Bou goeie verhoudings
2022-10-25Filippense 2:4 NLV
Paulus skryf: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (verse 3-4 NLV). Dit beteken dat jy die volgende vyf dinge moet doen:
1) Stel opreg in ander mense belang. ‘As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle. As hulle hartseer is, deel dit met hulle’ (Romeine 12:15 NLV). Jy kan dit slegs doen wanneer jy die moeite doen om uit te vind wat in iemand anders se wêreld aangaan.
2) Wees opgewek. ‘Blydskap laat ‘n mens se gesig straal. Hartseer maak ‘n mens terneergedruk’ (Spreuke 15:13 NLV). Moenie jou probleme op iemand anders afpak nie, hulle het genoeg van hul eie. Neem jou probleme eerder in gebed na die Here toe.
3) Wees versigtig wat jy sê en sê altyd minder as wat jy dink. “‘n Dwaas bars uit in woede. Iemand wat wys is, hou homself in toom” (Spreuke 29:11 NLV). Wees altyd vriendelik en hoflik, omdat hoe jy iets sê net so belangrik is as wat jy sê.
4) Wees betroubaar. Die Bybel sê: ‘…gedurende die laaste dae… sal… mense… hulle vriende verraai…’ (2 Timoteus 3:1-4 NLV), maar jy hoef nie hierdie profesie te vervul nie. Streef daarna om ‘n persoon te wees wie se woord betekenis het.
5) Wees ‘n bemoediger. Barnabas was bekend as ‘n motiveerder, want hy het mense ‘…aangespoor om lojaal aan die Here te bly’ (Handelinge 11:23 NLV). Selfs ‘n glimlag kan wondere verrig. Job het gesê: ‘Wanneer hulle moedeloos was, het ek hulle met ‘n glimlag bemoedig. Wanneer ek met goedkeuring na hulle kyk, was dit vir hulle kosbaar’ (Job 29:24 NLV). Soms is dit so eenvoudig!
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 6:1-15; Ps 126; Spr 24:10