Hoe om moedeloosheid te oorkom (2)

2020-11-12
Nehemia 4:14 NLV

Moenie net aan die probleem dink nie, dink aan die Here. Nehemia het gesê: ‘Ek het sake dopgehou en toe die leiers, die amptenare en die res van die volk bymekaargeroep en gesê: ‘Moenie vir die vyand bang wees nie! Hou in gedagte dat die Here groot en vreesaanjaend is’…’

Wat moet jy spesifiek onthou? Drie dinge: 1) Onthou die Here se goedheid aan jou in die verlede. Wanneer jy aan al die goeie dinge wat Hy reeds in jou lewe gedoen het begin dink, sal jou gees opgebeur word en jou angs verminder.

2) Onthou God se nabyheid in die hede. Wat is Hy besig om tans in jou lewe te doen? Die waarheid is dat Hy by jou is, of jy nou sy nabyheid voel of nie. Hy het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).

3) Onthou God se krag vir die toekoms. Hy sal jou krag vir jou behoeftes gee.

Wanneer jy moedeloos raak, neem jou gedagtes van die omstandighede af en fokus op die Here, want omstandighede kan jou depressief maak en jou ontmoedig. Die kans is goed dat jy moedeloos voel, omdat jy negatiewe gedagtes dink.

Kies ‘n paar bemoedigende Bybelverse om te memoriseer en vir jouself aan te haal: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ (Romeine 8:31 NLV). ‘…As ‘n mens glo, is álles moontlik!’ (Markus 9:23 NLV). Hou in gedagte dat dit jou gedagtes is wat jou gevoelens bepaal en wanneer jy jou gedagtes met beloftes uit God se Woord vul, kan jy moedeloosheid oorkom.

Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 26:7-12

‘Die hemelse dinge’

2020-10-29
Kolossense 3:2 NLV

Die Bybel sê: ‘Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op hierdie aarde nie.’ Daar is baie dinge wat in hierdie wêreld kan gebeur wat maklik ons gedagtes en emosies kan affekteer. Ons moet leer om bo hulle uit te rys. Wanneer negatiewe gedagtes opbou en beheer van jou emosies probeer neem, moet jy ‘n paar minute neem om jou gedagtes op ‘die hemelse dinge’ te fokus. Dit help dikwels om op ‘n positiewe manier oor dit wat jou pla, te praat.

Gesels byvoorbeeld as volg met jouself: ‘My familie mag dalk nie alles wees wat ek wil hê hulle moet wees nie, maar ek is dankbaar dat ek ‘n familie het. My huis mag dalk nie so mooi en netjies wees soos ek dit sal verkies nie, maar dis steeds ‘n goeie plek om te bly. Ek mag dalk tans deur ‘n moeilike tyd gaan, maar Jesus is met my en gaan my hierdeur bring.’

Die duiwel weet watter knoppies om te druk om ‘n emosionele reaksie te ontlok. Wat moet jy dus doen? Staan op God se Woord: ‘Geseënd is hulle vir wie U vermaan, Here, vir wie U uit u gebooie onderrig. U gee hom verligting in moeilike tye…’ (Psalm 94:12-13 NLV).

Hoe meer jy jouself dissiplineer om nee vir jou gevoelens en ja vir God se wysheid te sê, hoe makliker word dit om die Vyand in ‘n geestelike stryd te oorwin. Besluit dus vandag dat jy nie jou lewe rondom onbetroubare emosies gaan rangskik nie en fokus eerder op ‘die hemelse dinge’!

Sielskos: Esra 1-2; Joh 7:14-24; Ps 104:24-35; Spr 24:28

Bid jou alfabet

2020-10-28
Filippense 4:6 NLV

Rachel en Jim het ‘n kommersiële gebou besit, die helfte daarvan het Jim vir sy tandheelkundige praktyk gebruik. Vir vyftien jaar lank het hulle glad nie gesukkel om die ander helfte te verhuur nie, wat ‘n ekstra inkomste was om hulle rekeninge te betaal. Toe hulle hul langtermyn huurder verloor het, het ‘n eiendomsagent vir hulle gesê: ‘Vergeet daarvan om vir ‘n ruk die spasie te adverteer – niemand huur op die oomblik nie.’

Om van haar stres ontslae te raak, het Rachel rondtes by die plaaslike gimnasium begin swem. Eendag het sy baie angstig gevoel en besluit om te bid terwyl sy swem, terwyl sy die alfabet gebruik om telling van haar rondtes te hou. Sy het begin om God te beskryf, deur met die letter A te begin. ‘U is ‘n Almagtige God,’ het sy gedurende die eerste rondte gebid. B. “‘n Barmhartige God, ‘n betroubare God,” het sy tydens die volgende rondte gebid. Dan C: Dankie dat U Christus vir ons gestuur het.’Teen die tyd wat sy ses-en-twintig rondtes geswem het, was dit ‘n uur later en was haar vrese weg. Sy het geweet dat God sou voorsien.

‘n Kort rukkie later het ‘n fisioterapeut gebel om uit te vra oor die spasie, nadat sy die ‘Te Huur’ bordjie in die venster gesien het. Dit was presies wat sy wou gehad het, dus het sy en haar vennoot die spasie gehuur. Rachel bid steeds terwyl sy rondtes swem. ‘Ek het immers ontdek dat God se goedheid van A tot Z strek,’ sê sy.

Bekommer jy jou vandag oor iets? Hier is ‘n beter opsie: ‘…Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen… Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).

Sielskos: Sef 1-3; Joh 7:1-13; Ps 104:1-23; Spr 24:26-27

Leer om ‘reg’ te dink

2020-10-18
Spreuke 12:5 ABA

Jou gedagtes kan vir of teen jou werk. Wanneer dit vir jou werk, help dit jou om positief te bly, jou doelwitte te bereik en elke dag te geniet. Wanneer dit egter teen jou werk, kan dit jou negatief en moedeloos laat voel, jou terughou en jou gedagtes laat dink wat self-sabotasie tot gevolg het. Leer dus jou gedagtes om vir jou en nie teen jou nie, te werk.

‘n Belangrike manier om dit te doen, is om ‘n bewustelike besluit te neem om positief te begin dink – in terme van geloof en nie van vrees nie. Jou brein sal nie hierdie nuwe rol oornag begin vervul nie. Jy verwag dalk van jou brein om ‘n radikale transformasie te ondergaan, wat tyd sal neem. Besluit egter dat tesame met jou ywer en God se hulp, jou brein vir jou sal begin werk en ‘n positiewe dryfkrag in jou lewe sal word.

Dr Caroline Leaf, ‘n kognitiewe neurowetenskaplike, wys uit dat die brein agtien jaar neem om volwasse te word en ‘n leeftyd neem om te groei. Moenie die punt mis nie! Terwyl elke orgaan in jou liggaam tydens jou geboorte ten volle gevorm was en groter geword het soos jou liggaam gegroei het, het jou brein ‘n volle agtien jaar nodig gehad om volwasse te word. Sodra dit volledig gevorm is, hou dit aan groei – maak nie saak hoe oud jy is nie. Dis wonderlike nuus, omdat dit beteken dat jy nie in ‘n ou of verkeerde gedagtepatroon vasgevang hoef te bly nie. Jou brein groei steeds, wat beteken dat jy steeds jou denke kan verbeter.

Soos die Bybel sê: ‘Mense wat reg lewe, dink reg…’

Sielskos: Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6

Deel God se genade uit (2)

2020-10-13
Galasiërs 2:21 DB

Chuck Swindoll sê dat ons as gelowiges dikwels onverdraagsaam is ‘teenoor diegene wat nie by ons idee van ‘n gelowige pas nie – ‘n houding wat deur ‘n kwaai kyk of ‘n bytende opmerking geopenbaar word. Sulke reaksies sal die kerkgeledere vinniger as ‘n vuur in die konsistorie of ‘n griep in die kerkbanke uitdun.

Paulus het die Galasiërs tereggewys omdat hulle hulle rug op God gedraai het (sien Galasiërs 1:6), die onverdiende goedheid van Christus verwerp het (sien Galasiërs 2:21), en die kluts kwyt geraak het deur net op die wet te fokus (sien Galasiërs 3:1). Ja, daar is grense aan vryheid. Genade beteken nie dat jy net kan doen wat jy wil nie. Die grense is egter breër as wat ons besef. Ek kan byvoorbeeld nie dink dat die enigste musiek wat God behaag hoogdrawende en dralerige gesange is nie. Ook dink ek nie dat Hy van ons verwag om slegs met ‘n pak klere en ‘n das sy heiligdom binne te gaan nie. Dis nie God wat oor uiterlike voorkomste opgewerk raak nie! Hy ‘…kyk na gedagtes en bedoelings’ (1 Samuel 16:7 NLV).

Jesus het sy kragtigste en langste preek vir die Fariseërs gehou – mense wat die wet tot op die letter aangehang het. Hy het nie houe teruggehou toe hy met diegene wat by die tempels rondgehang het en ander geminag het, gepraat het nie.

Twee opmerkings: 1) As jy geneig is om soos die Fariseërs ander mense te boelie en op hulle neer te kyk – hou onmiddellik daarmee op! 2) Wanneer ‘n hedendaagse Fariseër jou lewe probeer beheer, stop hulle. Herinner daardie gelowige nabootsers dat die splinter in jou oog tussen jou en God is en dat hulle eerder aandag aan die balk in hulle eie oog moet gee.’

Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 3:1-21; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18