Breek uit die boks uit
2023-07-31Psalm 78:41 NLV
Die Bybel sê: ‘Hoe dikwels het hulle in die woestyn teen Hom in opstand gekom, en het hulle in die woesteny sy hart bedroef! Weer en weer het hulle God getart en die Heilige van Israel gepynig. Hulle het vergeet van sy mag, van die dag toe Hy hulle verlos het van die vyand’ (verse 40-42 NLV). Die Israeliete het aanhoudend in die woestyn God se toorn uitgedaag en sy hart gepynig. Hoe het hulle dit gedoen? Deur Hom te beperk! Hulle het dit wat Hy vir hulle en deur hulle kon doen, beperk.
Ons doen dieselfde wanneer ons nie die gawes en kreatiewe gedagtes wat Hy vir ons gee, herken en gebruik nie. God wil hê dat jy uit die ‘boks’ van jou eie geskiedenis, emosionele kwessies en persoonlike beperkings moet breek. Een van die maniere hoe jy dit kan doen, is om jouself aanhoudend aan nuwe idees, plekke en mense bloot te stel. God se Woord sê: ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in. Want jy sal na links en regs uitbrei…’ (Jesaja 54:2-3 NLV).
Kreatiwiteit is net onderrigbaarheid. Is jy dus onderrigbaar? Die woorde op ‘n grafsteen het gelees: ‘Gesterf op veertig, eers op tagtig begrawe.’ Tensy jy aanhou leer, groei en jou denke uitbrei, kan dit ook jou lot wees. Jy sê: ‘Maar ek is nie van nature kreatief nie.’ Kreatiwiteit is nie noodwendig iets waarmee jy gebore word nie; dit kom vanuit die ontwikkeling van jou Godgegewe gawes en die aangryp van die geleenthede wat Hy oor jou pad stuur. Wil jy uit die boks breek? Dís hoe jy dit doen!
Sielskos: Hand 27-28; Mark 1:9-20; Ps 78:9-16; Spr 16:25