Het jy gesondig? God sal jou vergewe!
2022-03-251 Johannes 1:9 NLV
Die verhaal van Dawid en Batseba is die tipe storie waarvan rolprente gemaak word – wellus, owerspel, buite-egtelike swangerskap, moord en ‘n toesmeerdery. Dit het ook gelyk of Dawid met alles wegkom, behalwe vir een belangrike detail: ‘…Maar die Here was baie ontevrede met dit wat Dawid gedoen het’ (2 Samuel 11:27 NLV).
In die Bybel, verwys God na Dawid as ‘…’n man na sy hart…’ (1 Samuel 13:14 NLV), maar ons lees ook in dieselfde Bybel: ‘…Weet dan dat julle sonde aan die lig sal kom’ (Numeri 32:23 NLV). God het dus die profeet Natan gestuur om vir Dawid te sĂȘ: ‘…Ek het jou tot koning van Israel gesalf… Hoekom het jy dan die woord van die Here geminag…?’ (2 Samuel 12:7,9 NLV). Toe het God sy oordeel gevel: ‘Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die Here, toesien dat jou eie huis ellendes oor jou bring… Ek sal dit openlik voor die hele Israel doen’ (2 Samuel 12:10-12 NLV). Van daardie dag af het tragedie en onrus Dawid se familie geteister.
God sal in sommige gevalle jou vrede wegneem sodat jy jou sonde moet erken. Dit het ‘n onbeplande swangerskap, die moord van ‘n onskuldige man, ‘n kind se dood, ‘n profeet se oortuiging en die oortuiging van die Heilige Gees geneem voor Dawid se hart sag geword het en hy erken het: ‘…Ek het teen die Here gesondig…’ (2 Samuel 12:13 NLV). ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).
So lank as wat jy aanhou om jou sonde te verskoon, te verdedig en te rasionaliseer, kan God niks vir jou doen nie. Die oomblik wat jy dit egter teenoor Hom bely, sal Hy jou vergewe. Is dit nie wonderlik nie?
Sielskos: Job 24-28; Luk 19:41-48; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23