Begryp ware heiligheid

2021-04-26
Sagaria 14:21 NLV

Heiligheid moet altyd ‘vir die Here die Almagtige’ toegewys wees. Wanneer ons dit aan mense toewys, is dit altyd verkeerd en misplaas, omdat dit net trots en pretensie is. Jesus het die Fariseërs veroordeel, nie vir hulle vroom dade nie, maar omdat hulle dit gedoen het om ander mense te beïndruk. Nie net het hulle volgens ‘n lang lys godsdienstige ‘moets en moenies’ gelewe nie, hulle het ook telling gehou van ander mense wat nie volgens hulle lys lewe nie en hulle daaroor veroordeel.

Sommige van ons het in huise en kerke grootgeword wat dit doen en wanneer ons die woord ‘heiligheid’ hoor, raak ons ongemaklik en dink aan Christene met somber gesigte en vingers wat in beskuldiging na ons wys. Dis nie Bybelse heiligheid nie, dis wettiesheid! God haat dit en die Bybel veroordeel dit.

Om te verstaan wat ware heiligheid is, dink aan die woord ‘kontaminasie.’ Dis een van elke hospitaal se grootste bekommernisse. Dis hoekom dokters in operasieteaters daarop aandring dat hulle sjirurgiese instrumente konstant gesteriliseer word; dat almal die regte klere dra en dat in die teater ‘n temperatuur gehou word waarin kieme nie kan oorleef nie. Kry jy die prentjie?

Pas nou die lens ‘n bietjie aan en jy sal die geestelike toepassing sien. Ware heiligheid isoleer jou nie van die wêreld nie, dit insuleer jou van die wêreld se besoedeling. Paulus het die kerk in Korinte se benadering tot die nagmaaltafel gekorrigeer: ‘Want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen haastig sy eie ete met die gevolg dat die een honger bly en die ander een weer dronk word’ (1 Korintiërs 11:21 NLV). Paulus het hulle slordige geestelike houding aangespreek. ‘Dit is waarom daar baie swakkes en siekes onder julle is, en heelwat onder julle reeds oorlede is’ (vers 30 NLV).

Wat is dus die antwoord? Heiligheid – vir die Here die Almagtige!

Sielskos: Num 3:1-4:33; Mark 4:26-41; Ps 144:9-15; Spr 10:22-23