Vlug, veg, of vergewe

2022-12-15
Johannes 13:1 NLV

Ons hanteer ons verhoudingsprobleme op een van drie maniere: vlug, veg, of vergewe. Sommige kies om te vlug. Hulle verlaat die verhouding en begin êrens anders oor, alhoewel hulle dikwels verras is wanneer dieselfde kwessies weer kop uitsteek. Ander mense veg. Gevolglik word hulle verhoudings gevegsones en stres word ‘n lewenswyse.

As jy wys is, sal jy Christus se manier kies: ‘…Jesus was lief vir sy eie mense… Hy het hulle enduit liefgehad.’ Vir meer as drie jaar het Jesus dieselfde span gehad. Hy het dieselfde twaalf of so gesigte rondom die tafel gesien. Hoe het Hy dus so toegewyd aan sy dissipels gebly? Was dit moeilik vir Jesus om Petrus lief te hê, met die wete dat hy Hom eendag sou verraai? Was dit moeilik om Tomas te vertrou, met die wete dat hy eendag sy opstanding sou bevraagteken? Hoe het Jesus die drang weerstaan om ‘n nuwe groep volgelinge te werf?

Johannes wou een vyand vernietig en Petrus het die oor van ‘n ander een afgesny. Net dae voor Jesus se dood, het sy dissipels baklei oor wie van hulle die beste was! Hoe was Hy in staat om mense lief te hê, as dit moeilik was om van hulle te hou?

Hier is die antwoord: Jesus het hulle nie aan hulle voorkoms, IK, talente, besittings of persoonlikhede gemeet nie; nee, Hy het hulle aan hul potensiaal gemeet. Op die ou einde het hulle verander en aan sy verwagtinge voldoen. Nie in alle dinge of die hele tyd nie. Jesus het hulle egter vergewe en hulle geleer dat liefde ‘n verbintenis is wat ons eers met onsself, en dan met ander mense sluit.

Sielskos: Kol 1-2; Joh 16:19-33; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9

Jesus ken jou potensiaal

2022-06-27
Johannes 10:10 NLV

Het die ervarings wat jy deurgemaak het van jou ‘n ander mens gemaak as wat God jou bedoel het om te wees? Het die mense, doelwitte en plesier wat jy gekies het, gelei tot ‘n gevoel van hopeloosheid oor jou toekoms? Wanneer jy jou sin van waarde verloor, is dit moeilik om te glo dat God vir jou kan lief wees – maar Hy is. Hy weet dat daar binne jou die mens is wat groot dinge vir Hom kan doen. Dis hoekom Hy jou hart roer en jou laat weet dat Hy in jou lewe beweeg. Reageer dus op Hom in geloof. Waag dit om te glo dat Hy jou “‘n nuwe skepping” (2 Korintiërs 5:17 NLV), kan maak.

Vertrou eerder op Hom as op jouself. Of jou wonde nou self toegedien is of deur ander veroorsaak is, Jesus sal jou genees en jou weer ophef. Jy sê: ‘Jy weet nie watter dinge ek al gedoen het nie en hoeveel mense ek seergemaak het nie.’ Jesus doen egter. Hy wil die krom plekke in jou hart reguit maak. Jy moet Hom egter toegang tot elke area van jou lewe gee. Wanneer Hy jou hart binnekom, sal jy nooit weer dieselfde gebroke persoon wees nie.

Dawid se sondes het in ‘n nasionale skandaal ontaard. Toe God hom egter vergewe en herstel het, het hy geskryf: ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou van die dood, bekroon jou met liefde en medelye. Hy vul jou lewe met goeie dinge, vernuwe jou jeug soos ‘n arend s’n’ (Psalm 103:2-5 NLV). Let die voordele op wanneer jy jou lewe aan Christus toevertrou: vergifnis, genesing, verlossing van verwoestende gewoontes, liefde, medelye en vernuwing.

Sielskos: Hosea 11-14; Matt 21:33-46; Ps 17; Spr 14:13-16

Vergewe jou ouers (2)

2022-03-21
Lukas 6:37 NLV

Sodra jy verstaan dat ouers nie altyd in staat is om dit vir hulle kinders te gee wat hulle self nie ontvang het nie – naamlik liefde, versorging, aanvaarding en fisiese geneentheid – word dit makliker om hulle te vergewe.

Die skrywer Stormie Omartian sê: ‘Soms maak dit wat een ouer nie gedoen het nie, net so seer as die een wat mishandel het. ‘n Ouer se onbetrokkenheid en onwilligheid om in te tree en jou te red, voel soos verraad. Onvergifnis vir ‘n onbetrokke ouer is moeiliker om te herken, maar meer algemeen as wat ons dink. Vra God om vir jou te wys of jy enige onvergifnis het teenoor ‘n ouer wat nie tot jou redding gekom het nie. As dit daar is, moet jy daardie gevoelens eerlik hanteer.

Die eerste stap is om God se vergifnis te ontvang en toe te laat dat die realiteit daarvan ons diepste binneste binnedring. Wanneer ons besef hoeveel ons al vergewe is, het ons geen reg om iemand anders te veroordeel nie. Om vergewe en vrygestel te word van alles wat ons ooit gedoen het is so ‘n wonderbaarlike gawe, hoe kan ons dus weier om gehoorsaam te wees wanneer God ons vra om ander te vergewe?

Vergifnis is ‘n tweerigting straat. God vergewe jou en jy vergewe ander mense. Ons baseer ons besluit nie op dit wat ons voel ons wil doen nie, maar op dit wat ons weet reg is.’

Jesus het gesê: ‘Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie… As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (vers 37 NLV). Deur te kies om te vergewe en nie toe te laat dat iemand anders se sonde dit wat jy voel en doen voorskryf nie, word jy vry om in vrede te leef.

Sielskos: Job 11-14; Luk 18:31-43; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13

Vergewe jou ouers (1)

2022-03-20
Efesiërs 4:32 NLV

Daar is niks erger as die pyn wat ouers hul kinders toedien nie. Dikwels gebeur dit as gevolg van onkunde, maar dit beteken nie dat dit minder seer is wanneer jy aan die ontvangkant daarvan is nie.

‘n Christelike skrywer merk op: ‘Behoeftes waaraan daar nie in die kinderjare voldoen is nie, sal net so sterk in volwassenheid wees, maar dit sal kundig gekamoefleer wees. As jy as kind mishandel is, moenie mislei word om te dink: ‘Ek is wedergebore – dis nie veronderstel om steeds seer te maak,’ nie. Die feit dat jy steeds seer het, negeer nie jou wedergebore status of maak jou minder geestelik nie. Omdat mense geneig is om God op dieselfde manier as wat hulle hulle ouers beskou het, te sien, neem dit tyd vir genesing, verlossing en om die liefde van God te leer ken, voordat algehele vertroue plaasvind.

Om jou ouers te vergewe is ‘n groot deel van die genesing. Jy moet die vader wat jou nooit beskerm het nie, die moeder wat jou misbruik en mishandel het, die stiefpa wat nie lief was vir jou nie, die oupa of oom wat jou seksueel mishandel het, die ouer wat nooit daar was vir jou nie, die selfsugtige ouer, of die emosioneel gebrekkige ouer, vergewe. Hierdie bitter pynlike ervarings sal aanhou om jou seer te maak as jy nie al daardie pyn en bitterheid laat gaan nie en vir God vra om jou te help om te vergewe nie. Hy is die God van genesing, so Hy kan enigiets wat in jou verlede gebeur het, verlos. Hy kan die brug tussen jou en jou kinders, of ouers, of vriende, regmaak. Laat God toe om jou situasie te verlos, sodat dit omgedraai kan word en in die regte rigting kan begin beweeg.’

Sielskos: Lev 24:17-22; Deut 15:7-11; Matt 5:38-48

Vergewe ander mense (2)

2022-02-26
Jeremia 31:18 NLV

Die Bybel sê vir ons: “[Isak] het die putte wat sy pa gegrawe het… weer oopgegrawe… Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. ‘Dis ons water,’ het hulle gesê… Hy het weer verskuif en nog ‘n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot, ‘want,’ het hy gesê, ‘uiteindelik het die Here vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees'” (Genesis 26:18-22 NLV).

Wat ‘n wonderlike voorbeeld van vergifnis wat beoefen word. Gedurende ‘n droogte het Isak putte grawe, maar sy vyande het inbeweeg en die putte vir hulself toegeëien. Dit was nie regverdig nie, maar in plaas daarvan om te baklei, het Isak aanbeweeg en nuwe putte gegrawe – en God het hom ryklik geseën.

Die waarheid is dat God die leegheid in jou lewe sal vul wanneer jy diegene wat jou seergemaak het, vergewe. So lank as wat ons hierdie planeet met ander onvolmaakte mense deel, sal hulle ons seermaak. Ons kan dit nie vermy nie. Wanneer die wond diep sny, kan dit moeilik wees om te vergewe.

Beteken dit dat jy moet rondgaan en maak asof niks verkeerd is nie en jou gevoelens moet ontken? Nee, die eerste stap na genesing is om jou gevoelens te erken. Jesus het vir ons die tweede stap gegee: ‘…Bid vir hulle wat jou seermaak’ (Lukas 6:28 NLV). Wanneer jy dit doen, gebeur daar iets onverwags. Jou hart begin sag word en jy begin om die oortreder deur God se oë, in plaas van jou eie rou emosies, te sien. ‘Maar ek wil hulle nie vergewe nie!’ sê jy. Dan is daar stap drie. Erken jou onwilligheid om te vergewe en vra God om jou gewillig te maak. Bid: ‘…Bring ons terug en herstel ons…’

Sielskos: Eks 4-6; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15