Betroubaarheid (3)

2023-02-07
Lukas 16:10 NLV

Pastoor James Merritt het gesê: ‘Die ander dag het ek vir my pragtige vrou gevra of sy as gevolg van my aantreklike gesig met my getrou het. Sy het geantwoord: ‘Nee, ek het oor jou brein met jou getrou – dis die klein dingetjies wat saakmaak!’ Merrit het natuurlik gegrap. Wat regtig in die lewe saakmaak, is getrouheid in die klein dingetjies; dis hoe betroubaarheid begin, groei en volwasse word.

Longfellow het geskryf: ‘Die meeste mense sou sukses behaal het, as hulle nie met groot ambisie gemoeid was nie.’ Soms dink ons dat ons te groot vir klein dinge is; ons sal onsself eerder met dit wat ons as groter, belangriker sake sien, ophou. Hier is egter soos Jesus dit sien: ‘As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. As jy selfs ‘n klein bietjie oneerlik is, sal jy nie eerlik wees met groot verantwoordelikhede nie. En as jy onbetroubaar is met wêreldse rykdom, wie sal julle vertrou met die werklike rykdom van die hemel? En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word?’ (verse 10-12 NLV).

As jy sukses in jou werk wil behaal, kom betyds by die werk aan; hou aan met die taak totdat dit klaar is; wanneer jy sien dat iets gedoen moet word, doen dit – selfs al is dit nie in jou posbeskrywing nie. Gee ‘n eerlike dag se werk vir ‘n eerlike dag se salaris; neem jou etensuur, nie ‘n drie-uur lange betaalde vakansie nie; rapporteer jou uitgawes eerlik; ondersteun die span en handhaaf die maatskappy se reputasie. Met ander woorde, wees betroubaar by die werk. ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ (Prediker 9:10 NLV). Dis die soort betroubaarheid wat God eer.

Sielskos: Gen 32-34; Luk 8:26-39; Ps 67; Spr 4:1-2