Wanneer God opdaag

2025-01-26
Daniël 3:17-18 NLV

Toe Sadrag, Mesag en Abednego geweier het om voor koning Nebukadnesar se dertig meter hoë goue afgod te buig, het hy gedreig om hulle in ‘n vlammende oond te gooi. Hier is wat hulle vir hom gesê het: ‘Die God wat ons aanbid kán ons uit die vuur red. Hy sal ons uit u hand bevry, U Majesteit. En selfs al red Hy ons nie… sal ons nie u gode vereer nie…’ (verse 17-18 NLV).

Wanneer daag God op? Wanneer jy sê: ‘God is in staat om my te red, maar indien Hy nie doen nie, gaan ek Hom in elk geval dien.’ Dis wonderlik wanneer God dit wat ons nodig het voorsien. Tog is die tipe geloof wat God waarlik behaag die geloof wat sê: ‘Selfs al red Hy my nie, gaan ek God in elk geval vertrou.’

Petrus skryf: ‘Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry. Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word, en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word’ (1 Petrus 1:6-7 NLV).

Die Bybel sê nie dat die drie Hebreeuse kinders die vierde man wat saam met hulle in die vuur was gesien het nie; dit sê dat Nebukadnesar Hom gesien het en Hom as ‘…’n hemelwese’ (Daniël 3:25 DB), beskryf het. Selfs wanneer jy dit dus nie weet nie, het jou geloof, jou lewe en jou getuienis ‘n impak op die mense rondom jou en bring dit eer aan God.

Sielskos: Eseg 47:1-12; Op 21:22-22:5

Vertrou God en gaan tot aksie oor

2024-12-16
Prediker 11:4 NLV

Daar is ‘n tyd om versigtig te wees en ‘n tyd om risiko’s te neem. Dit verg onderskeidingsvermoë om die verskil te ken. As jy vir die perfekte omstandighede wag voor jy ‘n geleentheid aangryp, sal jy totdat jy doodgaan huiwer. Die Bybel sê: ‘As jy heeldag na die wind kyk, sal jy nooit saai nie. En as jy na die wolke kyk, sal jy nooit oes nie.’ Dikwels is die enigste ding wat tussen jou en die vervulling van jou droom staan, ‘n verskoning: ‘Ek is te besig… Ek het nie genoeg geld nie… Ek het nie die regte kwalifikasies nie… Ek is nog nie gereed nie… Ek het baie probleme.’

Niemand is egter ooit heeltemal gereed nie. Net voor Christus se eerste wonderwerk het Hy ‘n sweem van huiwering getoon: ‘…My tyd het nog nie gekom nie’ (Johannes 2:4 NLV). Jesus het egter ‘n moeder gehad wat Hom lief genoeg gehad het om Hom te oortuig.

In sy boek Jump In! beskryf Mark Burnett sy pad as ‘n prominente TV-vervaardiger. Hy het trefferprogramme soos Survivor en The Apprentice geskep. Hy skryf: ‘Niks sal ooit perfek wees nie en niks kan ooit heeltemal beplan word nie. Die beste waarvoor jy kan hoop is om omtrent vyftig persent seker van jou plan te wees en te weet dat jy en jou span gewillig is om hard genoeg te werk om die onvermydelike probleme soos hulle opduik, te kan oorkom.’

Moet dus nie na die wind en die wolke kyk nie. Nadat jy gebid het en jouself voorberei het, is dit tyd om God te vertrou en tot aksie oor te gaan.

Sielskos: Est 5-10; Joh 21:1-25; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27

Die rivier van God

2024-12-05
Eksodus 2:3 NLV

Moses se ma het hom in ‘n mandjie gesit, dit in die Nylrivier weggesteek en die gety het hom na die farao se dogter gedra, wat hom aangeneem en hom deel van die farao se familie gemaak het. Die volgende veertig jaar is bestee om hom vir een van die grootste opdragte in die geskiedenis voor te berei: die eksodus. Die rivier het vir Moses van ‘n plek van hopeloosheid en wanhoop geneem na ‘n plek waar alle dinge moontlik geword het. God kan dit vir jou ook doen.

1) Die rivier van sy genade kan jou sondes uitwis, jou in die geregtigheid van Christus klee en jou in ‘n nuwe verhouding met God bring.
2) Die rivier van sy krag kan jou van die plek van mislukking na die plek van oorwinning neem.
3) Die rivier van sy wysheid kan jou van die plek van foute en verwarring na die plek van visie en sukses neem.
4) Die rivier van sy voorsiening kan jou van die plek van gebrek na die plek van oorvloed neem.

Dit kan beteken dat God jou dalk van diegene wat jou afbreek mag verwyder en jou met ‘n nuwe vriendekring verbind, omdat hulle nie verstaan het wat Hy jou geroep het om te doen nie. Of jou in ‘n kerk plaas wat jou geestelik kan opbou en jou kan help toerus om God se plan vir jou lewe te vervul. As slaaf kon Moses se ma hom nie aan farao se dogter voorgestel het nie. God kon egter. En Hy het. Wat God vir Moses gedoen het, sal Hy vir jou doen as jy Hom in gebed soek en sy instruksies volg.

Sielskos: Gen 32-34; Joh 16:1-18; Ps 130; Spr 31:28-31

Op ‘n ompad gelei

2024-09-22
Eksodus 13:18 NLV

Die Bybel sê: ‘Toe die farao uiteindelik die volk laat gaan, het God hulle nie kortpad deur die Filistynse gebied laat trek na die land wat Hy vir hulle beloof het nie. Die Here het gesê: ‘As die volk nou met oorlog moet te doen kry, gaan hulle van plan verander en omvlieg terug Egipte toe.’ Daarom het God hulle eerder met die woestynpad… laat trek…’ (verse 17-18 NLV).

Daar is ‘n les hieruit te leer. God weet waar jy op jou geestelike reis is en Hy lei jou daarvolgens, selfs al lyk dit asof jy op ‘n ompad is. ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede’ (Psalm 37:23 NLV).

Die kortste roete van Egipte tot by die Beloofde Land was deur vyandige grondgebied en God het geweet dat sy mense nie reg vir ‘n oorlog was nie. Om God se mense uit Egipte te kry was op die ou einde die maklike deel; om Egipte uit God se mense te kry was veel moeiliker. Nadat hulle veertig generasies lank van die farao afhanklik was, moes hulle God en sy maniere leer ken en leer om Hom te vertrou. Dus het Hy hulle reis gevolglik bepaal.

Is jy tans besig om ‘n woestynervaring te hê? Wees bemoedig. Die vervulling van dit wat God jou beloof het mag dalk langer neem as wat jy gedink het, maar dis nie tyd wat gemors word nie. God is ook nie besig om jou te straf nie; Hy is besig om jou vir jou roeping op te lei. Wat moet jy dus doen? 1) Bestee tyd saam met Hom in gebed en sy Woord. 2) Maak minder op jouself en meer op God staat. 3) Put krag uit sy genade en volg sy leiding.

Sielskos: 1 Kon 17:1-6; 1 Kon 18:16-39; 1 Kon 19:9-18; 2 Kon 2:1-12

Wanneer jy nie seker is nie, vertrou God

2024-09-13
2 Korintiërs 5:7 NLV

Om te leef deur te glo, beteken dat jy geloof in die onveranderende karakter van God, die goedheid van God, die liefde van God en die waarheid dat Hy altyd jou beste belange op die hart dra, het. God deel inligting met jou soos jy dit nodig het. God bepaal ook wat ons nodig het om te weet en wanneer ons dit moet weet. Hier is ‘n voorbeeld daarvan: Die vroeë kerk moes besluit of God hulle roep om ook nie-Jode in te sluit. Na baie gebed, stuur hulle die volgende brief uit: ‘Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê nie…’ (Handelinge 15:28 NLV).

Alhoewel die kerk nie al die inligting van God tot hul beskikking gehad het nie, het hulle in gebed en deur leiding van die Heilige Gees gemaklik gevoel om hierdie brief uit te stuur. Dit was klaarblyklik God se wil dat sy mense nie presies moes weet wat sy wil is nie, of ten minste nie oor al die detail beskik nie. Hy het vermoedelik geweet dat hulle meer sou groei as hulle die kwessie moes oordink en bespreek, eerder as om ‘n gedetailleerde memo te kry. Die vroëe kerk het nie sekerheid vereis nie. Dit was vir hulle genoeg om met opregte gehoorsaamheid tevrede te wees.

Wanneer Paulus sê dat ons moet leef deur te glo, verwys hy na ‘n proses wat een tree op ‘n slag plaasvind. God het die oorhoofse uitsig; Hy sien jou hele reis van begin tot einde en beplan elke tree. Hy sal vir jou wys wat om te doen en wanneer jy dit gedoen het, sal Hy jou wys wat om volgende te doen.

Sielskos: Neh 1-4; Luk 21:12-24; Ps 78:17-31; Spr 23:26-28