Vier jou vordering!

2019-03-03
Romeine 12:2 NLV

Blywende verandering gebeur nie deur menslike inspanning, frustrasie, selfhaat, skuldgevoelens of om jouself aanhoudend oor jou mislukkings te verwyt nie. Dit gebeur deur jou gedagtes elke dag deur die Woord van God te vernuwe. As jy gereeld jou Bybel lees, sal jy geestelik groei. As jy met God saamstem en glo wat Hy in sy Woord sê, sal jy geleidelik begin verander. Dit gebeur eenvoudig net. Jy sal anders begin dink, anders begin praat en anders begin optree. Jy moet egter geduldig wees, omdat dit ‘n proses is wat in fases ontwikkel. Jy moet ook leer om die lewe te geniet terwyl jy deur die transformasieproses gaan. Baie van ons lyk of ons op ‘n nou koord, eerder as ‘n pad van vrede, loop. Nee, geniet waar jy is, op jou pad na waarheen jy op pad is! Moenie al jou tyd tans mors deur jou toekoms te probeer stormloop nie. Jesus het gesê dat môre sy eie uitdagings bring (sien Matteus 6:34). Miskien dink jy, ‘As ek net nie hierdie probleem gehad het nie, sou ek gelukkig gewees het.’ Waarmee stoei jy? ‘n Eetlus wat buite beheer is? Wrokkigheid? Vrees? Miskien sê jy: ‘As ek net hierdie gewoonte onder beheer kan kry, sal ek reg wees.’ Net soos Israel die Beloofde Land een stad op ‘n slag verower het, oorwin jy jou swakhede een dag op ‘n slag. Paulus het gesê: ‘…sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring…’ (Handelinge 20:24 AFR53). Paulus wou alles wees wat God hom geroep het om te wees – maar hy wou die proses geniet. In plaas daarvan om moedeloos te wees oor hoe ver jy nog het om te gaan, leer om solank jou vordering langs die pad te vier.

Sielskos: Eks 20:7; Lev 24:10-16; Fil 2:5-11

Hoe om ‘heel’ gemaak te word

2019-02-19
Lukas 17:17 NLV

Kom ons lees hoe Jesus hierdie tien melaatse mans genees het en kyk wat ons hieruit kan leer: 1) Hulle het die oomblik aangegryp. “Hulle het hard na Hom geroep: ‘Jesus, Here, kry ons tog jammer!'” (vers 13 NLV). Desperate mense bid desperate gebede. Wie gee om oor fatsoenlikheid en uiterlike voorkoms wanneer jy besig is om dood te gaan? Hierdie mans het besef dat Jesus slegs deur die dorp op reis was (sien vers 11) en die ergste ding wat kon gebeur is dat Hy verby hulle sou loop. Dus het hulle die oomblik aangegryp en tot Hom geroep. Jy kan dit ook doen, omdat niemand jou so goed soos God kan hoor nie (sien Psalm 118:5). 2) Hulle moes dit tree vir tree neem. Hulle genesing was nie onmiddellik nie, dit was ‘n proses. ‘…Gaan wys julleself aan die priesters.’ Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword’ (Lukas 17:14 NLV). Dis dikwels hoe dit werk. Dis ook nie net een tree nie, maar ‘n toewyding daaraan om deur die struikelblokke en vrese te ploeg totdat jy by jou wonderwerk uitkom. Dis egter die inspanning werd en jy sal jou verlossing meer waardeer wanneer jy dit elke dag tree vir tree moet neem deur op God te vertrou. 3) Net een uit die tien het omgedraai om dankie te sê. Dis hoekom Jesus gevra het: ‘…Waar is die ander nege?’ Was hulle te besig? Te ingedagte? Of het hulle net vergeet? Let op wat Jesus vir die een wat teruggedraai het gesê het: ‘…Jou geloof het jou gered’ (vers 19 NLV). Fisiese genesing word dikwels deur medisyne vermag, maar jy word ‘heel’ in liggaam, gedagtes en siel, deur die Here te loof en tyd saam met Hom te spandeer.

Sielskos: Gen 44-46; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20

Rig jou gedagtes (3)

2019-02-08
Romeine 8:6 NLV

Sodra jy tot ‘stink gedagtes’ ingee, versuur jou bui, verloor jy energie, voel God ver, voel gebed nutteloos, lyk sonde aanloklik en word jou lewensuitkyk somber. Wanneer dit gebeur, word jy so gefokus op hoe jy voel, dat jy nie besef dat dit jou denke is wat veroorsaak dat jy so voel nie. Kyk na Elia die profeet. Die hoogtepunt van sy loopbaan was toe hy vuur uit die hemel laat afkom het en die profete van Baäl verslaan het. Dit was ‘n yslike oorwinning! Toe het koningin Isebel ‘n boodskap na Elia toe gestuur: ‘Jy het my profete doodgemaak. Raai wat? Ek gaan jou nou doodmaak’ (sien 1 Konings 19). Elia het toe kop eerste in vrees ingeduik. Hy het waardeloos gevoel: ‘…ek is niks beter as my voorouers nie’ (vers 4 NLV). Hopeloos: ‘Elia… het gevlug’ (vers 3 NLV). Geïsoleerd: ‘…Net ek alleen het oorgebly…’ Nie in staat om dit te hanteer nie: ‘…Ek het nou genoeg gehad…’ (vers 4 NLV). Hy wou doodgaan: ‘…Neem nou maar my lewe…’ (vers 4 NLV). Hoe het God op Elia gereageer? Op vier eenvoudige maniere: 1) Hy het hom gehelp om ordentlik te eet en genoeg rus te kry. 2) Hy het met Elia in ‘n ‘sagte fluistering’ (vers 12 NLV) gepraat om hom gerus te stel en hom moed te gee. 3) Hy het Elia verseker dat hy nie alleen is nie: ‘Nogtans sal Ek 7 000 in Israel laat oorbly, hulle wat nie voor Baäl gebuig en hom vereer het nie’ (vers 18 NLV). 4) Hy het vir hom nog ‘n opdrag gegee om te vervul. Daar sal altyd ‘n ‘Isebel’ wees wat dreig om jou beste pogings ongedaan te maak en jou af te breek. Die sleutel is om jou gedagtes te beheer!

Sielskos: Gen 24:1-25:18; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13

Rig jou gedagtes (1)

2019-02-06
Romeine 8:5 NLV

Om die mens te word wat God wil hê jy moet wees, moet jy jou gedagtes op die regte dinge ‘rig.’ Jy sê: ‘As my omstandighede maar net anders was.’ Jou omstandighede bepaal nie jou lewenskwaliteit nie; hoe jy daaroor dink, bepaal dit. Die digter Frederick Langbridge het geskryf, ‘Two men looked out through prison bars; one saw mud, the other saw stars.’ Beide mans was in identiese omstandighede, maar hulle perspektiewe was heeltemal anders. Een het skoonheid gesoek en dit gekry; die ander het op die lelike gefokus en dit gevind. Dit werk as volg: Jou omstandighede in die lewe produseer sekere emosies. Hoe verander jy dus jou emosionele reaksie wanneer jy magteloos teenoor mense en omstandighede voel? Deur te verander hoe jy aan hulle dink! Ware verandering begin altyd in jou gedagtes. Die manier wat jy dink, reflekteer onvermydelik die manier wat jy lewe. Om dus die beste weergawe van jouself te word, die persoon wat God wil hê jy moet wees – moet jy “groot” gedagtes dink! Mense wat “groot” lewens lei is mense wat op ‘n gereelde basis groot gedagtes dink. Jy sê, ‘Maar ek kan nie help om te dink hoe ek dink nie.’ Laat God dan ‘…julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). God se Woord sal jou help om met geloof eerder as met vrees, met gerusstelling eerder as met angs en met vreugde eerder as met negatiwiteit, te dink. Sodra jy jou gedagtes gerig het op ‘die dinge wat die Gees gelukkig maak,’ sal jou lewe ten goede begin verander.

Sielskos: Gen 17-19; Luk 8:26-39; Ps 67; Spr 4:1-2

Verpersoonlik God se beloftes

2018-12-21
Psalm 56:4 NLV

Onderliggend aan jou grootste vrese – is gedagtes. Hulle mag dalk in die openbaar uitgedruk word of in die privaatheid vertroetel word. In elke geval, moet jy hulle gevange neem en hulle verander. As jy dit nie doen nie, sal hulle jou beheer. Een van die kragtigste wapens wat God jou gegee het om vrees en bekommernis te oorwin, is die vermoë om sy beloftes te verpersoonlik. Hier is net ‘n paar: ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos…Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die Here jou God…’ (Jesaja 43:1-3 NLV). Wat moet jou reaksie op God se beloftes wees? ‘Ek sal sterk en dapper wees. Ek sal nie bang of huiwerig wees nie. Die Here my God is saam met my in alles wat ek doen’ (sien Josua 1:9 NLV). ‘Die Here waak oor my wat Hom dien, oor my wat hoop op sy troue liefde’ (sien Psalm 33:18). ‘Wanneer ek bang is sal ek sterk wees, want God kom om my te red!’ (sien Jesaja 35:4 NLV). ‘Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees?.. Want as gevaar dreig, sal Hy my wegsteek. Hy sal my in sy woning verberg. Hy sal my op ‘n hoë rots laat staan… bokant my vyande wat my omring… terwyl ek sing en met musiek die Here loof’ (Psalm 27:1, 5-6 NLV). Wil jy jou vrees en bekommernisse oorwin? Verpersoonlik God se beloftes!

Sielskos: Job 15-17; Luk 1:39-56; Ps 12; Pred 9:10-12