Nie geregtigheid nie, maar genade

2024-10-25
1 Johannes 2:1 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat sy foto laat neem het. Toe hy dit sien, het hy vir die fotograaf gesê: ‘Hierdie foto laat nie reg aan my geskied nie!’ Die fotograaf het na hom gekyk, geglimlag en gesê: ‘Met ‘n gesig soos joune het jy nie geregtigheid nodig nie; jy het genade en medelye nodig!’ Dis die situasie waarin ons ons almal bevind. Die rede hoekom God genade en medelye aan ons bewys, is omdat Jesus namens ons aan al die eise van God se geregtigheid aan die kruis voldoen het.

Sommige mense dink dat God se genade (onverdiende guns) versoening doen vir al jou sondes, tot op die oomblik wat jy Christus jou Verlosser maak. Daarna moet jy dit verdien en deur jou optrede bewys dat jy dit waardig is. In plaas daarvan om dus alleenlik op Christus se optrede aan die kruis te vertrou, vertrou hulle ook op hul eie optrede. Hier is egter die probleem: As om hemel toe te gaan daarvan afhang dat jy elke liewe verkeerde gedagte en daad onthou en dit bely, wat gebeur dan as jy een van hulle vergeet?

Jy hoef dit egter nie met jou optrede te verdien nie. God het dit alles onder beheer! ‘As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige. Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom’ (verse 1-2 NLV). Net een persoon voldoen aan God se standaarde: Jesus! Wanneer jy jou vertroue in Hom plaas, word jy onvoorwaardelik deur God aanvaar en het Hy jou onvoorwaardelik lief.

Sielskos: Jes 8-11; Joh 6:1-24; Ps 126; Spr 27:17-19

Genade en vrymoedigheid

2023-09-11
Hebreërs 4:16 NLV

Indien jy onwaardig voel om God in gebed te nader, stop en lees hierdie woorde: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (vers 16 NLV). Let drie belangrike dinge op:

1) Wanneer jy genade nodig het, kan jy God met volle vrymoedigheid nader. Hoekom? Omdat jy na ‘n troon van genade en barmhartigheid, nie na ‘n troon van veroordeling nie, gaan. Al jou sondes – in die verlede, hede en toekoms – is voor betaal die oomblik toe Jesus gesê het: ‘Dit is volbring.’ Satan wil hê dat jy te veroordeel, skuldig en onwaardig voel om God te nader. Die oomblik wat jy egter jou vertroue in Christus plaas, klee God jou in Christus se geregtigheid. Jy kan dus altyd met volle vrymoedigheid na Hom toe gaan.

2) Wanneer jy meer genade nodig het, bid meer. God het al die genade wat nodig is om jou te help, maar jy moet na sy troon toe gaan en daarvoor vra. Die Bybel sê dat ons in genade moet groei en as jy nie elke dag bid nie, groei jy nie in jou geestelike lewe nie. Wat is dus die antwoord? Bestee meer tyd by die troon wat genade uitdeel.

3) God se genade word volgens jou behoefte op daardie oomblik, gegee. Hy sal môre se genade vir jou eers môre gee, so moenie eers die moeite doen om daarvoor te vra nie. Moet egter nie bekommerd wees nie; die aanbod van genade wat jy in Christus het, sal nie môre – of ooit – opraak nie! Dit beteken dat jy altyd welkom is en nie te dikwels na die troon van genade kan gaan nie.

Sielskos: Eseg 22-23; Mark 12:1-12; Ps 78:9-16; Spr 20:11-14

Hoe kon Hy dit doen?

2023-04-07
Romeine 5:8 NLV

As jy al Schindler’s List gekyk het, het jy seker na die tyd gevra: ‘Hoe kon hulle dit gedoen het?’ Die storte… die oonde… die skoorstene wat menslike oorskot uitrook. Treine wat daagliks met moeders, vaders, kinders en bejaardes opdaag – soos beeste op pad na ‘n slagplaas. Die ergste van alles – soldate wat bevele uitvoer sonder om ‘n oog te knip. Hoe kon hulle dit doen?

Die antwoord is sonde! As jy dink dat slegs Hitler en sy trawante ‘n monopolie op sonde besit, dink weer! Dawid het gesê: ‘Want ek is as sondaar gebore en was dit voor my geboorte’ (Psalm 51:7 NLV). Sy eie ongure hoofstuk van owerspel en moord bevestig dit.

Lees die volgende opsomming wat ons almal beskryf: ‘Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ‘n enkele een nie. Hulle kele is ‘n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs’ (Romeine 3:12-14 DB).

Jy moet dit verstaan sodat jy die volgende kan waardeer: ‘God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Wanneer jy hierdie Skrifgedeelte lees, verander die vraag na: ‘Hoe kon Hy dit doen?’ Dank God dat ons nie die straf kry wat ons verdien nie. Ons het egter gekry wat ons nodig het – genade!

William R. Newell het geskryf: ‘Oh, the love that drew salvation’s plan! Oh, the grace that brought it down to man! Oh, the mighty gulf that God did span at Calvary!’ Neem vandag ‘n oomblik en dank God vir die genade wat jou verlos het. Dis waaroor Goeie Vrydag gaan.

Sielskos: Gen 22:1-18; Luk 23:26-49; Ps 22; Jes 53

Gee vandag jou probleem vir God

2023-03-23
Psalm 55:23 NLV

As jy in moeilike tye grootgeword het, doen jy outomaties een van die volgende twee dinge: 1) Vertrou meer op God omdat jy sy getrouheid al ervaar het. 2) Dink, bekommer en praat aanhoudend oor die ‘wat as’ in die lewe.

Daar is baie om oor te dink, want die toekoms rus in God se hande, nie joune nie. Dis moontlik vir iets om baie groter as wat dit waarlik is, vir jou voor te kom. Dis die kern van bekommernis. Dis soos ‘n sneeubal; dit begin klein, maar soos jy dit oor en oor in jou gedagtes rol, word dit groter en groter totdat dit die potensiaal het om jou te begrawe.

Wat is dus die antwoord? ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Vul jou hart met God se Woord. Ontwikkel dan die gewoonte om dit wat in jou hart is, meer werklik vir jou te laat word as dit wat jy sien, dink of voel. Jy kan kies om aan dit wat God kan doen, in plaas van dit wat jy nie kan doen nie, te dink.

As jy aanhou om oor die ingewikkeldheid van jou situasie obsessief te wees, sal jy in wanhoop opeindig. Met ander woorde, jy sal vasgevang voel. Wanneer dit gebeur, is dit maklik om paniekerig te raak en irrasionele dinge te doen wat net die probleem vererger.

In stede daarvan, ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie.’ Die Here sal jou versterk, ondersteun en jou staande hou. God mag jou nie onmiddellik uit die situasie neem nie, maar sy onderhoudende genade sal jou daardeur bring. Gee vandag jou probleem vir God.

Sielskos: Job 18-20; Luk 20:9-26; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18

Nie ‘hopelik’ nie, maar ‘verseker’

2023-03-08
Ps 106">Psalm 23:6 DB

Die Psalmdigter het nie woorde soos ‘miskien,’ of ‘dalk,’ of ‘moontlik,’ of ‘hopelik’ gebruik nie. Nee, hy sê: ‘sal,’ wat ‘n term van sekerheid is. ‘Sal’ beteken vir seker; sonder twyfel!

Daar is baie dinge in die lewe waarvan jy nie seker kan wees nie. Jy gaan vir ‘n doktersondersoek en ontdek dat jy ‘n kwaadaardige gewas het. Jy werk vir dieselfde maatskappy vir jare met die geloof dat jou werk veilig is, totdat hulle jou as gevolg van finansiële redes afdank. Jy bid vir jou kinders, leef voorbeeldig en leer hulle wat reg en verkeerd is, maar bevind jou dan een nag by die polisiestasie nadat hulle as gevolg van dronkbestuur of dwelms gearresteer is.

As verloste kind van God, is hier twee dinge waarvan jy seker kan wees: God se goedheid en genade. Wat is jou konsep van God? Dis ‘n baie belangrike vraag, dink dus daaroor na voor jy antwoord. Jou konsep van God sal jou vertroue in Hom bepaal. Dawid was ver van perfek af. Sommige van sy mannewales sou die voorblad van die skinderblaaie gehaal het. Hy het egter nooit aan God se goedheid en genade teenoor hom getwyfel nie: ‘…Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis’ (Psalm 56:10 NLV). Jesus het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).

Sy goedheid waarborg dat daar aan elke behoefte voldoen kan word en sy genade waarborg dat elke sonde vergewe kan word. Net soos skaaphonde verlore skape terug na die trop toe dryf, so sal God se goedheid en genade jou elke keer terug na sy liefdevolle arms toe dryf.

Sielskos: Eks 28-29; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2