Beheer jou tong

2022-07-07
Spreuke 23:16 NLV

Moet nooit die mag van woorde onderskat nie. Vir elke woord in Adolf Hitler se boek, Mein Kampf, het 125 mense in die Tweede Wêreldoorlog omgekom. Net een man in die Amerikaanse geskiedenis het ooit uit die presidentskap bedank: Richard Nixon. Het jy al ooit gedink wat tot mnr Nixon se ondergang gelei het? Tradisionele denke sê dat dit die opnames van sy privaat gesprekke was. Dit was egter nie die opnames wat sy ondergang veroorsaak het nie, maar sy tong. Dit was nie die opnames nie, maar dit wat hy op die opnames gesê het, wat sy ondergang bewerkstellig het.

Die woorde tong, mond, lippe en woorde word amper 150 keer in Spreuke genoem; rofweg vyf keer in elk van die een-en-dertig hoofstukke. Die feit dat so baie klem op ons woorde gelê word, sê vir ons dat ons versigtig moet wees met dit wat uit ons monde kom.

Stop en oorweeg die volgende: Die gemiddelde persoon sê in ‘n periode van vyftig jaar genoeg woorde om twaalfduisend boeke van driehonderd bladsye elk, te vul. As dit die gemiddeld is, dink aan die biblioteke wat jy vul en die nalatenskap wat jy agterlaat.

Wat hartseer is, is dat sommige woorde wat jy spreek nooit vergete sal raak nie. Een digter het geskryf: ‘If your lips would keep from slips, five things observe with care: To whom you speak, of whom you speak, and how, and when, and where.’ Salomo wou graag gehad het dat sy kinders met wysheid moet grootword, dus het hy gesê: ‘Ek sal baie bly wees, my kind, as jy ook ‘n wyse mens word. Ek sal in my hart juig wanneer jy reg praat’ (verse 15-16 NLV). Beheer vandag dus jou tong.

Sielskos: Jer 28-30; Matt 24:15-25; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7