‘n Liefde vir God se Woord

2022-05-20
Psalm 119:105 NLV

Die Psalmdigter beklemtoon twee belangrike dinge wat Bybelstudie vir jou doen: 1) Dit wys jou wat jou geestelike toestand is. In die Bybelse tyd was daar geen geteerde paaie nie, wanneer gaste dus iemand se huis binne gegaan het, het hulle eers stilgestaan en die sand, grond en vuilheid van hulle voete afgewas. Dis wat Bybelstudie vir jou doen. Dawid het gesê: ‘Hoe kan ‘n jongmens [en ‘n ouer een] ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord’ (Psalm 119:9 NLV).

2) Dit wys jou die regte rigting om te gaan. ‘U woord is… ‘n lig op my pad.’ Wanneer jy voor ‘n belangrike besluit te staan kom en nie weet watter kant toe om te gaan nie, sal God jou deur sy Woord lei. Dawid, wat lief was vir God se Woord en konstant daaroor gemediteer het, het gebid: ‘Leer my om u wil te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei op ‘n pad wat gelyk is’ (Psalm 143:10 NLV). Baie van die foute wat ons maak kon voorkom gewees het as ons lank genoeg stilgestaan het om God se leiding te soek. Hy weet wat voor ons lê; ons doen nie. Dus: ‘Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg’ (Psalm 37:5 NLV).

Net soos kinders geleer moet word om ‘n smaak vir gesonde kos in plaas van gemorskos te ontwikkel, so moet jy ‘n smaak vir God se Woord ontwikkel. Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek verlustig my in u gebooie wat ek baie liefhet’ (Psalm 119:47 NLV). ‘U beloftes is deeglik beproef; u dienaar het dit lief’ (Psalm 119:140 NLV). Vra God vandag om jou ‘n liefde vir sy Woord te gee. Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord!

Sielskos: Titus 1-3; Matt 10:32-42; Ps 75; Spr 11:23

Weet wanneer om te laat gaan

2022-04-23
Efesiërs 5:31 NLV

Wanneer ons kinders klein is, is ons so besig om hulle van dinge soos liefde, beskerming, dissipline, opleiding en outoriteit te voorsien, dat dit voel of hierdie verantwoordelikhede vir ewig gaan aanhou. Dit doen egter nie. Wanneer ons kinders hulle laat tienerjare of vroeë twintigs bereik, moet ons die deur na die buitewêreld vir hulle oopmaak. As jy tans hierdeur gaan en angstig voel, moet jy probeer besef dat jy in een van die uitdagendste en moeilikste dele van ouerskap is. Jou neiging om die teuels styf vas te hou om jou kinders daarvan te weerhou om foute te maak, is natuurlik. Jou kinders is egter meer geneig om goeie keuses te maak as hulle nie gedruk voel om te rebelleer om sodoende hul vryheid te bereik nie.

Die eenvoudige waarheid is dat verantwoordelikheid en volwassenheid die beste in ‘n atmosfeer van vryheid floreer. Soos die Skrif sê: ‘Daar staan mos: “‘n Man sal weggaan van sy pa en ma…”‘ Die geheim tot sukses is om outonomiteit vir jou kind op die regte tyd, in die regte hoeveelheid en met die regte houding, te gee. Jou doelwit moet wees om onafhanklikheid bietjie vir bietjie deur die jare toe te laat, soos jou kinders in staat is om nuwe verantwoordelikheid te bestuur. Die finale vrystelling sal dan ‘n klein stappie in die rigting van vryheid, in plaas van ‘n vryval in anargie, verteenwoordig.

Ons almal leer uit ons foute uit. Jy het, en soveel as wat jy dit probeer vermy, sal jou kinders ook. ‘Wat moet ek dus doen?’ vra jy. Bid daagliks vir hulle, laat hulle in God se sorg vry en maak seker dat hulle weet dat jy altyd vir hulle sal lief wees en daar sal wees vir hulle.

Sielskos: 1 Kor 15-16; Matt 1:1-17; Ps 103:13-22; Spr 10:14

‘n Hart van vleis

2022-04-09
Esegiël 36:26 ABA

Wanneer jy seerkry, is dit maklik om verskansings op te rig. Wees egter versigtig – ‘n beskermende muur kan in ‘n ‘klip-hart’ verander: wederstrewig, ondeurdringbaar en onontvanklik; selfs vir God.

Een Christenskrywer merk op: ‘Die enigste ding wat pynliker, met ernstiger gevolge, as ‘n gebroke hart is, is ‘n verharde hart. Paulus waarsku ons daarteen om toe te laat dat ons harte verhard: ‘…hulle is ver van God en hulle het nie die ware lewe nie omdat hulle niks van God wil weet nie. Hulle harte is so hard soos klip’ (Efesiërs 4:18 ABA).

‘n Sagte hart is nie swak of naïef nie. Inteendeel, wysheid, ervaring en geloof versterk ‘n hart wat deur deernis verweer en deur barmhartigheid besaai is. Na ‘n week wat soos een pynlike toets op die volgende gevoel het, het ek my beste vriendin in trane gebel. ‘Hoekom eindig dit nie? Hoe sterk wil God hê ek moet wees? Ek kan dit nie langer vat nie!’ Sy het uit haar Godgegewe wysheid geantwoord: ‘Miskien is dit andersom. Jy was nou vir lank sterk genoeg. God wil hê dat jou hart sag en oop moet wees.’

Ek het nie so daaraan gedink nie. Dis maklik om ‘n klip-hart in reaksie op hartseer, verraad of skande te ontwikkel. Ons dink dat dit ons van nog pyn sal beskerm. Die probleem met klip is egter dat dit niks voel nie – nie pyn nie, maar ook nie liefde nie. Dit is ‘n strik wat soos selfbehoud voel, maar inderwaarheid selfvernietigend is. God wil vir jou ‘n hart van vleis gee. Met sy liefde kan jy aan die einde van ‘n pynlike seisoen van verlies met ‘n hart wat toegewyd en gereed is vir die gawes wat Hy vir jou wil gee, na vore kom.’

Sielskos: Lev 15-17; Luk 22:54-62; Ps 25:1-7; Spr 10:1

‘Dankie, Mamma’

2022-03-27
Efesiërs 6:2 NLV

Daar is geen opdrag op aarde wat die verskeidenheid vaardighede en begrip vereis wat deur ‘n ma benodig word om haar alledaagse pligte na te kom nie. Stop en dink wat haar werk vereis. Sy moet die inwonende sielkundige, dokter, teoloog, onderwyser, verpleegster, sjef, taxibestuurder, brandweerman en by geleentheid die polisieman, wees. Dink wat dit jou sou kos om al hierdie vaardighede te huur. Selfs al kon jy, hoe sou jy weet dat jy hulle kan vertrou?

Gaan in die middel van die oggend saam met Ma op ‘n besoek aan die pediater. Nadat sy vyf-en-veertig minute met ‘n moeilike, koorsige kind op haar skoot deurgebring het, word sy en die baba uiteindelik by die spreekkamer ingeroep. Die dokter ondersoek die siek kind en sê dan met ‘n reguit gesig vir die vrou: ‘Maak seker dat jy hom vir vier of vyf dae stil hou. Moenie toelaat dat hy die uitslag krap nie. Maak seker hy hou sy medisyne in en jy sal ook sy stoelgange moet dophou.’ ‘Reg so, dokter! Enige ander voorstelle?’ ‘Net een. Hierdie siekte is aansteeklik, so hou jou vier ander kinders weg van hom af en dan sien ek julle weer oor ‘n week.’

Die wonderbaarlike ding is dat die meeste ma’s hierdie werk gedoen sou kry – en hulle sou dit met liefde en wysheid doen. Dit gebeur omdat God hulle goed gemaak het met wat hulle doen. Hy het hulle ook ‘n passie vir hulle kinders gegee. Hulle sal, letterlik, hulle lewe vir die kinders wat aan hulle sorg toevertrou is, neerlê. Dis hoekom hulle ons bewondering verdien. Die woord vir jou vandag is dus – ‘Eer jou… moeder…’.

Sielskos: 1 Sam 17:4-51; Ef 6:10-18

Oefen om onselfsugtig te wees

2022-02-28
2 Korintiërs 12:15 NLV

Om mense te help, bring groot vervulling mee. Wanneer jy jou dae gebruik om ander te dien, kan jy jou kop in die aand neerlê en rustig slaap. Selfs al het jy die meeste van jou lewe bestee om selfsugtige winste na te jaag, is dit nooit te laat om jou hart te verander nie.

Dis wat Alfred Nobel gedoen het. Hy was geskok toe hy sy doodsberig in die koerant sien. (Sy broer het gesterf en die redakteur het foutiewelik Alfred se naam in die berig genoem, omdat die plofstof wat sy maatskappy gemaak het, baie mense doodgemaak het.) Dus het Nobel besluit om die res van sy lewe daaraan te wy om vrede te bevorder en erkenning te gee aan bydraes tot die mensdom. Dis hoe die idee van die Nobelpryse ontstaan het!

Wanneer jy buite jouself kyk en ‘n bydrae aan ander mense maak, begin jy werklik lewe. Onselfsugtigheid is sy eie beloning; dit hang nie van ander mense se reaksie af nie. Dis die beginsel waarvolgens die apostel Paulus gelewe het: ‘Ek sou baie graag alles wou spandeer vir julle lewe, ja, ook myself. As ek julle uitermate liefhet, hoe werk dit dat julle my dan minder liefhet?’ (vers 15 NLV).

Wanneer jy ‘n vierjarige sien, verwag jy selfsug. Wanneer jy dit egter in ‘n veertigjarige sien, is dit nie baie aantreklik nie. Van al die kwaliteite wat jy kan najaag, blyk onselfsugtigheid die grootste verskil te maak om ander deugde aan te kweek. Ja, dit dreun teen die menslike aard in. As jy egter leer om op ‘n onselfsugtige wyse te dink en ‘n gewer te word, word dit makliker om ander deugde soos dankbaarheid, liefde, respek, geduld en dissipline, te ontwikkel.

Sielskos: Eks 7-9; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19