hulle smag na mense om hul lewens mee te deel, maar voel dat hulle moet voorgee dat hulle niemand nodig het nie. Jy moet nie skaam voel omdat jy liefde en sosiale konneksie wil hê nie. Dit verg moed om jou begeerte na geselskap te erken en ‘n stap te neem om betrokke by mense te raak.
Probleme begin egter ontstaan wanneer jou behoefte aan geselskap jou begin beheer. Wanneer jy jou waardes in gevaar stel om aanvaar te word, is die gevolg altyd negatief. Om aan ander mense vas te klou sonder om te verstaan wie hulle is of wat hulle verteenwoordig, is ongesond. Wyse besluite oor verhoudings moet nooit met ‘n gemoed wat deur vrees vir eensaamheid of desperaatheid beheer word, geneem word nie. As dit is waar jy jouself vandag bevind, is dit beter om eerder vir nou enkellopend te wees. Dit hoef net tydelik te wees.
Doen dus hierdie drie dinge: 1) Vra God om jou te lei: ‘God gee aan die eensame ‘n tuiste…’ (Psalm 68:7 NLV). 2) Leef volgens die waardes wat jy wil hê jou geliefde ook moet hê. 3) Moenie toelaat dat jou onvervulde behoeftes jou soeke na geselskap lei nie, maar eerder deur dit wat jy het om te gee en met ander te deel.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Matt 10:1-10; Ps 62; Spr 12:18-19
2026-05-11
Jakobus 1:4 NLV
Jakobus skryf: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard… Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees… Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie… Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (verse 2-8 NLV).
Let drie dinge in hierdie Skrifgedeelte op:
1) Jou geloof groei wanneer dit getoets word. Jy sal nooit die krag van jou anker ken totdat jy die krag van die storm voel nie.
2) God sal jou die wysheid gee om die toets te hanteer. Hy sal nie noodwendig al jou ‘hoekoms’ beantwoord nie. Jy moet dus eerder bid: ‘Here, hoe wil U hierdie toets gebruik om my geestelik te ontwikkel? Hoe kan ek met U saamwerk om die grootste voordeel hieruit te trek? Watter veranderinge wil U in my lewe teweegbring?’
3) Jy moet gehoorsaam wees. Dit is moontlik om God vir wysheid te vra en dan daaroor te debatteer, te talm en tyd te mors terwyl jy probeer besluit of jy Hom moet gehoorsaam. ‘So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.’ Wanneer God jou sy wysheid gee, moet jou eerste reaksie wees: ‘…Ja, Here, u dienaar luister’ (1 Samuel 3:10 NLV).
Sielskos: Deut 28-29; Matt 9:27-38; Ps 57; Spr 12:15-17
2026-05-10
2 Korintiërs 5:18 NLV
Paulus het geskryf: ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier! Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Die boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig. Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ‘n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus: Kom tot versoening met God!’ (verse 17-20 NLV).
Soms is ons eerste reaksie wanneer ons hoor dat ‘n medegelowige geval het, om na die foon te hardloop en te sê: ‘Het jy daarvan gehoor?’ Of om ‘n beskuldigende vinger te wys. Of om onsself van daardie persoon te distansieer op die presiese tydstip wanneer hy of sy ons gebede, liefde en ondersteuning nodig het. Die Bybel sê: ‘Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê… Sulke liefde maak baie sondes toe’ (1 Petrus 4:8 NLV).
Eerder as om by diegene aan te sluit wat beskuldigende vingers wys, moet ons bekend staan as mense wat ‘n helpende hand uitsteek. Jesus het dit met Simon Petrus gedoen: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (Lukas 22:31-32 NLV). Net soos God herhaaldelik sy genade aan jou bewys wanneer jy te kort skiet, roep Hy jou om dieselfde genade aan ander te bewys.
Sielskos: Ps 91:1-2; Spr 3:5-6; Jer 17:7-8
2026-05-09
Romeine 12:6 NLV
Wanneer jy bekende musikante bestudeer, sal jy dikwels vind dat hulle hul kuns aangeleer het deur in ‘n orkes te speel. Dit is omdat sekere vaardighede – om te leer om met ander instrumente saam te smelt, tempo te handhaaf, om harder of sagter te speel, die dirigent se leiding te volg – slegs aangeleer kan word deur saam met ander mense te speel.
Wat waar is van ‘n orkes, is selfs meer waar van ‘n gemeenskap van gelowiges. Jesus het dit geïllustreer in sy bekende gelykenis van die talente (sien Matteus 25:14-30). Aan een man is vyf talente gegee en het uiteindelik tien gekry. Aan ‘n ander man is twee talente gegee en het uiteindelik vier gekry. Aan ‘n derde man is een talent gegee, wat hy gaan begrawe het. In ‘n sekere sin het Jesus oor mense wat hulle deel doen en hoe belangrik dit vir God se koninkryk is, gepraat.
Nie almal speel dieselfde instrument nie en nie almal vertolk dieselfde rolle nie. Sommige instrumente is harder as ander en sommige rolle is groter as ander. Dit is nie hoeveel jy het wat vir Jesus saak maak nie; maar wat jy met dit wat jy het, doen. Daar is geen onbeduidende gawes in God se koninkryk nie. Ons gawes mag dalk in grootte verskil, maar kom almal van dieselfde bron af.
Al wat Christus wil hê jy moet doen, is om jou deel te doen. Hy verwag nie dieselfde resultate nie, maar Hy verwag wel dieselfde inspanning. Hy vergelyk jou nooit met iemand anders nie. Hy vergelyk jou net met jouself. Hy kyk nie na wat jy het nie; Hy kyk na wat jy doen met dit wat jy het. Doen dus net jou deel.
Sielskos: Deut 25-27; Matt 9:14-26; Ps 44:17-26; Spr 12:12-14