Besluitneming bou karakter
2024-09-17Genesis 12:1 NLV
Een skrywer sê: ‘Wil jy die tipe kinders hê vir wie jy hulle hele lewe lank moet sê: ‘Trek hierdie klere aan. Neem hierdie klasse. Gaan na daardie skool toe. Doen vir hierdie werk aansoek. Trou met daardie persoon. Koop hierdie huis.’ Kinders wat altyd moet doen wat jy vir hulle sê solank as wat hulle lewe? Nie? Hoekom nie? Omdat jou hoofdoelwit is dat hulle mense van goeie karakter en oordeel moet word. Die enigste manier vir hulle om so te word is deur baie besluite te neem. Natuurlik beteken dit dat hulle ook baie verkeerde besluite sal neem. Dit is egter die beste manier hoe hulle sal leer.
Dikwels sal God se wil vir jou wees: ‘Ek wil hê jy moet besluit,’ omdat besluitneming ‘n onontbeerlike deel van karaktervorming is.’ Abraham het nie gesê: ‘Here, presies waarheen neem U my? Hoe lyk die ekonomie daar? Hoe is die werksgeleenthede en huismark? Is daar goeie mediese fasiliteite en skole?’ nie. Die Bybel sê: ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland’ (Hebreërs 11:8 NLV). Abraham het besluit om God te volg en God met alles anders te vertrou. Hy het gevolglik bo uitgekom!
God beloof nie om ons detail te gee nie, maar wel wysheid. ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee…’ (Jakobus 1:5 NLV). Hoekom doen God dit so? Omdat besluitneming karakter bou.
Sielskos: Neh 11-13; Luk 22:14-23; Ps 78:56-64; Spr 24:5-9