Beweeg verby die raaiwerk (1)
2023-03-02Filippense 2:13 NLV
Onthou jy die kinderspeletjie ‘Steek Vas die Donkie se Stert’? Om daardie speletjie te wen was net ‘n ‘skoot in die donker’. Baie van God se kinders gebruik ‘n soortgelyke metode om God se wil en doel vir hulle lewe te ontdek. Dit hoef egter nie so te wees nie. Hier is ‘n paar Skriftuurlike stappe wat jy kan neem om die raaiwerk uit die proses te neem:
1) Wy jouself daaraan toe om God se wil te gehoorsaam. Dis onmoontlik om God se wil te verstaan totdat jy jouself daaraan toewy om dit onvoorwaardelik te gehoorsaam. Enige begeerte om jou eie wil te behou, maak jou blind vir sy wil. Vertrou dat God lief is vir jou, die beste vir jou wil hê en dat wanneer jy jouself aan Hom onderwerp, jy ‘…goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).
2) Luister na die Skaapwagter se stem en plaas jou vertroue daarop. Jesus los jou nie alleen om uit te pluis wat sy wil vir jou lewe is nie. Hy is ons Goeie Skaapwagter en ‘…die skape luister fyn na sy stem… en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NLV). Met tyd en ervaring, sal jy ook leer om God se stem te ken.
Soos Abraham homself aan God se wil onderwerp het sonder om te weet waarheen hy gelei sou word, so word jy geroep om jou wil oor te gee sonder om te weet waarheen Hy jou lei. God beloof wysheid, insig en begrip – nie aan mense wat geestelik slim is nie, maar aan enige persoon wat wysheid kort (sien Jakobus 1:5-6). Glo dus dat sy wysheid joune is!
Sielskos: Eks 13-15; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25