Geoorloof of tot voordeel?

2026-06-25
1 Korintiërs 10:23 NLV

God kan jou van enigiets in ‘n enkele dag verlos, maar jy moet dit met daaglikse dissipline ondersteun. As jy nie dag in en dag uit geestelike dissipline beoefen nie, sal jou verlossing van korte duur wees. Jy sal terugval in dit waarvan God jou verlos het. Enigeen kan ‘n lewensdoelwit stel; die moeilike deel is om dit elke dag na te jaag. Jy word een oefensessie op ‘n slag fiks. Jy delg jou skuld met een salaristjek op ‘n slag. Watter doelwit jy ook al nastreef, jy moet dit een tree op ‘n slag, een dag op ‘n slag neem!

Let op dat Paulus nie net gesê het dat ons nie volgens ons sondige natuur moet lewe nie, hy het ook gesê dat ons volgens die Gees moet lewe (sien Romeine 8:4). Om te besluit dat jy teen iets is, is net die helfte van die stryd. Die ander helfte is om te besluit dat jy vir iets is. Dallas Willard het een keer gesê: ‘Not going to London or Atlanta is a poor plan for going to New York.’ Dis voor die hand liggend, maar dis hoe baie van ons geestelike dissipline benader. Ons probeer om nie te sondig deur nie te sondig nie. As jy egter op dit wat jy nie moet doen nie gefokus is – sal jy waarskynlik nie doen wat jy moet nie.

Jesus het gesê: ‘…Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie’ (Matteus 16:18 NLV). Jesus het nie gesê jy sal jou kerk bou nie. Dit is nie joune nie; dit is syne. Dit geld ook vir jou besigheid, jou skool, jou familie, ens. As jy op gehoorsaamheid gefokus is, sal Hy jou gevegte vir jou veg!

Sielskos: 1 Sam 8-10; Matt 22:15-22; Ps 21; Spr 16:16-19

Ragab: verlos en gelei

2026-06-24
Hebreërs 11:31 AFR83

Baie kan oor Ragab gesê word sonder om haar beroep te noem. Sy was ‘n Kanaäniet. Sy het aan Josua se spioene skuiling gegee. Sy het in die God van Abraham begin glo voordat sy ooit die kinders van Abraham ontmoet het. Sy is gespaar toe haar stad vernietig is. Sy het met ‘n tydgenoot van Josua getrou en ‘n seun met die naam Boas, ‘n agterkleinseun met die naam Isai, ‘n agter-agterkleinseun met die naam Dawid, en ‘n afstammeling met die naam Jesus, gehad. Ja, Ragab se naam verskyn in die stamboom van die Seun van God. Haar CV hoef nie haar beroep te noem nie.

Tog word sy in vyf van die agt keer wat sy in die Skrif genoem word, ‘n prostituut genoem. Dit word selfs saam met haar naam in Hebreërs se lys van geloofshelde, genoem (hoofstuk 11). Hierdie lys sluit Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses in – en dan skielik, ‘Ragab, die prostituut.’ Geen voetnota, geen verskoning nie. Haar verlede is deel van haar getuienis. ‘Omdat Ragab, die prostituut, geglo het… het sy nie omgekom… nie.’ Dink mooi hieroor na: haar geloofsbelydenis was belangriker as haar beroep as ‘n prostituut.

Miskien is jou verlede ‘n sondige een. Miskien deel jou portuurgroep nie jou geloof nie. Miskien is jou stamboom een van geweld en jou voorouers een van rebellie. Indien wel, is Ragab jou rolmodel. Ons laat nie skarlakenrooi toue uit ons vensters hang nie, maar ons vertrou op die bloedrooi draad van Christus se bloed. Ons berei nie vir die koms van ‘n Hebreeuse leër voor nie, maar ons leef met die oog op die wederkoms van Jesus Christus. Die God wat Ragab verlos en gelei het, sal dieselfde vir jou doen wanneer jy jou lewe aan Hom oorgee.

Sielskos: 1 Sam 4-7; Matt 22:1-14; Ps 17; Spr 16:12-15

Erken altyd jou afhanklikheid van God

2026-06-23
2 Korintiërs 3:5-6 NLV

Dr O. Hallesby het in sy klassieke boek genaamd Prayer geskryf: ‘Gebed en hulpeloosheid is onafskeidbaar. Slegs diegene wat hulpeloos is, kan werklik bid. Gebed bestaan dus eenvoudig daarin om God dag vir dag te vertel op watter maniere ons hulpeloos voel. Ons word aangemoedig om elke keer wanneer die Gees van God opnuut vir ons ons hulpeloosheid beklemtoon, te bid. Ons besef hoe magteloos ons van nature is om te glo, lief te hê, te hoop, te dien, op te offer, te ly, die Bybel te lees, te bid en teen ons sondige begeertes te stry.’

Kom ons wees duidelik: Om hulpeloos te voel, is anders as om hopeloos of waardeloos te voel; dit is bloot om ons totale afhanklikheid van God te erken. Jesus het gesê: ‘…sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). God sal jou nooit ‘n opdrag gee wat nie sy insette, sy guns en sy bemagtigende genade vereis nie. Elke aksie van God in jou lewe is ontwerp om jou afhanklikheid van Hom te verhoog. As jy dit sonder God kan doen, moet jy stop en jouself afvra: ‘Is dit werklik van God?’

Paulus het geskryf: ‘Dít is die vertroue wat ons op God stel, deur die bemiddeling van Christus. Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het…’ (2 Korintiërs 3:4-6 NLV). Dawid het al die voorregte van koningskap geniet, maar hy het geskryf: ‘Ek is arm en behoeftig, maar die Here dink aan my. U is my hulp en my redder…’ (Psalm 40:18 NLV).

Die woord vir jou vandag is dus: moet nooit, ooit jou gevoel van afhanklikheid van God verloor nie.

Sielskos: 1 Sam 1-3; Matt 21:33-46; Ps 8; Spr 16:8-11

Verhoog die standaard

2026-06-22
2 Samuel 21:21 NLV

Nadat Dawid vir Goliat doodgemaak het, het vier ander mans, insluitend sy neef Jonatan, reuse doodgemaak wat teen die Israeliete in opstand gekom het. ‘In nog ‘n geveg teen die Filistyne in Gat was daar ‘n baie groot man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, saam 24. Hy was ook uit die geslag van die Refaïete. Hy het Israel uitgedaag. Maar Jonatan, seun van Dawid se broer Samma, het hom doodgemaak’ (2 Samuel 21:20-21 NLV). Dawid het die standaard verhoog. Goliat se nederlaag, wat almal vroeër gedink het onmoontlik was, het hulle die krag gegee om hul eie reuse te oorwin.

Tot en met 1954 het niemand al ooit ‘n myl in minder as vier minute gehardloop nie. Op 6 Mei 1954, het Roger Bannister egter die afstand in 3 minute en 59.4 sekondes afgelê. Hy het die reus verslaan. Twee maande later het die Australiër John Landy Bannister se rekord gebreek en bewys dat die vier-minuut-myl net soveel ‘n sielkundige as ‘n fisiese uitdaging is. In die eerste helfte van die twintigste eeu het baie mense probeer om Mount Everest te klim en misluk. Op 29 Mei 1953 was Edmund Hillary en sy Sherpa-gids, Tenzing Norgay, die eerste mense wat die kruin bereik het. Sedertdien het meer as ‘n duisend klimmers die ekspedisie voltooi.

Dawid, Bannister en Hillary het almal reuse van hul tyd oorwin en ander geïnspireer om hul prestasies te ewenaar en daarin uit te blink. Jy doen jouself en ander ‘n onreg aan wanneer jy van jou reus wegvlug. Jy moet ophou bang wees om moeilike take aan te pak en jouself herinner: ‘As God dit voorheen gedoen het, kan Hy dit weer doen, en as Hy dit vir ander gedoen het, kan Hy dit vir my ook doen.’

Sielskos: Hooglied 5-8; Matt 21:18-32; Ps 144:9-15; Spr 16:4-7

Wees ‘n vader

2026-06-21
Maleagi 4:6 NLV

In 1985 het Tim Burke se kinderdroom waar geword toe die Montreal Expos-bofbalspan hom as ‘n gooier aangestel het, wat hom ‘n jaarlikse salaris van $600,000 besorg het. (Destyds was dit groot geld vir ‘n speler). Na vier jaar in die klein ligas is hy uiteindelik ‘n kans gegun om in die groot ligas te speel. Hy het vinnig sy waarde bewys deur ‘n rekord as ‘n nuweling-gooier op te stel.

Intussen het Tim en sy vrou, Christine, vier kinders met spesiale behoeftes aangeneem – twee dogters van Suid-Korea, ‘n gestremde seun van Guatemala en nog ‘n seun van Viëtnam. Al die kinders is met baie ernstige siektes of gebreke gebore en nóg Tim nóg Christine was voorbereid op die geweldige eise wat so ‘n gesin sou meebring.

Met die uitmergelende skedule van hoofliga-bofbal was Tim selde tuis om te help. Nadat hy sy siel deursoek het en oor sy lewe se ware prioriteite besluit het, het Tim iets gedoen wat almal verbaas het – hy het sy droomloopbaan in hoofliga-bofbal prysgegee. Toe verslaggewers hom vra om hierdie verstommende besluit te verduidelik, het hy eenvoudig gesê: ‘Bofbal sal steeds goed vaar sonder my. Maar ek is die enigste pa wat my kinders het.’

Helde is deesdae skaars. Tim Burke is een van hulle. Pa, jy kan ook een wees. Die meeste beleggings in die lewe behels risiko en kan tot spyt lei. Jy sal egter nooit ‘n oomblik spyt wees oor die liefde, tyd en moeite wat jy in jou kinders belê nie. Wees dus ‘n pa.

Sielskos: Matt 5:6; Ps 63:1-5; Rom 3:21-23

Hou aan hardloop!

2026-06-20
Habakuk 3:2 AFR83

Die Bybel vergelyk die Christelike lewe met ‘n marathon. ‘…kom ons stroop alles af wat ons spoed vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur…’ (Hebreërs 12:1-2 NLV). Paulus het aan die gelowiges in Filippi geskryf: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee…’ (Filippense 3:13-14 NLV).

Die kanse is goed dat jy nie by die wegspringplek en ook nie by die eindstreep is nie. Jy is êrens in die middel. Wanneer jy ‘n wedloop hardloop, het jy aan die begin baie entoesiasme en energie. Die einde hou ook baie belofte in terwyl ons die laaste stuk hardloop en ons doelwit bereik. Die middel van die wedloop – wanneer ons lankal verby die begin is en nie seker is hoe ver weg die einde nog is nie – is waar ons dikwels getoets word.

Daarom het die profeet Habakuk geskryf: ‘…Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word…’ Dit is in die middel van die wedloop wat ons aanmoediging nodig het en waar ons weer op die prys wat op ons wag, moet fokus. Diegene wat voor ons gehardloop het, het die aflosstokkie deur die eeue heen, van geslag tot geslag, oorgedra – sonder om dit te laat val. Wat moet jy dus doen? Neem die aflosstokkie, hardloop en hou aan hardloop!

Sielskos: Hooglied 1-4; Matt 21:1-17; Ps 144:1-8; Spr 16:1-3