Bely jou sondes aan God

2024-06-15
Psalm 32:5 NLV

In die Skrif word die woord ‘belydenis’ uit twee Griekse woorde saamgestel: homo, wat ‘dieselfde’ beteken en logeo, wat ‘om te praat,’ beteken. Daarom, om jou sonde voor God te bely, beteken om dieselfde as wat Hy daaroor sê, te sê. Nêrens verwys die Bybel na ons sondes as foute, slegte oordeel of glipsies nie. Dit sê egter duidelik dat God ons sonde vergewe: ‘Ek… is die Een wat julle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie’ (Jesaja 43:25 NLV). Kom ons wees dus duidelik:

1) Belydenis gaan nie daaroor om verskoning te vra nie. Om jammer te sê is van tyd tot tyd toepaslik en noodsaaklik. Jy kan egter nooit jammer genoeg wees om God se vergifnis te verdien nie. Belydenis gaan daaroor om met God oor die aard, omvang en aanstootlikheid van jou oortredings, saam te stem.

2) Belydenis gaan nie oor gevoelens nie. Sommige van ons verval in berou, skuld en depressie oor ons sondes. Wanneer sulke gevoelens tot belydenis lei, is dit goed. Wanneer ons egter nie hierdie emosies voel nie, moet ons belydenis net so opreg en effektief wees.

3) Belydenis beteken nie jy kla nie. Om ‘n lys van jou sondes te maak en vir God te vertel hoe verskriklik sleg jy is, stem meer ooreen met ‘n gekla as met ‘n belydenis. God wil hê dat jy eerlik met Hom moet wees en met sy evaluasie van jou sonde moet saamstem. Dan kan jy soos Dawid sê: ‘Maar ek het my oortredings bely, my sonde nie weggesteek nie… En my sonde en oortredings het U vergewe.’

Bely dus jou sondes aan God – en begin dan optree soos iemand wat vergewe is!

Sielskos: Eseg 31-33; Mark 16:1-20; Ps 80:1-11; Spr 15:11-14