Blinde toeval teenoor God se opdrag (1)

2024-01-05
Psalm 139:14 NLV

Kon die lewe soos ons dit ken – plant, dier en menslike lewe – spontaan deur toeval ontstaan het? Kon ons wonderlike sonnestelsel die gevolg van ‘n ongeluk gewees het? Hoe meer gevorderd die wetenskap raak, hoe meer bewyse is daar van ‘n Meesterontwerper. Navorsers ontdek aanhoudend die goddelike ontwerp in elke klein menslike sel.

Die Amerikaanse biochemikus Bruce Alberts, die voormalige president van die Nasionale Akademie van Wetenskap, skryf: ‘Ons het nog altyd selle onderskat; ons doen dit ongetwyfeld nog steeds. Selle is die basiese boublokke van lewe. Die hele sel kan inderdaad as ‘n fabriek wat ‘n uitgebreide netwerk van verskillende proteïenmasjiene in vaste posisies het, beskou word.’

Die Psalmdigter Dawid was nie ‘n wetenskaplike nie, maar tog het hy besef dat elkeen van ons die komplekse produk van God se wonderbaarlike hande is! ‘U het self my diepste wese gemaak… My beendere was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is… Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!.. As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal U nog by my wees’ (verse 13, 15-18 NLV).

Die gemiddelde menslike hart klop 115,000 keer per dag. Ons bloed beweeg ongeveer 19,300 kilometer elke dag. Volwassenes neem gemiddeld 18,000 tot 30,000 asemteue elke dag en al hierdie funksies neem meestal plaas sonder dat ons daarvan bewus is. Dis fantasties! Neem vandag ‘n paar minute om jou Skepper te erken en te dank vir hoe wonderbaarlik Hy jou gemaak het.

Sielskos: Lev 1-4; Matt 2:19-23; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16