Geestelike paaie (6)

2026-07-01
Psalm 62:2 ABA

Die pad van besinning. Mense wat op die besinningspad is, is lief vir stilte en ononderbroke alleentyd. Jou ouers het jou heel waarskynlik as kind aangemoedig om meer saam met die ander kinders buite te gaan speel. Nabetragting kom natuurlik vir jou. Jy voel dikwels soos ‘n waarnemer van die lewe.

Hier is ‘n paar Skrifgedeeltes waarmee jy maklik identifiseer: ‘…Oordink dit in die nag op jou bed en wees rustig. Sela’ (Psalm 4:5 NLV). ‘Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie’ (Psalm 37:7 NLV). ‘Wees stil en weet Ek is God!’ (Psalm 46:11 NLV). ‘Ek kan net by God stil wees, dit is Hý wat my red.’

Jy voel God se teenwoordigheid die beste aan wanneer afleidings en geluide uit jou omgewing verwyder word. Beelde, metafore en prente help jou terwyl jy bid. As jy te besig raak of te veel tyd saam met ander mense deurbring, begin jy uitgeput voel. Jy benodig nie veel eksterne stimulasie nie. Om tyd te maak om alleen en in stilte na God te luister, is noodsaaklik vir jou siel se gesondheid en om ‘n verdiepende gevoel van sy teenwoordigheid te ervaar. Jy benodig gereelde, intense, onversteurde tyd alleen saam met God.

Hier is egter ‘n woord van waarskuwing uit die Skrif: ‘Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê’ (1 Johannes 4:11 NLV). Liefde verg tyd en moeite. Soms vereis dit opoffering. Een van die beste maniere om jou liefde vir God te bewys, is om dit aan die mense rondom jou, wat God liefhet, te betoon.

Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Matt 23:23-39; Ps 98; Spr 17:1-3

Geestelike paaie (5)

2026-06-30
Prediker 9:10 NLV

Die aktivispad. Wanneer jy op hierdie geestelike pad is, het jy ‘n hoë vlak van energie. Die volgende mag dalk een van jou gunsteling Skrifgedeeltes wees: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ Een van die gevare om egter deur die aktivispad met God te skakel, is dat ‘n groot deel van jou beweegrede selfvervulling en selftevredenheid kan wees. Daarom het Paulus geskryf: ‘So moet julle ook, as julle julle toelê op die gawes van die Gees, daarop konsentreer om uit te munt in dié gawes wat die gemeente opbou’ (1 Korintiërs 14:12 NLV).

Wanneer jy ‘n aktivis is, hou jy van ‘n vinnige, probleemgevulde, komplekse, inspannende lewenswyse. Aan die einde van die dag wil jy kan sê: ‘Ek het regtig hard gehardloop. Ek het elke greintjie moeite en ywer tot my beskikking gebruik tot eer van U, God.’ Een Bybelse voorbeeld van ‘n aktivis is Nehemia. Toe hy hoor dat die mure van sy geliefde Jerusalem in puin lê, het hy geween, gebid, die koning gesmeek vir die hulpbronne om dit te herbou en toe sy moue opgerol en aan die werk gespring. As jy ‘n aktivis is, het jy ‘n saak nodig. Daarsonder sal jou geestelike lewe stagneer.

Hier is egter ‘n woord van waarskuwing: Moenie so opgewonde oor jou saak raak dat jy oor mense se koppe gaan of hulle uitbuit nie. Nog ‘n woord van waarskuwing: Wanneer jy ‘n aktivis is, kan dit soms moeilik wees om God se ware roeping van jou eie sterk impulse tot aksie, te onderskei. Indien dit die geval is, neem ekstra tyd om te bid en van God te hoor en maak seker dat jy ‘n gekwalifiseerde vriend in jou lewe het wie se raad jy kan vertrou.

Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Matt 23:13-22; Ps 95; Spr 16:31-33

Geestelike paaie (4)

2026-06-29
Psalm 122:1 NLV

Die aanbiddingspad. Wanneer jy op die aanbiddingspad is, vind jy aanklank by die Psalmdigter: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: ‘Kom ons gaan na die huis van die Here.'” Iets diep binne jou voel of dit vrygemaak word wanneer jy die Here lofprys. Jou hart gaan oop en jy word lewendig. Jy bevind jouself in trane en ander kere in oomblikke van diepe vreugde, want God voel so naby. Hier is egter twee waarskuwings as jy op hierdie pad is:

1) Moenie mense oordeel wat nie so openlik uiting aan hulle gevoelens gee nie. Sommige van hulle het grootgeword in kerke waar niemand ‘n vinger opgesteek het nie, wat nog te sê van ‘n hand in aanbidding.
2) Waak teen ‘n geestelikheid wat net op ervarings gebaseer word en jou altyd na die volgende ‘aanbiddingshoogtepunt’ laat soek. C.S. Lewis het ons gewaarsku oor die noodlottige sonde om die heeltyd ‘Encore!’ te sê en te eis dat God ‘n ervaring of ‘n emosie moet reproduseer. Hy het gesê dat van alle gebede, God die minste geneig mag wees om hierdie gebed te verhoor, omdat dit kan veroorsaak dat ons die ervaring, eerder as God, begin aanbid.

Omdat musiek ons gevoelens so kragtig beïnvloed, kan ons daarvan afhanklik raak om ‘n sekere emosionele reaksie te produseer. In hierdie geval moet jy dalk tyd bestee om God sonder musiek te aanbid, sodat jou aanbidding op wie God is gebaseer word en dit nie net ‘n geval is waar jy deur sekere klanke meegesleur word nie. Jy moet dalk ook probeer om meer Bybelstudie te doen, sodat jou hart diep in die kennis van God gewortel is.

Sielskos: 1 Sam 16-17; Matt 23:1-12; Ps 64; Spr 16:27-30

Geestelike paaie (3)

2026-06-28
Psalm 119:59 NLV

Die pad van diens. Op die pad van diens vind jy dat God se teenwoordigheid die tasbaarste is wanneer jy ander mense help. Jy identifiseer met die woorde van Jesus: ‘…Ek verseker julle: as julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen’ (Matteus 25:40 NLV). Jy mag dalk ook vind dat jy ongemaklik voel in ‘n omgewing waar jy nie ‘n rol het om te speel of ‘n diens het om te verrig nie.

‘n Voorbeeld hiervan is Dorkas, van wie die Bybel sê: ‘…Sy was altyd besig om aan ander goed te doen en armes te help’ (Handelinge 9:36 NLV). Moeder Teresa sou ‘n moderne eweknie van Dorkas gewees het. Sy was nie so betrokke by diensbaarheid omdat dit iets was wat sy veronderstel was om te doen nie, maar omdat dit haar vreugde gebring het. Sy het dikwels haar eie ontoereikendheid gevoel wanneer sy alleen was; maar sy het nooit die teenwoordigheid van Jesus sterker gevoel as in die teenwoordigheid van diegene wat sy gedien het nie.

Mense op hierdie pad vind dat as hulle kerk bywoon, maar geen plek het om te dien nie, God ver verwyderd begin voel. Twee gevare wat jy in die gesig staar as jy op die pad van diens is, is: 1) Jy sal in die versoeking kom om ander te oordeel wat nie soveel soos jy dien nie. 2) Jy kan so vasgevang daarin raak om God se dienaar te wees, dat jy vergeet dat jy sy geliefde en verloste kind is. Daarom moet jy leer om liefde te ontvang sowel as om dit aan te bied.

Sielskos: Matt 5:7; Ps 103:8-18; 1 Pet 1:3

Geestelike paaie (2)

2026-06-27
Psalm 119:35 NLV

Die verhoudingspad. Mense wat die verhoudingspad volg, vind dat hulle ‘n diep gevoel van God se teenwoordigheid ervaar wanneer hulle by betekenisvolle verhoudings betrokke is. Jesus se woorde: ‘Waar twee of drie bymekaarkom omdat hulle my mense is, is Ek immers ook saam met hulle daar’ (Matteus 18:20 NLV), maak volkome sin vir die mens op die verhoudingspad.

Wanneer jy op die verhoudingspad is, mag jy skuldig voel wanneer jy ander mense oor lang periodes van afsondering in God se teenwoordigheid hoor praat en dink: ‘Afsondering sou nie so erg wees as ek net ‘n klomp ander mense kon saamvat nie.’ Jy het al dikwels belangrike geestelike oomblikke ervaar, soos om van sonde oortuig te word of aangemoedig te word om te volhard, soos God met jou deur ander mense praat. Jy is baie meer geneig om gebed of dade van diensbaarheid te beoefen wanneer jy dit in ‘n verhoudingskonteks kan doen.

Wanneer jy op die verhoudingspad is, is jy geneig om God meer in ‘n gesprek as uit ‘n boek uit met jou te hoor praat. Daar is egter twee gevare waarteen jy moet waak. Een is oppervlakkigheid – om jouself so dun verhoudingsgewys te versprei dat niemand verby jou uiterlike kan kom om jou diep te ken, lief te hê en uit te daag nie. Die tweede is om so afhanklik van die gedagtes en raad van ander te word, dat jy nie die sensitiwiteit en vermoë ontwikkel om God self te hoor nie. “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs'” (Jesaja 30:21 NLV).

Sielskos: 1 Sam 14-15; Matt 22:34-46; Ps 59:9-17; Spr 16:23-26

Geestelike paaie (1)

2026-06-26
Psalm 119:5 NLV

‘n Geestelike pad het te make met die manier waarop jy God se teenwoordigheid die natuurlikste aanvoel en geestelike groei ervaar. Ons almal het ten minste een pad wat ons maklik vind. Daar is enorme vryheid daarin om jou geestelike pad te identifiseer en te omarm. Dit beteken dat jy op hierdie manier waarop jy met God skakel, kan fokus. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na verskillende geestelike paaie en of ons joune kan bepaal.

Kom ons kyk eerstens na die intellektuele pad. Wanneer jy op hierdie pad is, beweeg jy nader aan God soos jy meer van Hom leer. Jy is lief daarvoor om die Skrif te bestudeer. Wanneer jy kerk toe gaan, wag jy vir die musikale aanbidding om te eindig sodat die preek kan begin. Wanneer jy met ‘n krisis of ‘n geestelike uitdaging gekonfronteer word, is jy geneig om analities die probleem te probeer oplos. Jy identifiseer met die woorde van Jesus toe Hy gesê het: ‘…Jy moet die Here jou God liefhê met… jou hele verstand…’ (Lukas 10:27 NLV).

Die gevaar van hierdie pad lê daarin om slegs ‘n verstand en geen hart te word nie. Daarom het Paulus geskryf: ‘…Kennis laat ‘n mens belangrik voel; die liefde, daarenteen, bou ‘n gemeente op. As jy dink jy weet alles, het jy nog nie ware kennis nie. Maar as jy vir God liefhet, dan ken God jou en jy is vir Hom belangrik’ (1 Korintiërs 8:1-3 NLV). Maak dus seker dat jou groei in kennis met groei in nederigheid en liefde gebalanseer word.

Sielskos: 1 Sam 11-13; Matt 22:23-33; Ps 59:1-8; Spr 16:20-22