Blinde toeval teenoor God se opdrag (2)
2024-01-06Hebreërs 11:3 NLV
Gepraat van ons wonderlike liggame – wat van DNA? Elke menslike sel (tot 100 triljoen) bevat ‘n databasis wat groter as die Encyclopedia Britannica is! Kon dit alles toevallig ontstaan het? Die Engelse fisikus, Paul Davies, maak die volgende vergelyking: ‘Dit is soos om ‘n stok dinamiet onder ‘n hoop bakstene te laat ontplof en te verwag dat dit ‘n huis sal bou. Jy kan genoeg energie vrystel om die stene te beweeg, maar sonder om die energie op ‘n beheerde manier aan die stene te koppel, is daar min hoop om enigiets anders as ‘n chaotiese gemors te produseer.’
Dit verg duidelik meer as ‘n hoop stene om ‘n huis te bou. Die argitek se intellek en die bouer se vaardighede is sleutelkomponente. Dis dieselfde as dit by die kompleksiteite van ‘n menslike wese kom. Die kans is nul dat al die nodige elemente wat nodig is om menselewe te begin, eenvoudig terselfdertyd op dieselfde plek op aarde bymekaar gekom het. Selfs al kon dit so plaasgevind het, kon blinde toeval nie daardie 100 triljoen selle in die volgorde wat nodig is om lewe te produseer, saamgevoeg het nie.
Die vooraanstaande wetenskaplike, Francis Crick, is nie bekend vir sy geloof nie, maar selfs hy het gesê: ‘Die oorsprong van lewe blyk amper ‘n wonderwerk te wees, so baie is die voorwaardes wat bevredig moet word om dit aan die gang te kry.’ Wat is die wonderwerk? Die Psalmdigter het gesê: ‘U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so wonderlik gemaak het…’ (Psalm 139:13-14 NLV). Dis die wonderwerk!
Sielskos: Lev 5-7; Matt 3:1-10; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19