Berei jou kinders vir die onstuimige jare voor
2024-01-23Psalm 139:14 NLV
Vir jou kind om te kan floreer en selfwaarde te kan hê, moet hulle vier dinge verstaan:
1) Hoe God oor hulle voel. Die Psalmdigter sê: ‘…Aan sy liefde is geen einde nie’ (Psalm 136:1 NLV). Hierdie wete is die fondasie van jou kind se geestelike ontwikkeling en hul verhouding met God.
2) Hoe jy oor hulle voel. Laat hulle verstaan dat alhoewel jy hulle korrigeer, jy hulle nooit sal verwerp nie.
3) Hoe hulle oor hulself voel. Die pynlikste aspek van grootword hou verband met die aanslag op hulle selfbeeld wat amper universeel onder vandag se tieners voorkom. Jong mense voel tipies soos dwase en mislukkings voor hulle nog ‘n kans gehad het om met hulle lewe te begin. Jy moet hulle dus laat verstaan dat hulle nog besig is om te ontwikkel en ongelooflike potensiaal het. ‘U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het…’ (Psalm 139:13-14 NLV). Help hulle om hulle Godgegewe gawes te ontdek en te ontwikkel – elektronika, die kunste, musiek of selfs om hase vir pret en wins groot te maak. Enigiets! Dit gaan nie soseer daaroor wat jy jou kind leer nie; die sleutel daarin is dat hulle iets leer waarmee hulle kan antwoord wanneer dit vir hulle voel of die wêreld vra: ‘Wie is jy en wat beteken jy vir die wêreld?’ Die tiener wat geen antwoord op hierdie vrae het nie, word op ‘n baie kwesbare tyd in die lewe onbeskerm gelaat. Dus is die ontwikkeling en slyp van vaardighede een van die waardevolste bydraes wat jy as ouer kan maak.
4) Hoe hulle maats oor hulle voel. As hulle hul goedkeuring gee, is dit goed. As hulle dit egter nie gee nie en jy het die eerste drie dinge reggekry, sal jou kind steeds floreer.
Sielskos: Dan 11-12; Matt 8:10-17; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2