Begin jou dag met God

2023-01-28
Psalm 5:4 NLV

Leer die gewoonte aan om elke dag met God te begin, Wanneer jy dit doen, sal jy ‘n bron hê waaruit jy die hele dag krag kan put. Sielkundiges sê dat dit tot drie weke neem om aan ‘n nuwe gewoonte gewoond te raak en nog drie weke voor die gewoonte gevestig word. Dit beteken dat jy die ses-week grens moet oorsteek. Doen dus die volgende:

1) Maak ‘n vasbeslote besluit. As jy halfhartig begin, sal jy nooit suksesvol wees nie. Die Bybel sê: ‘Julle moet mekaar van dag tot dag aanspoor…’ (Hebreërs 3:13 NLV). As dit jou sal help, vra iemand om jou aanspreeklik te hou. Vra hulle om jou aan te spoor en jou aan die belofte wat jy teenoor God gemaak het, te herinner.

2) Moenie uitsonderings toelaat nie. Vermy dit om ‘Net hierdie een keer,’ as verskoning aan te wend. Elke daad van ingewing verswak jou wil en veroorsaak dat jy grond verloor.

3) Gebruik elke geleentheid om jou nuwe gewoonte uit te oefen. Wanneer jy die kleinste drang kry om jou Bybel te lees en te bid, doen dit. Moenie wag nie; gebruik daardie oomblik om jou gewoonte in te oefen. Jy kan nie ‘n nuwe gewoonte aan die begin oordoen nie.

4) Maak op God se krag staat. Jy is besig met ‘n geestelike stryd en jy kan slegs met God se hulp oorwinning behaal. Vertrou op Hom om jou te help om die gewoonte tot sy verheerliking te ontwikkel.

Skryf die volgende woorde neer, teken jou naam aan die onderkant en hou dit konstant voor jou: ‘Here, ek wy myself daaraan toe om elke oggend met U te begin, maak nie saak wat die koste daarvan is nie. Ek maak op U staat om my te help om konsekwent te wees.’ Dis ‘n gebed wat Hy sal antwoord.

Sielskos: Gen 10-12; Luk 6:27-36; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18