2019-01-26
Matteus 28:19 NLV
Tensy jy daar toe verbind is om Christus in elke area van jou lewe te volg, beteken die doop net dat jy droog in die water ingaan en nat en onveranderd weer uitkom. Let noukeurig op wat Jesus gesê het: ‘Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle… Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet verseker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis’ (verse 19-20 NLV). Met die doop verklaar jy in die openbaar dat jy op die dood en opstanding van Christus, vir jou verlossing vertrou. Dit beteken egter meer as om net in water gedompel te word. Dit beteken dat jy: 1) In die beginsels van Christus verdiep moet wees. ‘…Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het…’ Let wel: ‘alles.’ Dis nie ‘n à la carte spyskaart waarvan jy kan kies wat vir jou lekker lyk en die res kan los nie. Onvolledige gehoorsaamheid – is ongehoorsaamheid. 2) In die doelwitte van Christus verdiep moet wees. ‘Gaan dan, maak al die nasies my dissipels…’ Die doop kan in ‘n oomblik plaasvind, maar dissipelskap verg dat jy Jesus vier-en-twintig uur ‘n dag, sewe dae ‘n week, twee-en-vyftig weke ‘n jaar moet volg. 3) In die teenwoordigheid van Christus verdiep moet wees. ‘…En weet verseker: Ek is altyd by julle…’ Dit beteken dat jy in alles wat jy doen ‘n aanvoeling vir sy teenwoordigheid moet ontwikkel. Sy inwonende teenwoordigheid moet jou bestuur, jou motiveer en jou daarop fokus om sy wil uit te voer.
Sielskos: Rom 15-16; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12
2019-01-05
Psalm 119:2 NLV
Die Bybel sê, ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart…” (Deuteronomium 6:5 NLV). ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het…’ (Spreuke 3:5 NLV). ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV). Het jy die Here met jou hele hart lief? Vertrou jy Hom met alles wat jy het? Soek jy Hom met jou hele hart? Net die brandende effek van ‘n visie sal jou daarvan weerhou dat jy jou pad byster raak of deur die wêreldse dinge wat geen effek op die ewigheid het, ingesluk word nie. Dink aan die bed waarop geboorte gegee word; dis ontwerp om die ma in posisie te hou ten spyte van pyn en ongemak. Kan jy ‘n posisie van geloof handhaaf selfs wanneer dit jou aan pyn en druk blootstel? Aanhoudende gebed en Bybelstudie hou jou in plek wanneer jy in die versoeking kom om op te gee of buite die wil van God op te tree. God het vir Eva gesê, ‘…met pyn en lyding sal jy jou kinders in die wêreld bring. Jou begeerte sal na jou man wees…’ (Genesis 3:16 NLV). Let op, God het gesê dat Hy aan die einde van die kraamproses en pyn die verhouding tussen die vrou en man sal vernuwe deur haar begeerte te herstel. Die punt is: Daar is nie ‘n beter kuur vir pyn in die verlede soos huidige begeerte nie. Of jy dus deur jou oorwinnings uitgeput is of mismoedig oor jou nederlae is, laat God toe om jou na Hom toe terug te trek. Laat Hom toe om weer die begeerte om alles te wees wat Hy wil hê jy moet wees, aan te wakker.
Sielskos: Jes 12-16; Luk 1:39-56; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19
2018-12-01
Johannes 14:16 NLV
Onthou jy aandete sonder selfone? Jou familie wat mekaar se geselskap geniet, ononderbroke deur tegnologie? Ons is ‘n generasie wat besig is om die kuns van kommunikasie – en intimiteit – te verloor – en dit het ook ‘n impak op die tyd wat ons alleen saam met God spandeer. Alhoewel Jesus voor die tegnologiese era gelewe het, was Hy in konstante aanvraag; die skares het Hom alle ure van die dag en nag agtervolg. Nietemin, sê die Skrif vir ons, ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid’ (Markus 1:35 NLV). Jesus het tyd gemaak om alleen met sy Vader te wees. Dit verg geestelike dissipline om stil te wees en te luister; om doelbewus die lewe se geraas te elimineer. As ons dit egter oefen, sal ons ‘n hartsbevredigende verhouding met die inwonende Heilige Gees ontdek. Belê ‘n paar minute daarin om Johannes hoofstukke 14-16 te lees en laat jou gees toe om Jesus se boodskap te absorbeer. Hy wil hê dat sy dissipels moet vrede hê en Hy troos hulle met die versekering dat hulle nooit alleen gelaat sal word nie. Hierdie is seëninge wat Hy ook met ons wil deel. Vraag: Hoe kan jy hierdie vrede en troos kry? Antwoord: ‘Dis ‘n interne belewenis,’ omdat die Heilige Gees in jou woon. Dit mag dalk die Christendom se bes-bewaarde geheim wees, dat die Heilige Gees beskikbaar is vir en in elke ware gelowige woon; en alles aan ons voorsien om die lewe se moeilikhede en geleenthede te hanteer. Die ‘Raadgewer’ is deur die Seun belowe, deur die Vader gestuur en vandag is Hy ons s’n deur geloof. Gryp Hom aan, vertrou op sy krag, ervaar sy vrede en volg sy leiding.
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Joh 14:26-15:4; Ps 146; Spr 31:18-21
2018-11-20
Eksodus 18:23 NLV
Hoekom dring ons daarop aan om alles self te doen? Drie redes: 1) Ons is bang dat ander mense nie die werk so goed soos ons sal doen nie – maar hoe anders sal hulle leer? 2) Ons is bang dat hulle ons sal oorskadu. 3) Ons dink dat God van ons verwag om alles persoonlik te doen. Moses se skoonpa het vir hom gesê ‘Luister nou na goeie raad… Jy moet nog steeds namens die volk met die Here gaan praat… Vir die beslissing oor hulle verskille moet jy mans uit die volk aanstel wat as regters kan optree. Stel een man aan vir elke 1 000 mense of selfs vir elke 100 of 50 of tien mense… Stel hulle as voltydse regters oor die volk aan. Hulle kan die groter sake dan na jou verwys. Die kleiner sake kan hulle sommer self verhoor. So kan julle saam die vrag dra… As dit volgens God se wil is, kan jy die sake van nou af so hanteer. Dit sal jou werk maklik maak. Die volk sal terselfdertyd dan ook meer tevrede gestel kan word’ (Eksodus 18:19-23 NLV). Evalueer dus wat slegs jy kan doen en delegeer wat ander kan doen. As die taak te groot is vir jou, sien dit as ‘n teken dat God vir jou sê, ‘Moenie dit alleen probeer aanpak nie!’ Dit beteken nie dat jy die werk aan sommer net enigiemand kan gee nie. As jy die verkeerde persoon in ‘n werk, wat glad nie vir hulle sin maak nie, aanstel, sal dit rampspoedig wees. Jy moet: 1) die regte mense vind; 2) die regte werk vir hulle gee; 3) hulle vertrou om die regte ding te doen. As jy hierdie drie dinge doen, sal jy lank genoeg lewe om die vrugte van jou sukses te smaak.
Sielskos: Pred 5-8; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 30:11-14