Bewys dat jy getrou is
2022-06-10Daniël 3:29 NLV
Die verhaal van die drie Hebreeuse kinders in die vlammende oond leer ons die volgende vier lesse: 1) Om God se wil te doen, kan jou in die moeilikheid laat beland. Moenie verwag dat die wêreld jou gaan waardeer nie. Kyk na Jesus: ‘In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as lig vir die mense. Die lig verlig die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie’ (Johannes 1:4-5 NLV).
2) God sal by jou in jou moeilikheid wees. Toe Nebukadneser in die vlamme gekyk het, het hy gesê: ‘…Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ‘n bo-aardse wese’ (Daniël 3:25 NLV). In plaas daarvan om hulle te verbrand, het die vuur die toue wat hulle vasgebind het, verbrand en hulle vry gemaak. Hou moed! Dit mag dalk lyk of omstandighede jou vasgebind het, maar God sal jou as oorwinnaar daaruit bring.
3) Dis jou moeiliheid wat jou getuienis voortbring. Mense hou jou dop. Die dinge waarop hulle vertrou werk nie en hulle wonder of dit waarop jy vertrou, dalk werk. Jou getrouheid aan God en sy ingryping namens jou sal hulle lewens aanraak soos jou teologie nooit kan nie. Almal in die provinsie van Babel het geweet wat die Hebreeuse kinders geglo het. Hulle wou egter ook weet: ‘Werk dit wanneer jy in die vlamme is?’ Dit doen!
4) Hoe groter jou moeilikheid, hoe groter jou seën. ‘Daarna het [die koning] Sadrag, Mesag en Abednego bevorder en nog hoër posisies aan hulle in die provinsie van Babel gegee’ (vers 30 NLV). Hier is ‘n Skriftuurlike beginsel waarop jy kan staat maak: As jy bewys dat jy in moeilike tye getrou is, sal God jou tot hoër vlakke van seën bevorder.
Sielskos: Op 10-14; Matt 16:1-12; Ps 48; Spr 13:2-3