Gaan verder na volwassenheid

2018-05-30
Hebreërs 6:1 NLV

Ons almal kry dieselfde 168 ure per week. As die enigste tyd wat jy aan jou geestelike groei spandeer egter die tyd is wat jy in die kerk op ‘n Sondagoggend is, sal jy nooit verder as geestelike kinderskoene beweeg nie. Dink daaroor. ‘n Baba kan nie homself voed nie; hy verkies lekkers bo wortels; val gereeld en moet opgetel word; kruip rond en kom in die moeilikeid; hy is basies self-gesentreerd en moet gedissiplineer en opgelei word. Kry jy die prentjie? Die wedergeboorte is opwindend, maar dit moet jou wegspringplek wees, nie jou wiegie nie. Die Bybel sê, ‘Kom ons hou op om oor en oor te konsentreer op die basiese aspekte van Christenskap. Kom ons gaan verder en word geestelik volwasse…’ Dit hang van jou af! Op ‘n sekere punt moet jy vir jouself sê, ‘Van vandag af gaan ek doen wat nodig is om geestelik te groei en God se plan vir my lewe te ontdek.’ Een dag aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog, het generaal Louis Lyautey sy tuinier gevra om ‘n spesifieke soort boom op sy landgoed te plant. Die tuinier het hom ingelig dat die boom besonder stadig groei en dat dit amper ‘n eeu sou neem om volwassenheid te bereik. ‘In daardie geval,’ het die generaal geantwoord, ‘is daar geen tyd om te verspeel nie. Plant hom sommer vanmiddag nog!’ Hier is ‘n rotsvaste plan om tot geestelike volwassenheid te groei: ‘Gelukkig is die mense wat… vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink. Hulle is soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd. Hulle blare verwelk nie; in alles wat hulle doen, is hulle voorspoedig’ (Psalm 1:1-3 NLV).

Sielskos: Gal 4-6; Mark 12:13-27; Ps 101; Spr 13:20-23

‘n Gebed vir sukses by die werk

2018-05-24
Spreuke 22:29 NLV

Hier is ‘n gebed vir sukses by die werk: ‘Here, ek dank U vir die manier wat U my gemaak het, vir die baie gawes en talente wat U in my geplaas het en ek vertrou dat ek die beste persoon vir die werk is. Ek is dankbaar vir ieder en elke persoonlikheid waarmee ek werk, selfs diegene wat ek nie regtig van hou of verstaan nie. Ek vra dat my fokus gedurende my tyd in hierdie posisie, op die doelwitte wat U vir my gestel het, sal wees. Gee my die wysheid en insig om die werk te kan doen, selfs te midde van ‘n vyandige omgewing. Help my om te verstaan wat U my hier wil leer en gee my geduld soos U my vir die toekoms voorberei. Help my om my beste te lewer en altyd positief en hoopvol te bly. Stil die klagtes en teleurstellings van my hart deur U perfekte vrede en laat my toe om U met my werk te vertrou. Klee my in die kledingstukke van lof en die regverdigheid van Christus sodat ek U by die werk kan verheerlik. Laat my toe om my ware identiteit te ken, om in U guns te wandel en om U, meer as die mense waarmee ek werk, te probeer tevrede stel. Waar daar twis is, laat my ‘n vredemaker wees. Waar daar bedrog is, laat my die waarheid praat. Waar daar wanhoop is, laat my hoop bring. Waar daar vrees is, laat my geloof bring. Waar daar donkerte is, laat my lig bring. Waar daar hartseer is, laat my vreugde bring. Hierdie dinge vra ek in Jesus se Naam. Amen.’

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 10:35-52; Ps 129; Spr 20:25; Pred 5:4-6

Bevry die slawe (2)

2018-05-22
Psalm 107:13-14 NLV

God is in die besigheid om mense te bevry – moreel en geestelik. Toe die Israeliete in slawerny vasgevang was, ‘…het hulle geroep, en Hy het hulle uit die nood bevry’ (vers 13 NLV). Jesus doen dit steeds vandag, en ‘As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry’ (Johannes 8:36 DB). Volg dus hierdie stappe na vryheid: 1) Roep God aan. Hy het gesê, ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV). Israel se roep het herhaaldelik uit die hart gekom en God reageer steeds op hartsroepe. Verlossing begin by die erkenning van jou totale afhanklikheid van Hom. In plaas daarvan om dit alles op jou eie te hanteer, sê die Bybel, ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). 2) Voed jou siel geestelik. Jesus het gesê, ‘Ek is die brood wat lewe gee… As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe…’ (Johannes 6:51 NLV). As jy van God se Woord eet en jou gevoelens in gebed deel, sal Hy jou las ligter maak en jou siel voed. Hy het gekom om ‘…aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word… dat onderdruktes bevry sal word…’ (Lukas 4:18 NLV). Neem tyd om oor God se Woord te mediteer. Reflekteer daarop totdat jy verstaan hoe dit op jou lewe van toepassing is. Kennis sonder die toepassing daarvan is nutteloos. Vryheid benodig die daaglikse inname van die Skrif en die toepassing daarvan op jou huidige omstandighede. ‘Gelukkig is die mense wat… vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink’ (Psalm 1:1-2 NLV). Doen dit elke liewe dag – en wees vry!

Sielskos: Rig 4-6; Mark 10:13-22; Ps 88:9b-18; Spr 13:4-6

Hoe om mense te help (4)

2018-03-21
Handelinge 3:3 NLV

Petrus en Johannes was gewillig om die verlamde man toe te laat om hulle planne te onderbreek en hulle dalk laat vir die gebedstyd in die tempel te maak – wat ‘n belangrike punt uitlig. Is dit moontlik dat jy so besig met godsdienstige aktiwiteite is dat jy nie tyd vir mense wat seer het, maak nie? Selfsug is een van die maklikste sondes om te pleeg, want wanneer jy besig is, is jy nie bewus dat jy dit pleeg nie. Paulus beskryf Jesus as ‘…die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het’ (Galasiërs 2:20 AFR53). Dit klink dalk of Paulus homself weerspreek, maar Jesus het ons geleer dat ons meer geseënd is wanneer ons gee as wanneer ons ontvang. Om te gee spoor ons aan; om te weerhou dreineer ons. Om te gee benodig energie, wat nie altyd maklik is nie, veral nie in stresvolle situasies nie. Die motiveringspreker Trudy Metzger, wie se kinderjare met mishandeling gepaard gegaan het, het ‘n gewer in haar volwasse jare geword. Sy vind dit egter steeds moeilik om ‘n gewer te wees wanneer sy met sommige mense in haar verlede te doen kry. Sy erken dat sy verdedigend word en die situasie probeer beheer wanneer sy weerloos voel. Wanneer dit gebeur, verander sy van ‘n gewer na ‘n nemer. Sy skryf: ‘Terwyl gee energie benodig, moet ek sê dat situasies waar ek die nemer word, my heeltemal gedreineer laat. Om ‘n gewer te wees bring lewe – soos om ‘n plant water te gee sodat dit kan groei – maar om ‘n nemer te wees is soos om die water en voedingstowwe uit die grond te suig.’ Om ‘n gewer te wees is ‘n wen-wen situasie. Dit help ander, gee jou energie en vul jou met vreugde.

Sielskos: 2 Kon 24-25; Matt 26:1-25; Ps 19; Spr 8:6-7

Sleutels tot Bybelstudie (1)

2018-01-04
Psalm 119:65 NLV

Die Psalmdigter het geskryf, ‘Selfs volmaaktheid het sy perke, maar U gebooie ken geen grense nie.’ Dit beteken dat jy elke keer wat jy ‘n Skrifgedeelte lees, iets anders daarin sal sien. Dit is soos ‘n lig wat op ‘n diamant skyn. Elke keer wat jy die diamant effens draai, sal jy ‘n ander faset van sy skoonheid sien. Dis hoekom die Bybel anders is as enige boek wat jy ooit sal lees. Jy sal dinge oor God uit persoonlike ervarings en deur na ander mense se gedagtes en ervarings te luister, leer, maar jy sal Hom beter as op enige ander manier leer ken wanneer jy sy Woord lees. Jy kan dieselfde Skrifgedeelte oor en oor bestudeer, dit analiseer, dit los vir drie of vier maande en wanneer jy daarna terugkom, sal jy nog meer daarin vind. Die sleutel is: Hou aan! Daar is geen beperking op die aantal vrae wat jy kan vrae, geen beperking op die observasies en toepassings wat jy kan maak nie. Moet dus nie opgee nie! Die beste benadering wat jy in Bybelstudie kan hê, is die een wat Jakob gehad het toe hy met die engel van die Here gestoei het: ‘…Ek sal jou nie laat gaan nie tensy jy my seën’ (Genesis 32:26 NLV). Gevolglik het God vir hom ‘n nuwe naam, ‘n nuwe geaardheid, ‘n nuwe manier van stap en ‘n nuwe toekoms gegee. Bybelstudie het geen kortpaaie nie; dit vereis inspanning. As jy egter ywerig en geduldig is, sal jy groot beloning ontvang. As jy eers die vreugde en bevrediging ervaar wanneer jy ‘n groot geestelike waarheid op jou eie ontdek en dit in jou lewe toepas, sal jy nooit weer Bybelstudie op dieselfde manier benader nie.

Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 4:1-11; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9