2022-12-09
Romeine 12:3 NLV
Jy kan nie terugsit, niks doen en glo dat God alles vir jou sal doen nie. Jy het ‘n rol om te speel. Paulus sê dat God vir elkeen van ons ‘geestelike toerusting’ gegee het. Judas sê dat jy geestelik ontwikkel deur jouself ‘…op te bou op die fondament van die allerheiligste geloof…’ (Judas vers 20 NLV). Dis in die strydperke van die lewe waar jy ontdek of jy geloof gekoester of verwaarloos het.
In die Bybelse tyd het ‘n Romeinse soldaat se skild hom van sy kop tot by sy tone beskerm. Dit was van yster gemaak, met dik lae materiaal oorgetrek, en hy het dit in water geweek voordat hy die stryd betree het. Gevolglik is die vlammende pyle van die vyand geblus sodra dit daarmee kontak gemaak het. Nou verstaan jy wat Paulus bedoel het met: ‘Dra onder alle omstandighede die skild van geloof. Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet’ (Efesiërs 6:16 NLV).
Satan se pyle kan nie jou hart binnedring wanneer dit suiwer, deurweek met die Skrif en versterk deur geloof is nie. Dis hoekom Jesus vir Petrus gesê het: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (Lukas 22:31-32 NLV). Dis jou geloof wat aangeval word! Dis jou geloof wat gevoed moet word! Dis jou geloof wat jou in die lewe se strydperke onderhou!
Jesus het vir ons gesê: ‘…Julle moet geloof hê in God’ (Markus 11:22 NLV). Dis die tyd wat jy met die Skrif en in gebed met God bestee, wat jou geloof versterk om die lewe se strydperke te oorwin.
Sielskos: Jos 11-13; Joh 14:26-15:4; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10
2022-08-06
Psalm 112:4 NLV
Geloof is soos film; dit word in die donker ontwikkel. Donker dae laat jou op God leun. Die waarheid is dat indien jou geloof nooit getoets word nie, jy nie gemotiveerd sal wees om nader aan God te beweeg nie. Die gesangeskrywer Edward Mote het geskryf: ‘When darkness veils His lovely face, I rest on His unchanging grace… When all around my soul gives way, He then is all my hope and stay. On Christ, the solid Rock, I stand; all other ground is sinking sand.’
Dis maklik om God te prys wanneer jy gesond is en jou rekeninge betaal is. Dis egter gedurende die donker dae wat jy ontdek waarvan jou geloof gemaak is en waar jou vertroue waarlik lê: in jouself, in ander mense, of in God. Wanneer jou dae so donker soos jou nag voel, is hier ‘n Skrifgedeelte waarop jy kan staan: ‘…Hy wat sonder enige lig in die donker loop, moet vertrou op die Naam van die Here, en staatmaak op sy God!’ (Jesaja 50:10 NLV).
Job het ‘n voorbeeldige lewe gelei, maar tog alles verloor. Ontsteld en verward het hy uitgeroep: ‘God het my pad versper. Hy het dit donker voor my gemaak’ (Job 19:8 NLV). Job kon nie ‘n weg uit die situasie sien nie. Toe het hy ontdek dat wanneer jy nie die rede kan vind nie, jy die verhouding kan vertrou. ‘Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:5 NLV). Toe hy hierdie ontdekking gemaak het, het alles verander: ‘Die Here het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die eerste…’ (Job 42:12 NLV). Wat God vir Job gedoen het – sal Hy ook vir jou doen.
Sielskos: Deut 11-13; Mark 2:23-3:6; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2
2022-06-26
Lukas 22:32 NLV
“‘Simon, Simon!’ het Jesus gesê. ‘Let op, die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun'” (verse 31-32 NLV).
Is jy betrokke by dinge wat jy nooit gedink het jy in staat sou wees om te doen nie? Jy het nooit gedink dat jy ‘n buite-egtelike verhouding sou hê nie. Jy het nooit gedink dat jy sou steel, kul en lieg om vooruit te kom nie. Jy het nooit gedink dat jy jou familie sou afskeep of sleg behandel nie. Jy het nooit gedink dat jy aan pornografie, dwelms en alkohol verslaaf sou raak nie. Jy is nie alleen nie!
Petrus het gesweer dat hy Jesus nooit sou ontken nie, maar hy het. Nie net een keer nie, maar herhaaldelik. Was Petrus lief vir die Here? Absoluut. Omdat hy egter swak was, het hy sy rug op Hom gedraai. Wat ‘n verskriklike skuldgevoel om te dra. Geen wonder hy het ‘…buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (vers 62 NLV), nie. Jesus het egter vooraf geweet dat dit sou gebeur en vir Petrus gesê dat Hy vir hom sal bid.
Wanneer jy sondig, bid Jesus vir jou! ‘Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV). Stel jou voor: Jy sukkel met ‘n sondige gewoonte, terwyl Jesus terselfdertyd sy reinigende bloed aan die Vader voorhou en Hom namens jou om hulp en genade smeek. Sal Jesus se gebede namens jou verhoor word? Natuurlik. Hy sal, maak nie saak hoe lank dit neem nie, met jou werk totdat jy volkome herstel is.
Sielskos: Eks 34:29-35; Mark 9:2-27; 2 Kor 3:7-18
2022-06-05
Hebreërs 11:6 NLV
Net soos die regte sleutel die deur oopsluit, is daar Skriftuurlike beginsels wat waarborg dat jou gebede beantwoord sal word. Kom ons kyk die volgende paar dae daarna.
Geloof. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (vers 6 NLV). God reageer nie noodwendig op jou behoefte nie. Waarop reageer God dus? Jou geloof! Satan sal egter jou gedagtes met vertwyfeling probeer vul. Wanneer hy dit doen, moet jy jou hart ondersoek en kyk wat dit sê.
Jy kan God se Woord in jou hart glo, selfs wanneer jou gedagtes dit bevraagteken. Staan dus op dit wat in jou hart is en nie op dit wat in jou gedagtes is nie. Soms begin twyfel met afleiding. Wanneer jou aandag van God se beloftes afgelei word, begin jy twyfel. Soos jy meer en meer op jou probleme fokus, begin jou geloof wankel. Wanneer dit gebeur, moet jy soos ‘n laser op God se beloftes herfokus – en slegs skrams na jou probleme kyk. Moet hulle nie probeer ontken nie, maar moenie hulle onnodige aandag gee nie.
Die Bybel sê: ‘Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:6-8 NLV). Bly aan God se Woord geanker en moenie begin ronddryf wanneer jou omstandighede begin verander nie.
Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18
2022-05-25
Lukas 8:48 NLV
Die Bybel sê: ‘Daar was ‘n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het… Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop. ‘Wie het My aangeraak?’ het Jesus gevra… ‘…want Ek het genesende krag uit My voel vloei.’ Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy… vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het’ (verse 43-47 NLV). Daar is drie belangrike lesse vir ons in hierdie verhaal:
1) Gryp jou oomblik aan. Hierdie vrou het verstaan dat Jesus op besoek aan haar dorp was en dalk nie sou terugkeer nie. Daar is ‘God oomblikke’ in jou lewe waar jy jou prioriteite moet herrangskik, jou vrees moet oorkom en jou geloof moet uitoefen.
2) Wees gewillig om ‘n ander benadering te volg. Aangesien sy as gevolg van die skare nie Jesus se aandag kon trek nie, het die vrou die soom van sy kleed aangeraak en is genees. Baie keer verg geloof dat jy die onbekende betree en iets doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie.
3) Skep ‘n voorbeeld vir ander om te volg. Niemand het voor hierdie vrou al genesing ervaar deur Jesus se kleed aan te raak nie. Haar geloof het ‘n deur vir ander oopgemaak om haar voorbeeld te volg. ‘Toe die plaaslike mense dit hoor, het hulle… al hulle siekes na Hom toe gebring. Die siekes het Hom gesmeek om aan Hom te mag raak, al was dit maar net aan die onderste rand van sy jas. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword’ (Matteus 14:35-36 NLV).
God gebruik mense wat gewillig is om met tradisie te breek, om sodoende nuwe dimensies van sy krag oop te sluit sodat ander mense geseën en herstel kan word.
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Matt 12:15-21; Ps 97; Spr 12:1-3