Behou die opgewondenheid
2021-05-281 Korintiërs 7:33-34 NLV
Dr James Dobson skryf: ‘Watter een van die volgende paartjies is meer geneig om die grootste fisiese aantrekkingskrag in die huwelik te geniet? Die paartjie wat elke uur saam deurbring en omtrent eksklusief net op mekaar fokus, of die man en vrou wat ander belangstellings het en na tye van onafhanklikheid weer bymekaar kom? Verrassend genoeg is dit die paartjie wat mekaar spasie gun.
Volgens gedragsnavorsers, is die gesondste huwelike met die hoogste seksuele spanning die huwelike wat asemhaal – verhoudings wat wissel tussen tye van nabyheid en teerheid en tye wat meer onafhanklik is, wat dan weer bymekaar kom vir nog ‘n reünie soos die siklus vorder. Dit is hoekom dit nie altyd voordelig is vir ‘n man en vrou om saam te werk nie, of eksklusief op mekaar in die afwesigheid van vriende en kollegas buite die familie, te konsentreer nie.
Daar is iets aan die diversiteit van belangstellings en aktiwiteite van elke eggenoot wat die paartjie daarvan weerhou om mekaar te verteer en die verhouding uiteindelik uit te laat brand. Die huwelik is ‘n marathon en nie ‘n naelloop nie. Mans en vrouens moet ‘n sisteem uitwerk wat hulle liefde vir ‘n leeftyd sal lewendig hou. Om ‘n gesonde belangstelling in baie dinge te kweek, is ‘n groot stap in daardie rigting.’
Hoe doen mens dit? 1) Deur te deel sonder om te versmoor. 2) Deur so veilig in julle liefde te voel dat julle mekaar vertrou. 3) Deur te begryp dat jou maat se persoonlike groei sekere elemente benodig wat jy nie kan voorsien nie en dit heeltemal so te aanvaar.
Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Mark 12:13-27; Ps 108; Spr 12:14