2020-11-22
Psalm 34:9 NLV
Die Psalmdigter het gesê: ‘Beproef en sien dat die Here goed is…’ Wat jy van God glo, sal in die manier waarop jy jou lewe lei, manifesteer. Wat beteken dit om ‘goed’ te wees? Dit beteken dat jy jou lewe op die beste manier wat jy kan, lei. Omdat God alwetend is, weet Hy wat jou beste is! Sy goedheid kan nie bevraagteken word nie. Omdat God goed is – nie net op ‘n vroom manier nie, maar waarlik, prakties, konsekwent goed is – kan jou sin van welstand, sekuriteit, vrede, selfvertroue en vreugde oorvloedig wees. ‘n Goeie God kan nie sy belofte verbreek, sy kinders verlaat of hulle nie liefhê en seën nie. Jy kan verseker wees dat Hy jou in elke omstandigheid op die beste moontlike manier sal behandel.
Wanneer dit voel of jou lewe uitmekaar val, is dit soms moeilik om God se goedheid raak te sien of te voel dat dinge beter sal raak. Dis wanneer jy die geloof wat God reeds vir jou gegee het moet gebruik en deur ‘n daad van jou wil op Hom moet vertrou (sien Romeine 12:3).
‘n Wyse pastoor is een keer deur ‘n moedelose gemeentelid gevra: ‘Pastoor, lyk die wêreld ook vir jou soos ‘n wrak?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, soos die wrak van ‘n gebarste saad!’ Sonder om deur die ‘wrak’ stadium te gaan, waar die wêreld letterlik uitmekaar val, kan die akker nooit aan die eikeboom lewe gee nie.
Omhels dus God se wil gedurende hierdie toets, omdat dit ‘goed en aanvaarbaar en volmaak is,’ ongeag hoe dit tans vir jou voel (sien Romeine 12:2). Uiteindelik sal jy ‘sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!’
Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1
2020-07-11
Psalm 27:13 NLV
Wanneer jy kies om dinge uit God se perspektief te sien, verander dit hoe jy voel. Die enigste ding wat jou ou negatiewe gevoelens in plek hou, is jou denke. Wanneer jy op die regte manier begin dink, begin jou lewe in die regte rigting beweeg. Onthou egter: jy het nie oornag negatief geword nie en jy sal ook nie oornag positief word nie. Hoe begin jy dus? 1) Vervang jou negatiewe denke met gedagtes wat ‘lofwaardig’ is (sien Filippense 4:8 NLV). Vee hulle weg soos jy miere by ‘n piekniek sou wegvee. Jy sal dit met oefening en volharding regkry. Jy het daardie keuse! 2) Onthou: Voor jy die toekoms aanpak, onthou God se goedheid aan jou in die verlede. Shakespeare het gesê: ‘Let never day nor night unhallow’d pass, but still remember what the Lord hath done.’ Dawid het gesê: ‘Tog is ek daarvan oortuig: Die Here se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes. Vertrou op die Here! Wees sterk en skep moed! Ja, vertrou op die Here!’ (Psalm 27:13-14 NLV). Ons het nie meer probleme as ander mense nie, ons dink net meer dikwels aan hulle. Lees dit weer! Wat jy dink, produseer wat jy voel. As jy dit nie glo nie, probeer kwaad voel sonder om eers kwade gedagtes te dink, of probeer hartseer voel sonder om aan iets hartseer te dink. Om ‘n gevoel te ervaar, moet jy eers die gedagtes hê wat dit produseer. Dis lewensveranderende inligting – en dit sal jou lewe verander as jy daarvolgens optree!
Sielskos: Jer 45-48; Luk 6:37-49; Ps 109:16-31; Spr 15:23-26
2020-06-28
Hebreërs 12:8 ABA
God sien hoe jy sukkel, Hy ignoreer dit nie. Hy is ten volle daarby betrokke. Hy sien die behoeftes van die toekoms en gebruik jou huidige omstandighede om jou vandag te toets en vir die toekoms voor te berei. Het Hy nie die gesag om dit te doen nie? Hy is die pottebakker; ons is die klei. Hy is die skaapwagter; ons is die skape. Hy is die tuinier; ons is die takke. Hy is die onderwyser; ons is die studente. Vertrou sy opleiding. Jy sal hierdeur kom. Onthou, alle toetse is tydelik. Hulle tyd is beperk. Die Bybel sê: ‘Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry’ (1 Petrus 1:6 NLV). Hier is nog iets om in gedagte te hou: Jy kan nie jou toetsperiode verkort nie, maar jy kan dit vir seker verleng deur hardkoppig en trots te wees en dit wat God jou wil leer, teen te staan. God sal nie jou keuse om dit te doen van jou wegneem nie, maar Hy sal jou ook nie van die nagevolge van jou keuse beskerm nie. Jy sal nie die eerste student wees wat ‘n graad in die skool moet oordoen nie en jy sal ook nie die laaste een wees nie. Jy kan Sondag kerk toe gaan en verveeld daar sit en droom; jy kan die beginsels van die waarheid verwerp en die maklike uitweg soek. Dit werk egter nie. ‘Mense het respek vir iemand wat goeie insig het. ‘n Onbetroubare mens loop ‘n pad van vernietiging’ (Spreuke 13:15 NLV). Doen dit op God se manier, want dit is die beste manier. Altyd!
Sielskos: Heb 11:23-28; Eks 3:1-22; Eks 33:7-23; Eks 34:29-35
2020-05-22
Matteus 6:33 DB
Die Bybel leer ons die volgende beginsels oor geld: 1) God wil hê dat jy genoeg geld het om aan die grootte van enige van jou behoeftes, te kan voldoen. Dink daaroor: Werknemers is hoofsaaklik oor een ding besorg – om hulle salaristjeks te kry. Werkgewers, aan die ander kant, het ‘n groter behoefte. Hulle moet genoeg geld hê om almal se salarisse te betaal. Daar is egter goeie nuus vir beide werkgewer en werknemer: ‘…julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!’ (vers 8 NLV). 2) Baie keer sal God jou na ‘n spesifieke plek of persoon stuur om aan jou behoefte te voldoen. Gedurende ‘n tyd van erge hongersnood toe mense in Israel van honger gesterf het, het God vir die profeet Elia gesê: ‘…Gaan in ‘n oostelike rigting en kruip weg by die Kritspruit… Ek sal die kraaie beveel om vir jou kos te bring’ (1 Konings 17:3-4 NLV). Dit het goed vir ‘n tydjie gewerk, maar ‘Na ‘n tyd het die spruit egter opgedroog, want daar was geen reënval in die opvanggebied nie’ (vers 7 NLV). God het dit so beplan, want Hy sal nooit toelaat dat jy van enigiemand of enigiets anders as Homself afhanklik is nie. Hy sal jou ‘spruit’ laat opdroog om jou sodoende na jou ware bron toe terug te stuur – na Hom toe. God het volgende vir Elia gesê: ‘…Gaan bly in die dorp Sarfat… Daar woon ‘n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg’ (vers 8 NLV). God het onwaarskynlike dinge soos kraaie, ‘n spruit en ‘n arm weduwee gebruik om aan Elia se behoeftes te voldoen. Hou op om God te probeer uitpluis! Vertrou die Een wat ‘…die aarde… aan niks [ophang]’ (Job 26:7 NLV), om wie ook al, wat ook al, waar ook al en wanneer ook al te gebruik om aan jou behoeftes te voldoen.
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Mark 10:35-52; Ps 97; Spr 12:1-3
2020-05-19
2 Korintiërs 9:8 NLV
Kom ons begin deur dit weer te sê: Wat jy oor God en jou geld glo, sal bepaal waarvoor jy Hom vertrou. As jy meer geld wil hê om by die bure by te hou of om te spog oor dit wat jy besit, moet jy nie verwag dat God jou planne sal seën nie. Die Bybel sê: ‘…God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV). Afhanklikheid sê: ‘Here, alles wat ek het is ‘n gawe van U af. Alles wat ek ooit sal nodig kry, kom van U af.’ Voor jy God vir meer geld vra, moet jy weet dat jou hartsmotiewe reg is. As jy weet dat jou motiewe reg is, kan jy op hierdie Skrifgedeelte staan: ‘Soos daar geskryf staan: ‘Hy het uitgedeel en gegee aan die armes; sy goedhartigheid bly vir altyd staan.’ God wat saad voorsien aan die saaier en dan brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei. In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons toedoen bring julle vrygewigheid mee dat God gedank word’ (2 Korintiërs 9:9-11 NLV). Aan wie gee God die saad? Aan saaiers, nie opgaarders nie. Wanneer vermeerder God jou saad? Wanneer jy dit saai om sy doelwitte te vervul.
Sielskos: Titus 1-3; Mark 10:1-12; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26