Vertrou jou voorstaander, nie jou aanklaer nie (2)

2018-05-08
Romeine 8:33 NLV

Paulus skryf: ‘Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het? God is immers die Een wat ons vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het, wat boonop opgestaan het, wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit’ (verse 33-34 NLV). Satan se aanklagte sputter en val soos ‘n ballon wat afblaas. Hoekom hoor ons hulle dan nog? Hoekom voel ons as Christene steeds skuldig? Nie alle skuldgevoelens is sleg nie. God gebruik toepaslike dosisse skuld om sonde vir ons uit te wys. Ons weet dat skuldgevoelens van God af kom wanneer dit ‘…die verantwoording, dringendheid om reg te maak, ontsag… en erns om die oortreder te straf…’ (2 Korintiërs 7:11 NLV) meebring. God se skuldgevoelens bring net genoeg spyt mee om ons te verander. Satan se skuldgevoelens bring genoeg spyt mee om ons tot slaaf te maak. Moenie dat hy sy boeie om jou sluit nie! Onthou: ‘…julle lewe is saam met [Christus] veilig by God weggesteek’ (Kolossense 3:3 NLV). Wanneer God na jou kyk, sien Hy eerste vir Jesus. In Chinees is die woord vir geregverdig ‘n kombinasie van twee karakters: die figuur van ‘n lam en ‘n persoon. Die lam is bo-op en bedek die persoon. Wanneer God na jou kyk, is dit wat Hy sien: die perfekte Lam van God wat jou bedek. Net een keer in die Skrif word melding gemaak dat Jesus iets skryf. Hy skryf in die sand om vir die aangeklaagde sondaar wat Hy pas vergewe het, te sê, ‘…Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (sien Johannes 8:10-11). Die woord vir jou vandag is dus: Vertrou jou voorstaander, nie jou aanklaer nie!

Sielskos: Deut 14-17; Mark 7:1-13; Ps 37:25-31; Spr 12:1-3

Wie weet? God weet!

2018-04-20
Deuteronomium 29:29 NLV

Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Hierdie Skrifgedeelte is maklik om aan te haal, maar moeilik om volgens te lewe, veral wanneer ons lewens deur tragedie aangeraak word en ons nie die redes daaragter verstaan nie. Daar is tye wat ons bid en God vir ons antwoorde gee en daar is tye wat ons bid en Hy vir ons vrede gee. ‘…Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV). In tye van pyn en verlies, is daar twee Skrifgedeeltes waarop jy kan staan: 1) ‘Die geheime dinge is vir die Here ons God. Die dinge wat geopenbaar is, vir ons en ons nageslag…’ Wanneer dit by die verstaan van dinge kom, het ons ons gebied en God het syne. Ons s’n is beperk tot wat Hy besluit Hy aan ons wil openbaar. Paulus, wat die helfte van die Nuwe Testament deur goddelike openbaring geskryf het, erken, ‘Ons ken maar net ten dele…’ (1 Korintiërs 13:9 NLV). 2) ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). Wanneer jy dus in die versoeking kom om jou hande in wanhoop op te gooi en te sê, ‘Wie weet?’ herinner jouself, ‘God weet!’ Herinner jouself vandag daaraan dat Hy dinge ten goede vir jou en vir sy heerlikheid laat uitwerk.

Sielskos: Hand 8-9; Mark 3:28-35; Ps 130; Spr 10:24-26

Lei jou kinders na Christus toe

2018-04-02
Deuteronomium 6:6-7 ABA

Dis nie maklik om ‘n Christen-ouer te wees in ‘n wêreld waar groepsdruk voel of dit jou plat druk nie; waar waardes nie meer saakmaak en waar sedeloosheid hoogty vier nie. Met God se hulp kan jy dit egter doen! Om jou kinders na Christus toe te lei, doen die volgende vyf dinge: 1) Begin wanneer hulle klein is en lees elke aand vir hulle Bybelstories voor. Laat hulle toe om te hoor hoe jy bid dat hulle Jesus persoonlik sal ken en hoe jy Hom aanhoudend bedank dat Hy vir hulle sondes gesterf het. 2) Wanneer jy hulle kerk toe neem, verduidelik aan hulle wat die verskeie rituele en seisoene (die Doop, die Laaste Avondmaal, Paasfees en Kersfees) verteenwoordig en hoekom hulle gevier word. 3) Wees sensitief oor elke geestelike vraag wat hulle vra en neem die tyd om hulle vrae op so ‘n manier te antwoord dat hulle dit sal verstaan. 4) Koop vir hulle Christelike DVD’s en strokiesprente wat die Bybelse waarhede op hulle vlak aan hulle kan verduidelik. 5) Vertrou dat die Heilige Gees jou wysheid op die regte tyd sal gee om die evangelie aan hulle te verduidelik; en bid konstant vir hulle verlossing. Op een geleentheid het D.L. Moody verslag gelewer oor ‘twee-en-‘n-half’ bekerings wat tydens een van sy dienste plaasgevind het. Iemand het opgemerk, ‘Ek veronderstel jy bedoel twee volwassenes en een kind.’ ‘Nee,’ het Moody geantwoord. ‘Ek bedoel twee kinders en een volwassene. Die kinders kan hulle hele lewe aan God gee, maar die volwassene het net ‘n halwe lewe om te gee.’ Onthou, die dinge wat ons die beste leer is die dinge wat ons die meeste hoor. Dus: ‘Julle moet die dinge onthou wat ek vandag vir julle sê en julle moet dit vir julle kinders leer…’

Sielskos: Jer 14-17; Matt 28:11-15; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29

Gee jou beste vir God

2018-03-09
2 Samuel 24:24 NLV

In plaas van om God vir oorwinning oor sy vyande te vertrou, het Dawid uit sy eie uit besluit om die aantal soldate in sy weermag te tel om te sien hoe sterk hulle is. God het dit as ‘n ‘klap in die gesig’ gesien en ‘n plaag het Israel getref wat sewentig duisend mense uitgewis het. Om die plaag te stop, moes Dawid die volgende doen: ‘…Gaan bou ‘n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet’ (vers 18 NLV). Toe Arauna agterkom wat aan die gang is, het hy sy dorsvloer en osse vir Dawid verniet aangebied. Dawid het egter gesê: ‘Nee, Arauna, ek dring aan om dit te koop teen die volle prys. Ek kan nie vir die Here my God brandoffers aanbied wat my niks kos nie…’ Dus het Dawid hom 50 sikkels silwer vir die osse en die dorsvloer betaal. Dawid het ‘n altaar vir die Here daar gebou en die brandoffers en maaltydoffers daar gebring. Die Here het sy gebed beantwoord, ‘…Daarna het die Here die gebede vir die land verhoor, en die plaag in Israel het opgehou’ (vers 25 NLV). Wanneer dit kom by die dien van die Here, as dit jou niks kos nie, tel dit nie! God weet dat ons nie almal dieselfde aantal of bedrag kan gee nie. Hy vra egter nie iets van jou wat gelyk is aan aantal of bedrag nie, maar wat gelyk is aan opoffering! Die Bybel sê, ‘Vereer die Here met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes’ (Spreuke 3:9 NLV). Of dit nou by lofprysing, bediening of gawes kom, maak seker dat jy jou beste vir God gee.

Sielskos: Op 19-22; Matt 22:1-14; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2

Klim hierdie jaar uit jou gemaksone uit (1)

2018-01-01
Jesaja 41:10 NLV

Twee van ons grootste vrese is mislukking en kritiek. Hierdie vrese verdwyn nooit heeltemal nie. Jy kan hulle oorkom, maar hulle sal weer hul verskyning maak sodra jy voor jou volgende uitdaging te staan kom. Dis eers wanneer jy vrees as deel van die lewensreis aanvaar dat jy leer om dit te oorkom. As jy terugkyk na wat jy reeds oorkom het, sal jy besef dat mislukking die meeste van die tyd nie permanente skade doen nie – jy word inderwaarheid sterker. As jy dus vandag angstig is, sê God vir jou, ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou…’ Vertrou dus op Hom! ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘Ek het ‘n gemaksone gehad waar ek geweet het dat ek nie kan misluk nie; dieselfde vier mure was meer soos ‘n tronk. Ek wou so graag die dinge doen wat ek nooit vantevore gedoen het nie, maar het eerder in my gemaksone gebly. Ek het vir myself gesê dat dit nie saakmaak dat ek nie veel doen nie; ek het gesê dat ek nie oor dinge soos drome en doelwitte omgee nie. Ek het vir myself gesê dat ek vreeslik besig is met dinge in my sone, maar diep binne in my het ek na iets spesiaals van my eie verlang. Ek kon nie my lewe laat verbygaan deur net toe te kyk hoe ander mense wen nie; ek het my asem opgehou, uit my sone getree en die verandering laat begin. Ek het ‘n tree geneem en met nuwe krag, wat ek nog nooit gevoel het nie, my gemaksone totsiens gesoen en toe die deur toegemaak en gesluit. As jy in ‘n gemaksone is, bang om daaruit te klim, onthou dat alle wenners eens op ‘n tyd met twyfel gevul was.’

Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14