Bou ‘n verhouding met jou kinders
2023-04-26Psalm 127:1 NLV
Hoe sal jy jou verhouding met jou kinders beskryf? Gespanne? Opwindend? Hartverskeurend? Genotvol? As jy verras wil wees, vra hulle om hul gevoelens oor jou en hulle huis te beskryf. Wees gewaarsku, jy mag dalk nie hou van wat hulle sê nie! ‘n Christelike huis vrywaar jou nie noodwendig nie. Ons ou natuur steek nog steeds van tyd tot tyd sy kop uit en vasgestelde gewoontes kan tot gebroke kommunikasie lei. Wanneer Bybelse beginsels geïgnoreer word, is die gevolg daarvan pyn en spanning in die familie.
Die volgende is voorbeelde daarvan: 1) Rebekka het haar seun Jakob liewer as sy broer Esau gehad, dus het sy hom gebruik om hulle vader, Isak, te mislei, wat skeuring in die familie veroorsaak het (sien Genesis 27). 2) Eli, die hoëpriester, het nie sy seuns gedissiplineer nie en op die ou einde het dit hom sy lewe gekos (sien 1 Samuel 3-5). 3) Dawid het een ding gepreek en ‘n ander ding gedoen en sy kinders (soos kinders geneig is om te doen), was meer deur wat hy gedoen het as dit wat hy gesê het, beïnvloed (sien 2 Samuel 11, 13, 15-16; 1 Konings 11). Niemand is immuun nie; nie Dawid nie, nie Rebekka nie, nie Eli nie – nie jy nie!
Die evaluasie is egter nutteloos as dit tot skuldgevoelenes sonder optrede lei. Wat moet jy dus doen? Neem tyd om nader aan jou kinders te beweeg. Ruim die struikelblokke tussen julle uit die weg uit. Jy kan niks verander tensy jy gewillig is om dit te erken nie – en soms moet verandering by jou begin. Byvoorbeeld, moet jy jou houding aanpas? Wat van jou prioriteite? Wat van die voorbeeld wat jy deesdae stel? Voor jy probeer om jou kinders te hanteer, vra God om jou eers te hanteer.
Sielskos: Dan 5-7; Matt 4:8-17; Ps 7:10-17; Spr 10:17-18