Berei jouself voor

2024-02-16
2 Konings 3:16 DB

Alle goeie dinge kom nie vir diegene wat geduldig wag nie, maar vir diegene wat voorberei. Daar is ‘n goeie illustrasie hiervan in 2 Konings 3. As deel van God se strategie om die Moabiete te oorwin, het Hy vir die Israeliete gesê om gate in die vallei te maak, wat Hy met water sou vul totdat dit ‘n magtige rivier sou word. Hulle het dit gedoen en ‘n wonderbaarlike oorwinning behaal. Moet egter nie die punt hier mis nie. God het gesê: ‘Wanneer julle die gate gemaak het, dan sal Ek dit vul!’ (sien vers 17 DB).

God kan enigiemand gebruik, maar Hy doen nie; Hy gebruik voorbereide mense. Moses het 120 jaar oud geword. Die eerste veertig jaar van sy lewe het hy in ‘n paleis deurgebring, die tweede veertig jaar van sy lewe het hy in die woestyn deurgebring en die laaste veertig jaar het hy bestee deur sy Godgegewe opdrag te vervul. Twee-derdes van sy lewe het hy in voorbereiding deurgebring!

Wat gebeur wanneer jy nie voorbereid is nie? Die dinge wat jy hoop nie sal gebeur nie, gebeur. Dikwels is die skeidingslyn tussen wen en verloor voorbereiding! Paulus se bediening begin met hierdie woorde: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). God neem hom dan vir die volgende drie jaar na die woestyn toe om hom te leer en vir sy bediening voor te berei.

Of jou roeping nou geestelik of sekulêr is, jy moet weet wat dit in terme van tyd, inspanning en hulpbronne gaan kos en dan daarvolgens voorberei. ‘Met wysheid word ‘n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou’ (Spreuke 24:3 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – berei jouself voor.

Sielskos: Heb 1-4; Matt 13:36-46; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24