Intimiteit met Jesus – die geheim tot oorwinning

2022-06-04
Filippense 3:10 NLV

Paulus het gesê: ‘Op hierdie manier kan ek Christus persoonlik ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood’. Kom ons kyk in diepte na hierdie vers.

1) ‘Kan ek Christus persoonlik ken.’ In die Skrif, dui die woord ‘ken’ ‘n fisiese intimiteit tussen twee mense wat vir mekaar lief is, aan. Byvoorbeeld: ‘En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar…’ (Genesis 4:1 AFR53).

2) ‘En die krag beleef wat Hom laat opstaan het.’ Wat in jou lewe is dood wat weer moet opstaan? Daar is geen probleem wat Christus se opstandingskrag nie kan hanteer nie. Hoe kry jy toegang daartoe? Wanneer jy intimiteit met Christus jou hoogste prioriteit maak, kan jy uit hierdie krag put.

Sommige van ons sou verkies het as die vers hier geëindig het. Die waarheid is egter dat indien jy intimiteit met Christus wil geniet, moet jy gewillig wees om ‘saam met Hom [te] ly.’ Lyding verwys in hierdie opsig nie na slegte allergieë of geld wat jy op die aandele mark verloor het nie. Vir Paulus het dit beteken om geslaan, verraai en onthoof te word. Dit het egter ‘n intimiteit met Jesus meegebring wat op geen ander manier ervaar kan word nie.

As jy ooit diep saam met ‘n ander persoon gely het, sal jy hierdie beginsel verstaan. Jy sal nooit ware intimiteit met iemand ervaar deur vir hulle te sê: ‘Ek wil slegs die goeie tye met jou deel’, nie. Dikwels ontstaan die sterkste bande deur die lyding wat ons saam ervaar; toetse wat veroorsaak dat ons mekaar op ‘n nuwe, dieper dimensie leer ken, liefhê en vertrou.

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Matt 14:13-21; Ps 121; Spr 12:23-24

Wees passievol daaroor! (2)

2022-05-07
Psalm 39:4 NLV

Dawid het geskryf: “Dit het in my begin kook. Terwyl ek nagedink het, het ek kwaad geword, en toe het ek begin praat: ‘Here, sê my tog wanneer is my einde…'” (verse 4-5 NLV). Passie is soos ‘n vuur; tensy jy dit voed en stook, sal dit doodgaan. Op ‘n skaal van een tot tien, hoe heelhartig dien jy die Here?

Voor jy antwoord, dink oor die volgende Skrifgedeeltes na: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met al jou krag’ (Deuteronomium 6:5 NLV). ‘Geseënd is hulle wat sy waarskuwings gehoorsaam, Hom met volle oorgawe dien’ (Psalm 119:2 NLV). ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV). ‘Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het… soos ‘n vuur aan te blaas’ (2 Timoteus 1:6 NLV). “‘Nee, gaan terug na jou familie toe en vertel vir hulle al die wonderlike dinge wat God vir jou gedoen het.’ Hy het toe deur die hele dorp loop en vertel watter groot dinge Jesus vir hom gedoen het” (Lukas 8:39 NLV). ‘So moet julle ook… daarop konsentreer om uit te munt in dié gawes wat die gemeente opbou’ (1 Korintiërs 14:12 NLV). ‘Hiervoor werk en stry ek met Christus se krag wat in my aan die werk is’ (Kolossense 1:29 NLV). ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het’ (Filippense 3:13-14 NLV).

Al hierdie Skrifgedeeltes kan in een sin opgesom word: Wees passievol oor dit wat God jou geroep het om te doen.

Sielskos: Num 8-10; Matt 6:19-34; Ps 37:16-24; Spr 11:4

God leer jou geduld

2022-02-03
Psalm 37:7 NLV

Geduld word uit vertroue gebore. Dawid het gesê: ‘Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet die veilige weiding. Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee’ (verse 3-4 NLV). God het ‘n plan vir jou lewe. Dit sluit dinge in wat jy nie vandag kan kry nie, maar wat jy more sal kan geniet. Wanneer die lente aanbreek, groei die gras vanself. Hou dus op sukkel om iets nou te bereik wat maklik sal wees wanneer die tyd reg is.

Wanneer jy weier om vir ‘n kleuter iets te gee wat nie goed vir hom is nie, stamp hy sy voet en skree: ‘Ek wil dit nou hê!’ Gee jy dit dan vir hom? Nee, want hy is nog nie reg daarvoor nie. Paulus skryf: ‘Julle moet geduldig wees…’ (Kolossense 3:13 NLV). Nie net leer God jou hoe om te wag nie, maar ook hoe om ‘n goeie houding daaroor te hê.

God laat toe dat sekere dinge in die lewe gebeur om ons belangrike beginsels te leer, soos: 1) om ons geloof te behou wanneer dinge moeilik gaan, 2) om genadig onder druk te wees deur ons reaksies te beheer, en 3) om nuwe vaardighede en beter denkwyses te ontwikkel. Die waarheid is dat God tans besig is om kwaliteite in jou te ontwikkel wat nie op enige ander manier ontwikkel kan word nie. Wanneer Hy klaar is, sal jy die volwassenheid hê om dit wat Hy vir jou in gedagte het, te hanteer.

Moet dus nie toelaat dat die Vyand jou senuweeagtig maak of toelaat dat die omstandighede jou paniekerig maak nie. ‘Wees stil in die Here en wag geduldig op Hom…’

Sielskos: Rom 15-16; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30

Die Mickey Mantle verhaal

2021-02-17
2 Korintiërs 5:17 NLV

Mickey Mantle is een van die ware legendes in die geskiedenis van bofbal. Hy het van 1951 tot 1968 tweeduisend vierhonderd en een wedstryde vir die New York Yankees gespeel en met ‘n rekord van agtien tuislopies in twaalf wêreldreekse, vir hom ‘n plek in bofbal se ‘Hall of Fame’ in 1974 losgeslaan. Die skare was mal oor hom. Hy was beroemd. Hy was ryk. Maar tog het hy leeg gevoel, dus het hy na alkohol gedraai.

In ‘n onderhoud met Sports Illustrated, het hy sy lang stryd met drank en sy hartverskeurende probleme met sy familie beskryf. Die onderhoudvoerder het hom gevra: ‘Hoe gaan dinge deesdae met jou, Mickey?’ Hy het geantwoord: ‘Ek het al vir agt maande nie ‘n druppel drank gedrink nie. Ek begin my lewe weer agtermekaar kry, maar ek voel dat daar iets ontbreek.’

Voel jy dieselfde vandag? Het al die dinge wat jy bereik het of verkry het jou nie bevredig nie? Mickey Mantle het uiteindelik uitgevind hoe om die gat in sy siel te vul.

Aan die einde van sy lewe het hy dít gevind waarna hy nog altyd op soek was – Jesus Christus. ‘n Ander beroemde bofbalspeler, Bobby Richardson, het hom na Christus gelei. By Mantle se begrafnis, het Richardson vertel hoe hy Mantle gehelp het om die Here Jesus as sy persoonlike Redder te aanvaar. Op sy sterfbed het Mickey Mantle gesê: ‘Ek vertrou in Christus se dood om my hemel toe te neem.’ Wat Jesus vir Mickey Mantle gedoen het, wil Hy vir jou ook doen. ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’

Sielskos: Gen 1-3; Matt 15:15-28; Ps 28; Spr 5:3-6

Volgehoue genade

2021-02-03
2 Korintiërs 12:9 NLV

Daar is twee tipes genade: 1) Reddende genade. Die oomblik wat jy jou vertroue in Christus plaas, wis God die hele rekord van jou sonde uit. 2) Volgehoue genade. Paulus skryf: “…Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee… Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking'” (verse 7-9 NLV).

Wat ‘n helder beeld! ‘n Doring steek in die sagte vel tot onder die oppervlakte in. Elke tree is ‘n herinnering daaraan: Die kind in die rehabilitasiesentrum. Die rooi ink op die lêer. Die misdaadrekord. Die smagting na alkohol in die middel van die dag. Die trane in die middel van die nag. ‘Here, neem dit weg?’ Jy hoor egter die volgende: ‘My genade is genoeg vir jou.’ Volgehoue genade beloof ons nie die afwesigheid van beproewing nie, maar die versterkende teenwoordigheid van God.

John Newton, die Anglikaanse predikant wat ‘Amazing Grace’ geskryf het, het gevind dat God se genade genoeg is. Op die dag wat sy geliefde vrou, Mary, oorlede is, het hy die krag ontvang om ‘n Sondagpreek te lewer. Die volgende dag het hy kerklede besoek en later haar begrafnis waargeneem. Toe hy terugkyk op daardie tyd, het hy geskryf: ‘Die Bank van Engeland is te arm om vir so ‘n verlies soos myne te vergoed. Maar die Here, algenoegsame God, spreek, en dit word gedaan. Laat hulle wat Hom ken en vertrou, moed skep. Hy kan hulle krag volgens hulle dag gee. Hy kan hulle krag vermeerder soos hulle beproewings vermeerder. Dit wat Hy kan doen, het Hy beloof dat Hy sal doen.’

Sielskos: Jes 53-57; Matt 12:15-21; Ps 111; Spr 3:29-30