2022-02-14
1 Samuel 20:17 NLV
In die hoop om hulle verhouding te red, het ‘n vrou haar man na ‘n berader toe gesleep. Gedurende hulle sessie het die berader vir die man gevra: ‘Sê jy vir jou vrou jy is lief vir haar?’ Die man het gemompel: ‘Ek het vir haar gesê ek is lief vir haar toe ons getrou het – en as dit ooit verander, dat ek haar sal laat weet.’
Mense weet dat jy vir hulle lief is, wanneer jy dit vir hulle wys en wanneer jy dit vir hulle sê. Die verhouding tussen Jonatan en Dawid was so sterk dat hulle bereid was om hul lewens vir mekaar af te lê. Tog sê die Bybel: ‘Jonatan het sy eed van vriendskap met Dawid hernu, want… hy het hom liefgehad soos homself.’
Wanneer jy ‘n geliefde verloor, besef jy dat verhoudings baie belangriker as besittings is. Wanneer ‘n mens net ‘n kort tyd oor het om te lewe, verander jou perspektief radikaal. Dit maak dat jy elke kosbare oomblik met belangrike woorde wat jy nog nie gesê het nie en belangrike dinge wat jy nog nie gedoen het nie, wil vul.
Moenie toelaat dat jou selfgesentreerdheid wat agter ‘n masker van ambisie of godsdienstige ywer wegkruip, jou daarvan weerhou om jou liefde aan die mense in jou lewe wat nodig het om dit te hoor, uit te druk nie. Maak daardie oproep. Stuur daardie epos. Koop daardie blomme. Sê: ‘Ek is lief vir jou.’
Ja, dis belangrik om jou Godgegewe opdrag in die lewe te vervul, maar nie ten koste van die mense wat werklik saak maak nie. Klein woordjies wat mense nooit moeg word om te hoor nie, is: ‘Ek is lief vir jou.’ Dis nie ingewikkeld nie – dit verg net bedagsaamheid.
Sielskos: Ef 5:21-33; Hoogl 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19
2021-12-26
Nehemia 8:10 AFR53
Die woord ‘holiday’ kom van die ou Engelse woord ‘haligdæg’ af, wat ‘heilige dag’ beteken. Dus, toe Nehemia verklaar het: ‘…Hierdie dag is heilig…’ het hy verklaar dat dit ‘n feesviering is; hulle het ‘…dié dag geëet en gedrink voor die aangesig van die Here met groot blydskap…’ (1 Kronieke 29:22 AFR53). Deesdae het oormatigheid en oorbesteding sinoniem met Kersfees geword, wat Christene huiwerig maak om dit te vier.
Jack Hayford skryf egter: ‘Dikwels is dit diegene wat onlangs gered is wat hulleself toelaat om – miskien vir die eerste keer – die wonder en volheid van Kersvreugde en vieringe binne te gaan. Kersfees is meer as net vrolikheid. Kersfees is magtig. Feesviering – die ongebonde genieting daarvan, liefde, lag, geskenke en om geskenke te gee, kersbome en versierings, kersliedere en klokke – alles daarvan, het ‘n inherente potensiaal om magtig te wees.
Die enigste faktor wat teenwoordig moet wees, is die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Wanneer Hy teenwoordig is, kan die tradisies van Kersfees mense seën, versterk, genees en herstel. Wanneer Hy afwesig is, klink Kersliedere hol. Kerswense en glimlagte is dan oppervlakkig. Ligte en versierings laat mens verlate voel. Waar die Heilige Gees egter teenwoordig is, is daar mag om verskanste gewoontes te verander, om harte te transformeer, om griewe en verwagtinge te laat gaan en om die skaduwees weg te jaag.
Laat Hom hierdie Kersfees toe om jou te besoek. Verwelkom die Heilige Gees om in jou lewe te beweeg. Veroorloof jouself om verwonderd in die grootsheid daarvan te staan. Reik uit na die mense rondom jou; bemoedig, seën, gee, gaan kuier, nooi uit, deel en hef harte op waar jy ook al gaan. Teen die tyd wat die nuwejaar aanbreek, sal jy agterkom dat Kersfees wonderlik en selfs wonderbaarlik magtig was.’
Sielskos: Jes 11:1-10; Luk 2:21-38
2021-11-13
1 Johannes 4:7 NLV
Wanneer ons bekendes tussen meervoudige huwelike sien beweeg en hulle van een verhouding na die ander sien spring, herinner dit ons dat jy charisma sonder karakter, talent sonder betroubaarheid en vaardighede sonder blywende krag, kan hê. ‘n Strokiesprent in ‘n tydskrif wys ‘n paartjie wat tydens hulle huwelikseremonie voor die dominee staan. Die dominee kyk na die paartjie en sê: ‘Die korrekte antwoord is: ‘Ek doen,’ nie ‘Dis seker ‘n probeerslag werd,’ nie.’
Liefde – in die huwelik en enige ander verhouding – verg onselfsugtigheid en toewyding van ons kant af. Anders as populêre opinie, kom dit nie maklik of natuurlik vir ons nie. Liefde is gesentreerd op ander en selfopofferend. Die waarheid is dat ons almal selfgesentreerd is; ons gee min in ons natuurlike self om om opofferings vir ander te maak, tensy ons hoogs gemotiveerd is en goed daarvoor beloon word.
Dis hoekom die Bybel ons leer dat een van die geheime om ‘n intieme verhouding met iemand anders te hê, is om ‘n intieme verhouding met God te hê. Johannes, die Apostel, skryf: ‘Geliefdes, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want ware liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik. Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God die liefde self is’ (verse 7-8 NLV).
As jy Hom vra om dit te doen, sal God daardie tipe liefde in jou hart plaas. Hier is hoe Hy dit doen: ‘…Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (Romeine 5:5 NLV). Hierdie tipe liefde groei soos ons dit volwasse laat word. Dit ontwikkel soos ons dit voed. Dit brei uit soos ons daarin volhard. Hierdie tipe liefde het blywende krag!
Sielskos: 2 Kro 1-4; Joh 10:22-42; Ps 83:1-8; Spr 26:13-16
2021-09-11
1 Johannes 4:8 NLV
Liefde is nie net ‘n selfstandinge naamwoord nie; dis ‘n werkwoord. Dis nie wat jy dink of voel nie; dis wat jy doen. Toe Moeder Teresa in 1948 in Kalkutta aankom, was een van die eerste dinge wat sy gedoen het om vyf straatkinders op te laai en hulle na haar ‘skool’ toe te bring. Voor die einde van die jaar het sy een-en-veertig studente gehad wat oor higiëne in haar klaskamer, wat in ‘n publieke park geleë was, geleer het.
Binne twee jaar het sy haar aandag daarop begin vestig om vir die sterwendes te sorg. ‘n Bedelaar wat sterwend op ‘n ashoop gevind is, is na haar toe gebring. Honger en lyding het hom in ‘n wesenlike geraamte verander. Moeder Teresa het hom huis toe gevat en in die bed gesit. Toe sy hom probeer was, het sy ontdek dat sy lyf met wurms oortrek was. Dele van sy vel het afgekom toe sy hom probeer bad het. Vir ‘n kort oomblik was die man by sy bewussyn en het hy vir haar gevra: ‘Hoekom doen jy dit?’ Moeder Teresa het met twee woorde, wat die kenmerk van haar lewe was, geantwoord: ‘Vir liefde!’
Besige mens, dis maklik om mense wat in jou pad staan om dinge gedoen te kry, as irritasies en ongerief te sien. Dis moeilik om bo jou selfgesentreerde gevoelens uit te rys en hulle lief te hê. Miskien dink jy dat hierdie nie ‘n belangrike saak is nie. Dink weer; die Bybel sê: ‘Geliefdes, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik. Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God die liefde self is’ (vers 7-8 NLV).
Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Luk 21:1-11; Ps 78:17-31; Spr 20:15-19
2021-06-04
1 Korintiërs 13:8 NLV
Liefde is ‘n kragtige mag en die Bybel sê dat dit nooit sal vergaan nie. Die meeste van ons het al die verhaal van Helen Keller gehoor, wat as kleuter na ‘n siekbed blind en doof gelaat is, maar ‘n impak op die wêreld met haar moed en goedhartig gemaak het. Daar is egter ‘n ‘storie agter die storie.’
Dit gaan oor ‘klein Annie,’ wat in die kelder van ‘n inrigting vir geestesversteurdes buite Boston toegesluit was – die enigste plek vir diegene wat hopeloos waansinnig was. Met tye het Annie soos ‘n dier opgetree en mense wat naby haar hok gekom het, aangeval. Ander kere, het sy daar in ‘n waas gesit.
‘n Ouerige verpleegster, wat hoop vir al God se kinders gehad het, het egter begin om haar middagete in die kelder buite klein Annie se hok, te eet. Sy het gehoop om op ‘n manier liefde aan Annie te kommunikeer. Een dag het sy haar nagereg langs Annie se hok gelos. Die volgende dag het die verpleegster gesien dat dit opgeëet was, dus het sy begin om elke Donderdag vir Annie nagereg te bring. Soos die weke verbygegaan het, het die dokters begin om ‘n verbetering in klein Annie te sien. Na verskeie maande, het hulle haar na die algemene saal geskuif. Uiteindelik het die dag aangebreek dat hierdie ‘hopelose saak’ kon huis toe keer. Teen daardie tyd was Annie al ‘n volwassene en sy het besluit om by die inrigting aan te bly en ander mense te help. Een van diegene wat Anne Sullivan – klein Annie – voor gesorg het, geleer het en gekoester het, was Helen Keller.
Omdat God vir ons lief is en nooit oor ons opgee nie, moet ons dit ook vir mekaar doen. Dis die woord vir jou vandag.
Sielskos: Op 15-18; Mark 14:12-26; Ps 124; Spr 12:26