Bewys genade aan diegene wat anders as jy is

2023-04-10
2 Petrus 3:18 AFR83

Dink hoeveel gelukkiger en energiek jy sou wees as jy nie probeer om mense te beheer en hulle reg te ruk nie. Een skrywer sê: ‘Gee jou geliefdes die waardigheid om hulle eie foute te maak en daaruit te leer. As jy altyd in iemand anders se besigheid rondgrawe, gaan jy nie net uitbrand nie, jy verhinder God om in hulle lewens te werk… hulle behoort aan Hom, nie aan jou nie!’

Toe wettiese Joodse gelowiges in die Nuwe Testament probeer het om kosjer wette op nie-Joodse gelowiges af te dwing, het Paulus geskryf: ‘Dié wat vrymoedigheid het om alles te eet, moet nie uit die hoogte neersien op hulle wat dit nie doen nie. Net so moet die nie-eters die eters nie veroordeel nie, want God het hulle by Hom verwelkom’ (Romeine 14:3 NLV). Net omdat jy nie vry voel om iets te doen nie, gee dit jou nie die reg om diegene wat dit doen te veroordeel nie – tensy dit duidelik in die Skrif verbied word.

Gladys M. Hunt skryf: ‘Aanvaarding beteken dat jy kosbaar is net soos jy is. Jy kan praat oor hoe jy voel en hoekom – en iemand gee regtig om. Jy kan nuwe idees opper sonder om afgeskiet te word. Jy kan selfs ketterse gedagtes uitdruk en dit met intelligente bevraagtekening bespreek. Jy voel veilig. Niemand sal oordeel uitspreek nie, selfs al stem hulle nie met jou saam nie. Dit beteken nie dat jy nooit tereggewys sal word nie, dit beteken eenvoudig dat dit veilig is om jouself te wees.’

Wanneer dit by die waarheid kom, staan vas! Wanneer dit egter by nie-noodsaaklikhede soos persoonlike voorkeure, gebruike en tradisies kom, behoort elkeen ‘…seker te maak van sy eie oortuiging in hierdie verband’ (Romeine 14:5 NLV).

Sielskos: Lev 13:38-14:57; Luk 24:13-18; Ps 50:1-15; Spr 9:13-16