Bid volgens God se wil
2020-08-27Jakobus 4:3 NLV
Wanneer jy vir ‘n geliefde se verlossing bid, hoef jy nooit te wonder of dit in God se wil is nie. Sy wil word duidelik in die Skrif uitgespel: ‘want Hy wil dat almal gered word en die waarheid verstaan’ (1 Timoteus 2:4 NLV). Wanneer dit egter by dinge kom wat nie duidelik in die Skrif beloof word nie, moet jy sê: ‘As dit u wil is.’ Hoekom? Omdat die Bybel sê: ‘En selfs wanneer julle vra, kry julle dit nie omdat julle motiewe verkeerd is…’ Soms sukkel ons om hierdie waarheid te aanvaar, omdat ons oortuig is dat ons versoeke geregverdig is. Indien jou hart egter nie suiwer teenoor God is en jou wil in lyn met syne is nie, word jou motiewe deur selfbelang verkleur. Johannes sê: ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV). Wanneer jy vir iets bid wat jy nie seker is in lyn met God se doelstellings is nie, moet jy bid: ‘As dit u wil is.’ Dit beteken nie dat jou geloof swak is wanneer jy sê: ‘Here, ek wil hierdie ding hê – as dit u wil is, by u planne inpas, u beste vir my is en volgens u tyd plaasvind.’ Paulus sê: ‘…nou maak ons maar stuk-stuk uit van God en alles wat Hy vir ons doen en beteken…’ (1 Korintiërs 13:12 DB). Ons sien net ‘n gedeeltelike prentjie, maar God het volkome kennis van die situasie, van begin tot einde. Bid dus in geloof en vertrou God vir die regte resultate.
Sielskos: Gal 4-6; Luk 18:1-17; Ps 119:161-168; Spr 19:3-8