Begin oefen

2020-06-14
1 Timoteus 4:8 NLV

Soos jy in jou veertigs, vyftigs en sestigs inbeweeg, is jy geneig om meer te sit. Een vrou het ‘n lewenslange verbintenis gemaak om nooit te sweet nie. ‘n Ander een het gegrap dat die enigste rede hoekom mense draf is om beter by hulle begrafnis te lyk. ‘n Bestuurder het ‘n plakker op sy motor geplak: ‘Die vyftigs kruip nader en dis genoeg oefening vir my.’ Die Bybel sê: ‘Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende.’ Beteken dit dat dit nie belangrik is om na jou liggaam om te sien nie? Nee, dit beteken dat jy in balans moet bly! Wat is die punt daarvan om die deugde van ‘n heilige te hê as jy voor jou tyd met geblokte are sterf? Jy sê: ‘Maar ek hou nie daarvan om te draf of gewigte op te tel nie.’ Dan is daar goeie nuus vir jou. ‘n Onlangse mediese studie het bevind as jy vyf-en-veertig minute ‘n dag aan huishoudelike take soos grassny spandeer, sal jy groter langslewendheid geniet as diegene wat onaktief is. Dis wel nog beter as jy ‘n paar opsitte en opstote by jou roetine kan inwerk, maar dis nie nodig nie. As jy nie jou kar onderhou nie, het jy geen reg om die vervaardiger te blameer nie. As jy nie jou liggaam, wat die tempel van die Heilige Gees is, onderhou nie, het jy geen reg om God te blameer nie. Jy sê: ‘Maar ek glo in goddelike genesing.’ God beloof dit wel in sy Woord aan jou (sien Jakobus 5:14-15). Hy verwag egter van jou om geloof – en wysheid – te gebruik. Jou huis sal dus nie net beter lyk nie, jy sal waarskynlik ook langer lewe.

Sielskos: Op 19:11-16; Hand 3:1-16; Fil 2:5-11