Vergewe en vergeet

2022-04-18
Kolossense 3:13 NLV

Indien jy ‘n suksesvolle verhouding wil bou, moet jy op die ander persoon se sterkpunte, in plaas van hulle swakpunte, fokus. Benjamin Franklin het gesê: ‘Hou jou oë voor die tyd wawyd oop en na die tyd halfmas oop.’ Dis ‘n fout om te vinnig ‘n lewenslange verhouding aan te knoop sonder om die tyd te neem om eers die ander persoon te leer ken. As jy nie voor die tyd omsigtigheid aan die dag lê nie, sal jy na die tyd probleme hê.

‘n Belangrike verhoudingsbeginsel lê egter daarin om te leer om te vergewe en te vergeet. Vergifnis kan baie moeilik wees wanneer die oortreding groot is. Klein oortredings kan gewoonlik maklik en vinnig vergewe word; groot oortredings verg ‘n proses van genesing. Totdat jy egter besluit om te vergewe en te vergeet, kan hierdie proses nie begin nie.

Paulus skryf: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het… Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en… vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam’ (verse 12-14 NLV).

Een skrywer stel dit so: ‘As jy nie van iets hou nie, verander dit. As jy dit nie kan verander nie, verander jou houding daar teenoor. Moenie kla nie.’ Met ander woorde, wanneer jy iets nie kan verander nie, bid vir genade en leer om daarmee saam te leef.

Hoekom is dit nodig dat ons vergewe en vergeet? Omdat God so sê! Jy is nie ontwerp om die fisiese en geestelike stres wat met wrokkigheid gepaard gaan, te dra nie. Buitendien: Jy mag dalk self vergifnis nodig hê voor die dag verby is (sien Galasiërs 6:1).

Sielskos: 1 Kor 1-3; Luk 24:13-24; Ps 56; Spr 10:8-9