Moenie aan woede toegee nie; vergewe hulle

2023-10-19
Job 5:2 NLV

Vir redes wat net aan God en Satan bekend is, het Job sy geld, sy kinders en sy gesondheid verloor. As daar ooit ‘n man was wat rede gehad het om kwaad te wees, was dit hy. Elifas het hom egter die volgende raad gegee: ‘Woede maak ‘n dwaas dood…’ Met ander woorde: ‘Die enigste ding wat my seerder kan maak as wat reeds gebeur het, is om toe te laat dat wrewel my gedagtes regeer en my optrede dikteer.’

Jy sê: ‘Maar ek soek geregtigheid!’ Hoeveel geregtigheid? Stel jou voor dat jou vyand aan ‘n sweeppaal vasgemaak is. Die man met ‘n sweep in die hand draai na jou en vra: ‘Hoeveel houe?’ Jy gee ‘n getal. Die sweep kraak, die bloed vloei en die straf word opgelê. Jou vyand sak op die grond neer. Is jy nou gelukkig? Voel jy beter? Het jy vrede in jou gemoed? Dalk vir ‘n rukkie, maar gou sal jy weer iets onthou en dan sal nog ‘n sweepslag nodig wees.

Wanneer sal dit dan ophou? Dit hou op wanneer jy die woorde van Jesus ernstig opneem: ‘As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie’ (Matteus 6:14-15 NLV).

Wanneer jy bid: ‘Hanteer my soos ek my naastes hanteer’ (sien Matteus 6:12), is jy waarlik bewus van wat jy sê? ‘Gee my wat ek vir hulle gee. Skenk my dieselfde vrede wat ek hulle gun. Laat my dieselfde verdraagsaamheid geniet wat ek hulle bied.’ As jy vrede wil hê, moet jy vrede maak. As jy God se vrygewigheid wil geniet, moet jy vrygewig teenoor ander wees. As jy die versekering van God se vergifnis wil hê, gee vergifnis aan ander.

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 24:1-4

Bid vir die begeerte om te vergewe

2023-08-28
Jeremia 31:18 AFR53

Wanneer iemand mens seermaak, is ons eerste instink om terug te slaan. Ons weet dis verkeerd, omdat die Bybel sê dat ons moet vergewe om sodoende vergewe te word (sien Markus 11:25). Ons weet ook dat bitterheid ons fisies en emosioneel skade kan doen. Soms kan ons onsself egter net nie sover kry om te vergewe nie, dus hou ons aan om daarmee in ons gedagtes te stoei.

Stop en dink wat in ‘n stoeigeveg gebeur. Jy fokus op jou opponent, klou aan hulle vas en probeer hulle beheer. Jou doel is om hulle op die mat neer te pen en hulle te onderwerp, wat al jou energie verg. Jy neem ook die risiko om self in die proses seer te kry. Die enigste ware mag wat jy oor iemand wat jou seermaak het, is die mag van vergifnis. Vergewe hulle dus ter wille van jouself en beweeg aan! Selfs al is jy nie lus om te vergewe nie, bid: ‘…Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God.’ Met ander woorde: ‘Here, maak my gewillig om te vergewe.’

Klein oortredings kan vinnig vergewe word, maar grotes benodig goddelike bystand. Jy kan dit ontvang: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Ja, jy wil dalk hê dat jou oortreder moet swaarkry, maar as jou grootste begeerte is om die Here te behaag, sal Hy jou die genade gee om te vergewe. Wanneer jy die seëninge wat God in die toekoms vir jou in gedagte het besef, sal jy weier om nog een oomblik in die verlede vasgevang te bly.

Sielskos: Gal 1-3; Mark 8:27-38; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2

Vlug, veg, of vergewe

2022-12-15
Johannes 13:1 NLV

Ons hanteer ons verhoudingsprobleme op een van drie maniere: vlug, veg, of vergewe. Sommige kies om te vlug. Hulle verlaat die verhouding en begin êrens anders oor, alhoewel hulle dikwels verras is wanneer dieselfde kwessies weer kop uitsteek. Ander mense veg. Gevolglik word hulle verhoudings gevegsones en stres word ‘n lewenswyse.

As jy wys is, sal jy Christus se manier kies: ‘…Jesus was lief vir sy eie mense… Hy het hulle enduit liefgehad.’ Vir meer as drie jaar het Jesus dieselfde span gehad. Hy het dieselfde twaalf of so gesigte rondom die tafel gesien. Hoe het Hy dus so toegewyd aan sy dissipels gebly? Was dit moeilik vir Jesus om Petrus lief te hê, met die wete dat hy Hom eendag sou verraai? Was dit moeilik om Tomas te vertrou, met die wete dat hy eendag sy opstanding sou bevraagteken? Hoe het Jesus die drang weerstaan om ‘n nuwe groep volgelinge te werf?

Johannes wou een vyand vernietig en Petrus het die oor van ‘n ander een afgesny. Net dae voor Jesus se dood, het sy dissipels baklei oor wie van hulle die beste was! Hoe was Hy in staat om mense lief te hê, as dit moeilik was om van hulle te hou?

Hier is die antwoord: Jesus het hulle nie aan hulle voorkoms, IK, talente, besittings of persoonlikhede gemeet nie; nee, Hy het hulle aan hul potensiaal gemeet. Op die ou einde het hulle verander en aan sy verwagtinge voldoen. Nie in alle dinge of die hele tyd nie. Jesus het hulle egter vergewe en hulle geleer dat liefde ‘n verbintenis is wat ons eers met onsself, en dan met ander mense sluit.

Sielskos: Kol 1-2; Joh 16:19-33; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9

Vergewe en vergeet

2022-04-18
Kolossense 3:13 NLV

Indien jy ‘n suksesvolle verhouding wil bou, moet jy op die ander persoon se sterkpunte, in plaas van hulle swakpunte, fokus. Benjamin Franklin het gesê: ‘Hou jou oë voor die tyd wawyd oop en na die tyd halfmas oop.’ Dis ‘n fout om te vinnig ‘n lewenslange verhouding aan te knoop sonder om die tyd te neem om eers die ander persoon te leer ken. As jy nie voor die tyd omsigtigheid aan die dag lê nie, sal jy na die tyd probleme hê.

‘n Belangrike verhoudingsbeginsel lê egter daarin om te leer om te vergewe en te vergeet. Vergifnis kan baie moeilik wees wanneer die oortreding groot is. Klein oortredings kan gewoonlik maklik en vinnig vergewe word; groot oortredings verg ‘n proses van genesing. Totdat jy egter besluit om te vergewe en te vergeet, kan hierdie proses nie begin nie.

Paulus skryf: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het… Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en… vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam’ (verse 12-14 NLV).

Een skrywer stel dit so: ‘As jy nie van iets hou nie, verander dit. As jy dit nie kan verander nie, verander jou houding daar teenoor. Moenie kla nie.’ Met ander woorde, wanneer jy iets nie kan verander nie, bid vir genade en leer om daarmee saam te leef.

Hoekom is dit nodig dat ons vergewe en vergeet? Omdat God so sê! Jy is nie ontwerp om die fisiese en geestelike stres wat met wrokkigheid gepaard gaan, te dra nie. Buitendien: Jy mag dalk self vergifnis nodig hê voor die dag verby is (sien Galasiërs 6:1).

Sielskos: 1 Kor 1-3; Luk 24:13-24; Ps 56; Spr 10:8-9

Het jy gesondig? God sal jou vergewe!

2022-03-25
1 Johannes 1:9 NLV

Die verhaal van Dawid en Batseba is die tipe storie waarvan rolprente gemaak word – wellus, owerspel, buite-egtelike swangerskap, moord en ‘n toesmeerdery. Dit het ook gelyk of Dawid met alles wegkom, behalwe vir een belangrike detail: ‘…Maar die Here was baie ontevrede met dit wat Dawid gedoen het’ (2 Samuel 11:27 NLV).

In die Bybel, verwys God na Dawid as ‘…’n man na sy hart…’ (1 Samuel 13:14 NLV), maar ons lees ook in dieselfde Bybel: ‘…Weet dan dat julle sonde aan die lig sal kom’ (Numeri 32:23 NLV). God het dus die profeet Natan gestuur om vir Dawid te sê: ‘…Ek het jou tot koning van Israel gesalf… Hoekom het jy dan die woord van die Here geminag…?’ (2 Samuel 12:7,9 NLV). Toe het God sy oordeel gevel: ‘Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die Here, toesien dat jou eie huis ellendes oor jou bring… Ek sal dit openlik voor die hele Israel doen’ (2 Samuel 12:10-12 NLV). Van daardie dag af het tragedie en onrus Dawid se familie geteister.

God sal in sommige gevalle jou vrede wegneem sodat jy jou sonde moet erken. Dit het ‘n onbeplande swangerskap, die moord van ‘n onskuldige man, ‘n kind se dood, ‘n profeet se oortuiging en die oortuiging van die Heilige Gees geneem voor Dawid se hart sag geword het en hy erken het: ‘…Ek het teen die Here gesondig…’ (2 Samuel 12:13 NLV). ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).

So lank as wat jy aanhou om jou sonde te verskoon, te verdedig en te rasionaliseer, kan God niks vir jou doen nie. Die oomblik wat jy dit egter teenoor Hom bely, sal Hy jou vergewe. Is dit nie wonderlik nie?

Sielskos: Job 24-28; Luk 19:41-48; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23