2023-08-23
Psalm 46:11 NLV
Job se swakpunt was dat hy oormatig baie gepraat het. Mens kan hom nie daarvoor blameer nie. Nadat hy deur rampspoed getref is, het daar nie ‘n muur in sy huis staande of ‘n geliefde oorgebly nie. Sy vrou, empatiese siel wat sy was, het vir hom gesê: ‘…Vloek God en sterf!’ (Job 2:9 NLV). Toe sê sy vier vriende vir hom dat hy waarskynlik al hierdie moeilikheid oor homself gebring het.
God praat eers in hoofstuk 38 vir die eerste keer: ‘Toe het die Here Job uit die stormwind geantwoord’ (vers 1 NLV). Nadat die Here gepraat het, sê Job: ‘Ek het dwase dinge gesê. Hoe kan ek U antwoord? Ek sit my hand op my mond’ (Job 39:37 NLV). Voordat hy van God gehoor het, kon jy Job nie sover kry om stil te bly nie. Nadat hy egter van Hom gehoor het, kon hy glad nie meer praat nie. Die enigste regte ding wat Job gesê het, was: ‘Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom…’ (Job 13:15 AFR53).
Soms is die beste manier om jou probleem te hanteer om te vertrou, jouself te onderwerp en nie te praat nie. Job het dit nie op daardie stadium geweet nie, maar God se plan was om hom op die ou einde twee keer soveel te gee as wat hy verloor het. Dit het gebeur toe hy opgehou het om op sy eie probleme te fokus en vir sy vriende begin bid het (sien Job 42:10).
Wees dus stil. Wees ontvanklik en gewillig. God is steeds op die troon. Hy is in beheer van elke detail in jou lewe. Selfs in die ergste omstandighede het Hy jou beste belange op die hart. ‘…U steek u hand uit en red my deur u krag’ (Psalm 138:7 NLV). Dis al wat jy moet weet!
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 7:14-23; Ps 119:113-120; Spr 20:25
2023-03-22
Lukas 5:5 NLV
Jy sê: ‘Wat het geword van die vers in Galasiërs 6 wat belowe wat jy saai, sal jy ook oes? Ek het my beste gedoen. Ek het vertrou, opgeoffer, die regte dinge gedoen, maar niks geoes nie.’ Dit is ontmoedigend en wil jou laat tou opgooi wanneer jy ‘n gebrek in jou finansies, werk, huwelik, kinders of bediening ervaar.
Die dissipels was ervare vissermanne. Hulle het egter heelnag op die see deurgebring en niks gevang nie, dus was hulle moedeloos. Dis toe Jesus opdaag! Toe hulle dink dat daar niks meer is wat hulle kan doen nie, het Hy in hulle boot geklim. Hy werk steeds op hierdie manier.
Jesus weet dat jy self sal aanhou probeer wanneer jy dink dat jy die situasie self kan hanteer. Dus wag Hy tot jou hulpbronne uitgeput is en jy erken dat jy uit opsies uit is en raak dan betrokke. Hy het vir Petrus gesê: ‘… Vaar nou dieper in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang’ (Lukas 5:4 NLV). Petrus het geantwoord: ‘…ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie…’ (Lukas 5:5 NLV). Miskien het Petrus gedink: ‘Here, U is die prediker, maar ek is ‘n professionele visserman. As daar enigiets in die water was, sou ek dit gevang het!’ Dis toe dat die wonderwerk gebeur. Petrus het Jesus gehoorsaam, ongeag wat hy gevoel of gedink het.
Wanneer jy moedeloos en hulpeloos is, wanneer jy dink daar is nie ‘n weg uit die gemors nie, moet jy stil raak en luister en Jesus sal vir jou sê wat om te doen. Wanneer Hy dit doen, moet jy, selfs al het jy vrae, sê: ‘…Maar as u so sê, sal ons weer probeer.’ Berei jouself dan vir die resultate wat net God kan gee, voor.
Sielskos: Job 15-17; Luk 19:41-20:8; Ps 13; Spr 8:14-16
2023-02-15
Filippense 4:6 NLV
Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).
Bekommernis is soos ‘n wiegstoel. Dit hou jou besig, maar dit bring jou nêrens. As jy dit inderwaarheid te lank doen, maak dit jou net moeg! Een mediese kundige sê dat ons ongeveer dertigduisend gedagtes per dag het en deur ons ongekontroleerde gedagtegang, skep ons ‘n gunstige omgewing vir siekte; ons maak onsself siek! ‘n Ander mediese navorser skat dat 87 persent van siektes met verkeerde gedagtepatrone verbind kan word.
Die bron van bekommernis is eenvoudig; dis die versuim om God te vertrou om vir die verskillende situasies in jou lewe te sorg. Die meeste van ons probeer al ons hele lewe lank om vir onsself te sorg, dus neem dit tyd – en baie daarvan – om te leer om eerder op God te vertrou. Die enigste manier wat jy leer om dit te doen, is om dit eenvoudig te doen. Elke keer wat jy bid en die probleem aan God oorgee, ervaar jy sy getrouheid. Dit maak dit makliker om Hom volgende keer te vertrou.
Wanneer dit by probleme kom, sal daar altyd ‘n volgende een wees! Wanneer jy dus begin angstig voel, sê: ‘Ek vertrou God volkome; daar is geen rede om my te bekommer nie!’ Hoe meer jy oor hierdie waarheid dink, hoe meer sal jy vind dat jy vertroue bo bekommernis kies.
Sielskos: Gen 47-49; Luk 9:46-56; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24
2023-02-11
Hebreërs 12:10 ABA
Het jy geweet dat sommige tuiniers met hulle plante praat? Hoekom? Omdat dit hulle help groei! Verbeel jouself jy sê: ‘Jy is so ‘n goeie plant. Jy lyk pragtig vandag. Ek is so trots op jou!’ Verbeel jouself nou dat jy met die plant praat terwyl jy hom snoei en sê: ‘Hierdie maak my seerder as wat dit jou maak.’ Snip! ‘Jy sal my na die tyd hiervoor bedank.’ Snip! ‘Dis vir jou eie beswil.’ Snip! Nou dink jou in dat die plant terugpraat: ‘Jy het nie ‘n hart nie. Jy haat my. Ek het lank en hard gewerk om daardie rose te maak wat jy so pas afgesny het.’
Is dit nie ook wat ons vir God sê terwyl Hy ons snoei nie? ‘Is U nie lief vir my nie? Gee U nie vir my om nie? Kan U nie sien wat tans in my lewe aan die gebeur is nie?’ Ons dink dat God vir ons kwaad is. Nee, Hy is nie kwaad nie. Een van die groot foute wat ons maak is om snoei met straf te verwar. Moenie die twee gelykstel nie.
God sien jou as iemand wat meer vrugte kan dra, iemand met die potensiaal om groot dinge te bereik, iemand wat Hy op ‘n betekenisvolle manier kan gebruik. Hy wil hê jy moet soveel vrugte dra as wat jy moontlik kan, dus snoei Hy jou en sny selfs dinge in jou lewe af waarmee Hy jou geseën het.
Het jy ‘n werk waaroor jy mal was verloor? Of ‘n geliefde verhouding? God mag dalk iets beters in gedagte hê. Kan jy Hom vertrou? Glo jy dat Hy in jou lewe aan die werk is? Sy Woord sê: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV).
Sielskos: Gen 42-43; Luk 9:28-36; Ps 141; Spr 4:18-19
2022-12-15
Johannes 13:1 NLV
Ons hanteer ons verhoudingsprobleme op een van drie maniere: vlug, veg, of vergewe. Sommige kies om te vlug. Hulle verlaat die verhouding en begin êrens anders oor, alhoewel hulle dikwels verras is wanneer dieselfde kwessies weer kop uitsteek. Ander mense veg. Gevolglik word hulle verhoudings gevegsones en stres word ‘n lewenswyse.
As jy wys is, sal jy Christus se manier kies: ‘…Jesus was lief vir sy eie mense… Hy het hulle enduit liefgehad.’ Vir meer as drie jaar het Jesus dieselfde span gehad. Hy het dieselfde twaalf of so gesigte rondom die tafel gesien. Hoe het Hy dus so toegewyd aan sy dissipels gebly? Was dit moeilik vir Jesus om Petrus lief te hê, met die wete dat hy Hom eendag sou verraai? Was dit moeilik om Tomas te vertrou, met die wete dat hy eendag sy opstanding sou bevraagteken? Hoe het Jesus die drang weerstaan om ‘n nuwe groep volgelinge te werf?
Johannes wou een vyand vernietig en Petrus het die oor van ‘n ander een afgesny. Net dae voor Jesus se dood, het sy dissipels baklei oor wie van hulle die beste was! Hoe was Hy in staat om mense lief te hê, as dit moeilik was om van hulle te hou?
Hier is die antwoord: Jesus het hulle nie aan hulle voorkoms, IK, talente, besittings of persoonlikhede gemeet nie; nee, Hy het hulle aan hul potensiaal gemeet. Op die ou einde het hulle verander en aan sy verwagtinge voldoen. Nie in alle dinge of die hele tyd nie. Jesus het hulle egter vergewe en hulle geleer dat liefde ‘n verbintenis is wat ons eers met onsself, en dan met ander mense sluit.
Sielskos: Kol 1-2; Joh 16:19-33; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9