Bid vir die regte woorde

2018-06-14
Kolossense 4:6 NLV

Bid: ‘Here, ek sluit by die psalmdigter Dawid aan en vra: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees…’ (Psalm 19:15 NLV). Ek besef dat die woorde wat ek spreek geweldige krag het, in beide my eie lewe en in my verhoudings. U Woord sê, ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV). Leer my om woorde te spreek wat altyd getrou aan u Woord is en wat U verheerlik. Help my om versigtig te wees om woorde te spreek wat ander mense opbou in plaas van afbreek, wat komplimenteer eerder as kritiseer, wat in liefde en waarheid gespreek word en nie deur my eie verwagtings en begeertes verdraai word nie, en wat vertroue en nie mismoedigheid meebring nie. Waar ek woorde gespreek het wat negatief of skadelik vir iemand anders was, vergewe my. Weerhou my daarvan om dinge te sê wat ander mense op enige manier seermaak of afkraak. Ek wil vriendelik met my woorde wees en ‘n tong hê wat genesing en seën bevorder (sien Spreuke 12:18). Help my om geloof in u Heerskappy oor my lewe te hê dat ek ‘…alles sonder kla of teëpraat’ (Filippense 2:14 NLV) kan doen. Help my om nie negatiewe dinge van myself te sê nie. Help my om onmiddellik op te hou wanneer ek ‘n kritiese woord begin sê. U woord sê, ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Laat my woorde U vandag eer en verheerlik. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 15:33-47; Ps 143; Spr 15:8-10

Barabbas – en jy

2018-05-15
Lukas 23:18 NLV

Die Bybel sê: ‘Hulle het dit egter saam met die menigte uitgekreet: ‘Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!’ (Barabbas was in die tronk gegooi oor ‘n oproer in die stad en oor ‘n moord)’ (verse 18-19 NLV). Net soos Barabbas, verdien ons om vir ons sondes te sterf. Vier tronkmure, deur vrees, seer en haat gebou, omring ons. Ons word deur ons verlede, ons verkeerde keuses en ons trots gevange gehou. Ons is skuldig bevind. Ons sit op die vloer van ‘n stowwerige sel en wag vir die finale oomblik. Ons laksman se voetstappe eggo teen die klipmure. Kop tussen die knieë, kyk ons nie op as hy die deur oopmaak nie; ons lig nie ons oë as hy begin praat nie. Ons weet wat hy gaan sê: ‘Tyd om vir jou sondes te betaal.’ Dan hoor ons egter iets anders: ‘Jy is vry om te gaan. Hulle het Jesus in jou plek geneem.’ Die deur swaai oop en die wag skel, ‘Loop!’ en ons bevind onsself in die oggendson, ons boeie is weg, ons misdade is vergewe en ons wonder, ‘Wat het nou net gebeur?’ Genade het gebeur! God het jou sondes weggeneem. Almal van hulle. Waarheen het Hy hulle geneem? Na die bopunt van ‘n heuwel genaamd Golgota. ‘Maar nou spreek God ons in sy onverdiende goedheid vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. Want God het Hom gestuur as ‘n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo…’ (Romeine 3:24-26 NLV). Jesus het jou lief en vergewe jou, en Hy het ‘n wonderlike plan vir jou lewe. Kom dus vandag na Hom toe.

Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 8:27-38; Ps 57; Spr 12:15-17

Hou op om ander te blameer en aanvaar verantwoordelikheid (3)

2018-05-13
Filippense 3:13 NLV

Hoe jou verlede ook al mag lyk, God het ‘n beter toekoms vir jou in gedagte. Voor jy egter jouself daarna kan uitstrek, moet jy die mense wat jou seergemaak het, vergewe, jouself vergewe en dit laat gaan. Wanneer jy dit doen, sal jy heel waarskynlik ‘n wye verskeidenheid emosies ervaar. Jy mag dalk woede ervaar en dink dat die lewe onregverdig is en dat dit nie is wat jy in gedagte gehad het nie. Jy het nooit verwag dat jy alleen vir jou lewe verantwoordelikheid moet neem nie. Jy mag dalk angstig voel, bang dat jy dit nie sal kan doen nie – en dat as jy misluk jy net jouself het om te blameer. Jy mag dalk vererg voel omdat jy nou jou lewe in ‘n nuwe lig moet oorweeg, vanuit ‘n ander perspektief. Jy mag dalk selfs hartseer voel oor die manier wat jy ander mense in die verlede blameer het, terwyl jy diep binne in jou geweet het dat jou lewe nie na wense as gevolg van jou eie keuses en besluite vorder nie. Jy mag dalk skaam voel oor die foute in jou verlede en onseker wees of jy regtig persoonlike verantwoordelikheid kan neem en vorentoe kan beweeg. Watter emosies ook al te voorskyn kom, weet net dat dit normaal is wanneer jy ‘n betekenisvolle lewensverandering maak. Erken dit wat jy voel; vra jouself af of jou gedagtes rasioneel is en of dit net ou vrese is wat met jou praat. Hou dan by jou besluit om op te hou om ander te blameer en neem verantwoordelikheid vir jou eie lewe. Die woord vir jou vandag is: ‘…vergeet dit wat agter [jou] lê, en strek [jou] uit na dit wat voorlê.’

Sielskos: Gal 5:22; Luk 19:11-26; Ps 36:5-9; Heb 10:19-23

Groei jou genade?

2018-04-23
2 Petrus 3:18 AFR83

Elke dag sal jy geleenthede kry om in genade toe te neem. Jy moet altyd oop en ontvanklik vir hulle wees. ‘n Ouma wat haar vyftigste huweliksherdenking gevier het, het die geheim van haar lang en gelukkige verhouding gedeel: “Op my troudag het ek besluit dat ek ‘n lys van tien van my man se foute sou maak, wat ek ter wille van ons huwelik sou oorsien. Ek het op die ou einde van die dag nooit die lys gemaak nie. Elke keer wat hy egter iets gedoen het waarvan ek nie gehou het nie, het ek vir myself gesê, ‘Gelukkig vir hom is dit een van die tien!'” Dis nou vir jou ‘n wyse dame! Fisiese intimiteit is iets wat ons bymekaar bring, maar om saam in genade te groei sal ons bymekaar hou. Wanneer iemand jou dus ontstel, in plaas van om met kwaai woorde of ‘n kwaai stilte te reageer, herinner jouself daaraan dat God jou nog ‘n geleentheid gee om in genade te groei. As jy nie te goed doen met sommige van die geleenthede wat Hy stuur nie, moenie bekommerd wees nie, Hy sal aanhou om nog geleenthede te stuur tot jy dit regkry! Wrewel is een van die duurste luukshede wat jy kan geniet. ‘n Diep-gesetelde wrok vreet aan jou gemoedsvrede soos ‘n dodelike kanker ‘n orgaan verwoes. Daar is inderdaad min dinge so hartseer soos ‘n persoon wat ‘n wrok jare lank vertroetel. Sonder vergifnis, word die lewe ‘n eindelose siklus van gebelgdheid en vergelding. Een van die geheime van ‘n lang en vrugdraende lewe is om almal en alles elke aand voor jy bed toe gaan te vergewe. Dis die sleutel tot persoonlike vrede. Raak dus ernstig daaroor om, soos die Bybel ons vermaan, in genade toe te neem.

Sielskos: Hand 12-13; Mark 4:10-20; Ps 103:13-22; Spr 10:30-32

Bewys God se liefde aan hulle

2018-04-22
Lukas 7:44 NLV

Lukas skryf: “En kyk, ‘n sekere vrou van losse sedes het gehoor dat Hy daar is en het ‘n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval en sy het dit met haar hare afgevee. Sy het sy voete bly soen en die aromatiese olie daaraan gesmeer. Toe die Fariseër, wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: ‘Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ‘n sondaar!'” (verse 37-39 NLV). Hierdie toneel het in Simon, ‘n godsdienstige leier wat meer besorg oor ‘reg en verkeerd’ as die seer van mense was, se huis afgespeel. Hy mag dalk teologies korrek gewees het, maar hy het medelye gekort. Jesus het hom daaroor gekonfronteer! ‘Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê: ‘Kyk na hierdie vrou’…’ Simon het haar as ‘n prostituut en verloorder gesien, maar nie Jesus nie. Hy het op die geskenk wat sy gebring het en die hart van liefde daaragter, gereageer. Toe Hy haar toekomstige potensiaal vir God se koninkryk bepaal het, het hy nie na haar sondige verlede gekyk of eers melding daarvan gemaak nie. Hy het haar trane gesien, haar behoefte verstaan en die godsdienstige skare geskok deur te sê, ‘…Jou sondes is vergewe’ (vers 48 NLV). Wees versigtig: Wanneer jy al ‘n geruime tyd in die kerk is en vergeet het hoe dit voel om aan die buitekant te staan, kan jou hart verhard word en kan jy versuim om God se liefde aan diegene wat dit nodig het, te bewys.

Sielskos: Gal 5:22; 2 Pet 3:3-15; Matt 5:39; 1 Sam 25:1-42