Ankers vir jou siel (3)

2024-09-16
Handelinge 27:25 NLV

Derdens, word deur God se beloftes geanker. Die derde anker wat ons selfvertroue gee word in Paulus se woorde gevind: ‘…Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het.’ As jy al ooit deur ‘n ontroue eggenoot verraai is, mag jy dalk jou vertroue in die huwelik verloor het. As jy ‘n slagoffer van die subprima-verbandkrisis was, het jy dalk jou huis en jou vertroue in banke verloor. As jy vir iemand gestem het wat jy glo integriteit het, net om te ontdek dat hulle in die sak van spesiale belangegroepe is, het jy dalk jou vertroue in die regering verloor.

Moet egter nooit ooit vertroue in God se beloftes verloor nie! Kyk vandag jou storm reguit in die oë en sing die woorde van hierdie beroemde lofsang deur Russell Carter: ‘Standing on the promises that cannot fail, when the howling winds of doubt and fear assail, by the living Word of God, I shall prevail, standing on the promises of God.’ Jy mag dalk jou skeepsvrag verloor, jy mag dalk jou skip verloor, jy mag dalk selfs oorboord val – maar jy gaan as gevolg van God se beloftes aan jou seëvier.

As jy jouself vandag in ‘n krisis bevind, is hier ‘n paar Bybelse beloftes waarop jy kan staan: ‘Die ewige God is jou skuilplek en onder jou is sy ewige arms…’ (Deuteronomium 33:27 NLV). ‘U redding is vir my ‘n skild. U regterhand ondersteun my; u hulp maak my sterk’ (Psalm 18:36 NLV). ‘Tot julle stokoud is, sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en sal vir julle sorg. Ek sal julle ondersteun en julle red’ (Jesaja 46:4 NLV).

Sielskos: Neh 8-10; Luk 22:1-13; Ps 78:40-55; Spr 24:1-4