Behandel mense altyd met respek

2023-02-10
1 Petrus 3:15-16 NLV

Die Bybel sê: ‘… As… iemand julle [uitvra] oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer. Maar doen dit taktvol en eerbiedig…’ Die twee maniere om ‘n eier uit sy dop te kry, is: 1) om dit oop te breek, of 2) om dit in ‘n warm, liefdevolle omgewing te plaas en dit toe te laat om te inkubeer en uit te broei. Die tweede manier bewaar die kuiken, terwyl die eerste een hom doodmaak.

Soortgelyk, is die twee maniere om die goeie nuus van die evangelie aan mense oor te dra: 1) om hulle oor die kop daarmee te slaan, of 2) om hulle tot in God se familie lief te hê. Het jy opgelet dat baie evangelisasie net ‘n dun bedekte belediging is? ‘Jy het nodig wat ek het, want jy is so aaklig.’ Mense het die goeie nuus nodig, maar jou ingesteldheid kan hulle daarvan weerhou om dit te ontvang.

Respekteer ongelowiges; moenie hulle verneder nie. Om iemand te respekteer, beteken dat jy hulle aanvaar. Dit beteken nie dat jy hulle lewenstyl goedkeur nie. Aanvaarding en goedkeuring is twee verskillende dinge. Almal het egter die reg om met respek behandel te word. Die beste manier om die evangelie met ongelowiges te deel, is om hulle met liefde en aanvaarding te omring terwyl jy dit met hulle deel. Wees respekvol, sensitief en gee vir hulle om.

Die teoloog D.T. Niles het gesê: ‘Evangelisasie is net een bedelaar wat vir ‘n ander vertel waar om brood te kry.’ Versprei God se Woord! Doen jy die verspreiding daarvan en God sal die redding doen. Sodra jy die saad van God se Woord in iemand se hart geplant het, kan jy hulle liefhê, laat gaan en op God vertrou om sy deel te doen.

Sielskos: Gen 40-41; Luk 9:18-27; Ps 138; Spr 4:14-17