Betroubaarheid (4)
2023-02-08Klaagliedere 3:23 DB
Betroubaarheid kan die nederigste werk in ‘n uiters belangrike een verander. Dink byvoorbeeld aan hoe afhanklik ons van iets kleins soos ‘n posseël is. Dis altyd gereed vir diens. Dit gaan waar dit gestuur word. Dit doen wat daarvan gevra word. Dit hou aan met die taak tot dit voltooi is. Dit bly op datum. Geen taak is te klein daarvoor nie.
Ons is nie almal met dieselfde talente gebore nie; sommige van ons is in sekere areas meer talentvol as ander. Elkeen van ons is egter met dieselfde verantwoordelikheid om ons vermoëns ten volle aan te wend, gebore. Dis die minste wat enigeen van ons kan doen – en dis wat God, wat ons talente vir ons gegee het, van ons verwag.
Tweehonderd jaar gelede toe die Amerikaanse vloot gestig is, het amptenare lank oor ‘n geskikte leuse gedink. Uiteindelik het hulle op die Latynse frase: Semper fidelis, besluit, ‘n frase wat deesdae in elke seesoldaat se gedagtes gegraveer is. Wat beteken dit? ‘Altyd betroubaar’! Beide is belangrike woorde, maar die belangrikste is die eerste woord: altyd. Hoekom? Omdat ‘n seesoldaat dit nie kan bekostig om slegs betroubaar te wees wanneer dit gemaklik of gerieflik is, of wanneer hy lus is, of wanneer dit hom gelukkig maak nie. Semper fidelis beteken dat jy altyd betroubaar moet wees – ten spyte van die koste daaraan verbonde.
God wil dieselfde van jou sê as wat van Hom gesê word: “‘n Mens kan altyd op U vertrou…” Of jy dus nou ‘n baas, ‘n werknemer, ‘n ma of pa, ‘n man of vrou, ‘n vriend, spanmaat of ‘n seesoldaat is, die woord vir jou vandag is: Wees altyd betroubaar.
Sielskos: Gen 35-36; Luk 8:40-56; Ps 125; Spr 4:3-4