Bid vir die begeerte om te vergewe

2023-08-28
Jeremia 31:18 AFR53

Wanneer iemand mens seermaak, is ons eerste instink om terug te slaan. Ons weet dis verkeerd, omdat die Bybel sê dat ons moet vergewe om sodoende vergewe te word (sien Markus 11:25). Ons weet ook dat bitterheid ons fisies en emosioneel skade kan doen. Soms kan ons onsself egter net nie sover kry om te vergewe nie, dus hou ons aan om daarmee in ons gedagtes te stoei.

Stop en dink wat in ‘n stoeigeveg gebeur. Jy fokus op jou opponent, klou aan hulle vas en probeer hulle beheer. Jou doel is om hulle op die mat neer te pen en hulle te onderwerp, wat al jou energie verg. Jy neem ook die risiko om self in die proses seer te kry. Die enigste ware mag wat jy oor iemand wat jou seermaak het, is die mag van vergifnis. Vergewe hulle dus ter wille van jouself en beweeg aan! Selfs al is jy nie lus om te vergewe nie, bid: ‘…Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God.’ Met ander woorde: ‘Here, maak my gewillig om te vergewe.’

Klein oortredings kan vinnig vergewe word, maar grotes benodig goddelike bystand. Jy kan dit ontvang: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Ja, jy wil dalk hê dat jou oortreder moet swaarkry, maar as jou grootste begeerte is om die Here te behaag, sal Hy jou die genade gee om te vergewe. Wanneer jy die seëninge wat God in die toekoms vir jou in gedagte het besef, sal jy weier om nog een oomblik in die verlede vasgevang te bly.

Sielskos: Gal 1-3; Mark 8:27-38; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2