2023-03-08
Ps 106">Psalm 23:6 DB
Die Psalmdigter het nie woorde soos ‘miskien,’ of ‘dalk,’ of ‘moontlik,’ of ‘hopelik’ gebruik nie. Nee, hy sê: ‘sal,’ wat ‘n term van sekerheid is. ‘Sal’ beteken vir seker; sonder twyfel!
Daar is baie dinge in die lewe waarvan jy nie seker kan wees nie. Jy gaan vir ‘n doktersondersoek en ontdek dat jy ‘n kwaadaardige gewas het. Jy werk vir dieselfde maatskappy vir jare met die geloof dat jou werk veilig is, totdat hulle jou as gevolg van finansiële redes afdank. Jy bid vir jou kinders, leef voorbeeldig en leer hulle wat reg en verkeerd is, maar bevind jou dan een nag by die polisiestasie nadat hulle as gevolg van dronkbestuur of dwelms gearresteer is.
As verloste kind van God, is hier twee dinge waarvan jy seker kan wees: God se goedheid en genade. Wat is jou konsep van God? Dis ‘n baie belangrike vraag, dink dus daaroor na voor jy antwoord. Jou konsep van God sal jou vertroue in Hom bepaal. Dawid was ver van perfek af. Sommige van sy mannewales sou die voorblad van die skinderblaaie gehaal het. Hy het egter nooit aan God se goedheid en genade teenoor hom getwyfel nie: ‘…Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis’ (Psalm 56:10 NLV). Jesus het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).
Sy goedheid waarborg dat daar aan elke behoefte voldoen kan word en sy genade waarborg dat elke sonde vergewe kan word. Net soos skaaphonde verlore skape terug na die trop toe dryf, so sal God se goedheid en genade jou elke keer terug na sy liefdevolle arms toe dryf.
Sielskos: Eks 28-29; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2
2022-12-28
Jesaja 43:19 NLV
Die lewe sal dit wat jy deurlopend voor jou hou, manifesteer. Paulus sê: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV), en kreatiwiteit en visie is deel van die pakket. Jy sê: ‘Maar ek het probleme. Ek verdrink in die skuld. Ek is eensaam.’ Moenie dat daardie beeld wortel skiet nie. Skilder ‘n nuwe prentjie. Sien jouself waar jy sterker en gesonder is, hoër uitstyg en jou drome bewaarheid word. Laat die beeld van oorwinning ‘n houvas op jou kry.
Herinner jouself aan die volgende Skriftuurlike waarhede: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het…’ (Psalm 118:24 NLV). ‘Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus…’ (Romeine 8:37 NLV). ‘Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons één is met Christus, altyd saamneem in sy triomftog…’ (2 Korintiërs 2:14 NLV). ‘Want U seën die vromes, Here, u genade is vir hulle soos ‘n skild’ (Psalm 5:13 NLV). ‘U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe…’ (Psalm 23:6 NLV).
In Bybelse tye is wyn in leersakke gestoor, maar soos hulle verouder het, het die sakke hul buigsaamheid verloor. Nuwe wyn het altyd nuwe leersakke geverg. Net soos jy nie nuwe wyn in ou leersakke kan gooi nie (sien Matteus 9:17), kan God nie vir jou ‘n nuwe visie gee totdat jy die ou beelde en houdings wat jy in jou gedagtes ronddra, verander nie. God sê: ‘Ek gaan iets nuuts doen. Dit het alreeds begin gebeur! Sien julle dit nie?..’ Hy is gereed om vandag iets nuuts in jou lewe te doen. Is jy gereed om jou ou denkwyse te verander en plek daarvoor te maak?
Sielskos: Sag 6-9; Joh 20:10-18; Ps 117; Spr 31:18-21
2022-12-11
Kolossense 3:12 NLV
Wanneer jy in die oggend opstaan, moet jy jouself nie net fisies nie, maar ook geestelik en emosioneel aantrek. Jy moet vir jouself vra: ‘Watter tipe houding gaan ek vandag dra? Sal ek oorheersend wees of saamwerk? Positief of negatief? Bemoedigend of krities? Selfsugtig of dienend?’ Jy sê: ‘Maar wanneer ek vriendelik is, maak mense misbruik van my.’ Ja, soms sal dit gebeur.
Ten spyte van die risiko’s, is daar egter twee redes om vriendelik te wees: 1) ‘Dit is mos [God se] onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het…’ (Efesiërs 2:8 NLV). Genade en vriendelikheid loop altyd hand aan hand! Die digter Robert Burns het gesê dat die vriendelike hart die meeste na God aard.
2) Omdat jy wil hê dat mense vriendelik teenoor jou moet wees en jou goed moet behandel. ‘Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen…’ (Matteus 7:12 NLV). As jy ongeskik is, sal mense ongeskik teenoor jou wees. As jy egter vriendelik is, sal die meeste mense op dieselfde manier reageer. ‘Iemand wat hom beywer vir reg en liefde, ervaar ‘n vol lewe, geregtigheid en eer’ (Spreuke 21:21 NLV).
Hier is nog ‘n rede om vriendelik te wees: “‘n Mens wat vrygewig is, baat self daarby. ‘n Wrede mens vernietig homself” (Spreuke 11:17 NLV). Wanneer jy dus vriendelik teenoor ander mense is, doen jy jouself eintlik ‘n guns. Kom ons lees dit weer: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het om Syne te wees en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld’ (Kolossense 3:12 NLV).
Gaan dus uit en probeer om een hele dag so te lewe.
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3
2022-04-14
2 Korintiërs 3:5-6 NLV
Dit het goed met Dawid gegaan. Hy het oorlog na oorlog gewen. Alles wat hy aangeraak het, het in goud verander! Sukses kan egter na jou kop toe gaan en Dawid was geen uitsondering nie. Hy het begin wonder: ‘Hoe sterk is ons regtig?’ Op daardie punt het hy ‘n sensusopname gedoen en ontdek dat hy 1 100 000 mense wat militêre diens kon lewer…’ (1 Kronieke 21:5 NLV), gehad het. Dit kan enigeen van ons in die versoeking bring om te dink: ‘Met ‘n weermag van hierdie grootte en ons rekord van suksesse, het ons nie nodig om tot God te bid of Hom vir ‘n plan te vra nie.’ Op daardie punt het God ingetree, Dawid geoordeel en sewentigduisend Israeliete het onnodig gesterf (sien vers 14 NLV).
Hier is dus ‘n ander aspek van leierskap waarvan jy bewus moet wees: Jou foute het die potensiaal om ander mense seer te maak. Jy moet nie net verantwoording teenoor diegene bo jou doen nie; jy is verantwoordelik vir die mense onder jou. As jou goeie besluite die vermoë het om mense te seën en hulle te lei, het jou slegte besluite die potensiaal om hulle skade aan te doen.
“En Dawid het vir God gesê: ‘Ek was die een wat die sensus beveel het! Ek is die een wat gesondig het en verkeerde dinge gedoen het!.. O Here my God, laat u woede teen my en my familie ontbrand, maar moenie u volk vernietig nie!'” (vers 17 NLV). God het genadiglik Dawid se gebede beantwoord.
Jy het dus God se leiding vir jouself, die mense rondom jou en vir die genade om verantwoordelikheid te aanvaar wanneer jy misluk, nodig. Moenie jou mislukkings probeer wegsteek, ander probeer blameer of vir God probeer weghardloop nie. Erken jou foute, groei deur hulle en gaan voort om wyser te word.
Sielskos: Lev 24-25; Luk 23:18-25; Ps 69:1-6; Spr 10:5
2022-04-03
Romeine 6:14 NLV
As jy rose wil kweek, moet jy oorlog teen onkruid voer; andersins sal hulle jou tuin oorneem. Met ander woorde, jy moet die onkruid uitroei! Daar is ‘n geestelike parallel wat hier getrek kan word: Tensy jy sonde beslissend hanteer, sal dit jou lewe oorneem.
Paulus stel dit so: ‘Ons weet dat ons ou sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde. Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe. Ons weet dit omdat Christus uit die dood opgewek is en nooit weer sal sterf nie. Die dood het geen mag meer oor Hom nie. Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God. Julle moet dus ook verseker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle één is met Christus. Julle moenie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie. Julle is betrokke in ‘n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking. Die sonde mag hoegenaamd nie oor julle heerskappy voer nie. Julle leef immers nie meer onder die verslawende mag van die wet nie, maar onder die bevrydende mag van die genade’ (verse 6-14 NLV).
Die woord vir jou vandag is dus – sê nee vir sonde!
Sielskos: Josh 2:1-24; Hand 9:20-30