Alles wat jy ooit sal nodig hê
2022-12-18Psalm 62:9 NLV
Die lewe kan oorweldigend voel wanneer jy vir verband- en huurpaaiemente, mediese rekeninge, klere vir die familie, toenemende kos- en petroluitgawes, skoolgelde en boonop nog voorsiening vir jou pensioen, verantwoordelik is! Die druk is nog groter as jy werkloos is. Na wie toe kan jy draai? Toe Dawid deur vyande omring was, het hy na God toe gedraai: ‘Net by God kan ek rustig wag, want van Hom kom al my hoop. Net Hy is my rots en my redding, my vesting waar ek stewig staan’ (Psalm 62:6-7 NLV).
Waar lê jou verwagting? In die hoop op ‘n beter ekonomie of arbeidsmark? Op die belofte van beter tye wat gaan kom? Dawid se hoop was meer seker: Hy het verwag dat die antwoord in die onveranderende karakter en getrouheid van God gevind kan word.
Wanneer ons angstig raak, fokus ons op ons vrese, voel onvoldoende en raak wanhopig. Om bewus te wees van jou behoeftes is verantwoordelik, maar om deur hulle oorweldig te word is ‘n bewys dat jy op die verkeerde plek na antwoorde soek. George MacDonald het gesê: ‘Ons beskou God as ons laaste en swakste hulpbron. Ons gaan net na Hom toe wanneer ons nêrens anders het om heen te gaan nie. Eers dan leer ons dat die storms van die lewe ons nie op die rotse gedryf het nie, maar na die gewenste hawe toe.’
Soos Dawid gesê het: ‘Net by God kan ek rustig wag, want van Hom kom al my hoop…’ Net by Hom, want God is jou voldoende bron. Omdat Hy sy Seun aan ons gegee het, het jy al die bewyse wat jy nodig het dat Hy ook ‘…alle ander goeie dinge aan ons sal skenk…’ (Romeine 8:32 NLV).
Sielskos: Ps 103:8-18; Joh 3:16-18; Hand 2:38-41