2024-08-01
Galasiërs 5:16 NLV
Daar is net genoeg ego en onafhanklikheid in ons dat ons dinge op ons eie manier wil doen. Dit hou aan om ons in die moeilikheid te kry. Paulus skryf: ‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ‘n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande…’ (verse 16-17 NLV).
Wat is die sleutel tot oorwinning? Eerstens, steun meer op God en minder op jouself. Tweedens, stel grense in jou lewe. Dis hoekom dit so belangrik is om daagliks Bybel te lees. Dit hou jou in God se veilige sone deur vir jou te sê wat jy kan doen en wat jy eerder nie moet doen om veilig te bly nie.
Snelweë het lyne: een aan elke kant en een in die middel. Hierdie lyne gee vir ons grense vir ons veiligheid terwyl ons bestuur. As ons oor die lyn aan die een kant gaan, loop ons die risiko om in ‘n sloot te beland. As ons oor die lyn in die middel gaan, loop ons die risiko om deur aankomende verkeer getref te word. Ons waardeer daardie lyne, omdat hulle ons veilig hou.
Dieselfde geld in ons persoonlike lewe. Wanneer ons duidelik gemerkte grenslyne het, voel ons baie beter en ervaar ons God se vrede. Wanneer God vir ons sê om iets nie te doen nie, probeer Hy nie met ons naar wees nie. Hy probeer ons beskerm. Jy is deur die kosbare bloed van Jesus verlos, jy is kosbaar in sy oë en Hy wil net die beste vir jou hê.
Sielskos: Esra 6-8; Luk 10:13-24; Ps 78:9-16; Spr 19:24-26
2024-04-14
Markus 4:27 NLV
Het jy al ooit ‘n ‘saad’ van geloof gesaai en nou wonder jy wanneer jy die ‘oes’ wat God in sy Woord beloof het, sal kan insamel? Indien dit die geval is, lees verder: ‘…God se koningsheerskappy is soos ‘n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar’ (verse 26-29 NLV).
Voor jy die seën wat God belowe het kan oes, gaan jy deur sekere stadiums. Eers is daar die stadium wat jy self nie weet nie. Jou saad is in die grond begrawe. Hoe en wanneer jou oes kom is totaal van God afhanklik. Jy moet egter glo dat dit gaan gebeur. Volgende kom die blaartjie uit. Dis net ‘n klein blaartjie wat in die bries waai, maar dis genoeg om jou moed te gee en vir jou te wys dat jou oes op pad is. Volgende kom die aar. Die saad het ontkiem en lyk soos dit waarvoor jy gebid het. Dis dan wanneer jy dit met gebed moet water gee, dit met God se Woord moet bemes en dit van enigiets of enigiemand wat dit deur twyfel en ongeloof kan ontwortel, moet beskerm. Uiteindelik is dit die stadium van die koringkorrel, wanneer die koring ryp word en jy onmiddellik begin oes.
Maak nie saak in watter stadium jy jou vandag bevind nie, staan vas en hou aan om op God te vertrou. Jou oes is op pad.
Sielskos: Gal 5:22; Luk 2:8-20; Spr 3:13-18; Ps 119:161-168
2024-04-07
Spreuke 12:11 NLV
As jy dink dat die perfekte lewe een sal wees waarin jy nie hoef te werk nie, dink weer. God het die tuin van Eden geskep, toe het Hy Adam geskep, en toe het Hy vir Adam gesê dat dit sy werk is om die tuin te versorg. Hoekom? Omdat werk waardigheid en betekenis tot ons lewe toevoeg. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Wie sy grond bewerk, het volop om te eet. Wie met nuttelose dinge besig is, het nie verstand nie’ (vers 11 NLV). Kom ons kyk vir die volgende paar dae hoe om werksekerheid te hê.
Die vrees om jou werk te verloor is in die volgende kernvrese gewortel: Gebrek: ‘Hoe sal ek my verpligtinge nakom?’ Ontoereikendheid: ‘Ek is nie goed genoeg nie.’ Hulpeloosheid: ‘Wat doen ek nou?’ Eensaamheid: ‘Ek sal geïsoleerd word.’ Vir sommige mense is die skaamte en vernedering om hul werk te verloor net so verwoestend as die verlies aan inkomste. Dit kan ‘n selfvervulde profesie word as jy aanhoudend wroeg dat jy jou werk kan verloor, omdat angs jou minder doeltreffend en effektief in jou werk kan maak.
As jy dus met die konstante vrees leef dat jy jou werk kan verloor, is dit tyd om op te hou om jouself te bekommer en te begin om ‘n strategie te ontwikkel wat jou posisie by die werk sal verbeter, of jou van ‘n sagte landing as jy ontslaan word sal verseker. Jou eerste en belangrikste strategie moet wees om op God se getrouheid te vertrou: ‘Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen… Die Here sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak… Dit sal gebeur as jy jou God gehoorsaam…’ (Deuteronomium 30:9-10 NLV).
Sielskos: Gal 5:22; Jes 61; Heb 12:2; Jes 35:3-10
2023-10-25
Jesaja 41:10 NLV
Die eerste vrou wat ‘n Nobelprys gewen het, was die Franse fisikus madame Marie Curie. Sy het gesê: ‘Niks in die lewe moet gevrees word nie, maar slegs verstaan word.’ Dus:
1) Kry die feite oor dit wat jy vrees om sodoende die geheimsinnigheid en verkeerde informasie daaroor, uit die weg te ruim.Juf Lize Hattingh help hiermee. sy kan password reset
lhattingh@monnies.co.za2) In plaas daarvan om op jou fobie te fokus, fokus op God se beloftes: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (vers 10 NLV). Soos jou geloof in God sterker word, sal die bedreiging van jou vrese swakker word.
3) Ontspan. Verbeel jouself dat jy vredevol en vry van die kettings van vrees is. Stel jou die positiewe uitwerking op jou lewe voor wanneer jy daarvan verlos word.
4) Konfronteer elkeen van die vreesaanjaende omstandighede een vir een. Elke enkele hekkie wat jy oorwin, versterk jou.
Verbind jouself dus om die vrese wat verwoesting oor jou gemoedsrus saai, te oorkom. Jesus het gesê: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NVL). Moenie toelaat dat vrees jou regeer nie! Word pro-aktief en bewapen jouself met God se beloftes. Hardloop jou vrese trompop soos Dawid na Goliat gehardloop het, met die wete dat jy in die Naam van die Here oorwinning sal behaal.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 6:16-24; Ps 85; Spr 24:11-14
2023-09-28
Psalm 39:8 NLV
Die lewe werk selde uit soos ons hoop of dink dit sal. Toe Job alles verloor het, het hy gesê: ‘Ek het nie die krag om aan te gaan nie. Ek het geen doel om na te streef nie… Nee, ek is hulpeloos. Daar is geen kans dat ek kan slaag nie’ (Job 6:11, 13 NLV). Tog het Job op die ou einde twee keer soveel as wat hy verloor het, teruggekry. Die ervarings en teëspoed waardeur hy gegaan het, het egter sy houding teenoor God diep verander: ‘Ek weet nou U kan enigiets doen en niemand kan U keer nie… Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:2, 5 NLV). Wat het Job ontdek? Dat God almagtig is! Ons moet sy Woord gehoorsaam om in sy seëninge te kan wandel – maar die finale uitkoms van alle dinge rus in sy hande.
Baie van ons sukkel met beheer. Ons wil nie net ons eie omstandighede nie, maar ook ons doelwitte, planne, verhoudings en alles wat op ons betrekking het, beheer. Sulke vrese is dikwels die teken van ‘n onbewuste begeerte om onafhanklik van God te wees; om die argitek van ons eie lot te wees. Soms is dit omdat jy in ‘n chaotiese omgewing grootgeword het en besluit het om nooit die ervarings van jou vroeë lewe te herhaal nie. Miskien dink jy dat jy as gevolg van jou opleiding, finansies of ander prestasies in beheer van jou lewe is.
Dis nie waar nie. God het jou in staat gestel om alles wat jy al gedoen het, te doen. Paulus skryf: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is…’ (1 Korintiërs 15:10 NLV). God is vandag in beheer – vertrou Hom!
Sielskos: Hoogl 1-4; Mark 15:12-20; Ps 13; Spr 21:22-27