Kry die regte ingesteldheid (3)

2022-12-05
Spreuke 23:7 AFR53

Elke familie het generasie-‘kwessies’ waarmee hulle sukkel. Dis dinge soos verslawing, misbruik, woede, wellus, vrees, ensovoorts wat ons ouers en grootouers aan ons oorgedra het. Dikwels sê ons: ‘Dit loop in my familie, daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.’ Ja, daar is! Jy mag dalk nie iets aan jou familie se verlede kan doen nie, maar deur God se genade kan jy die toekoms vir jouself en jou kinders verander.

Die Bybel sê: ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Let op die woorde: ‘één is met Christus,’. Jy kan nie self jou familie se disfunksie verander nie, maar in Christus kan jy die krag ontvang wat nodig is om in ‘n nuwe rigting te beweeg. ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NKV).

Jy vra: ‘Hoe vernuwe ek my denkpatrone?’ Deur dit met die Skrif te deurweek! Net soos jy sweet en vuilheid van jou liggaam verwyder deur dit in water te week, so reinig en korrigeer die Skrif jou denke wanneer jy jou gedagtes daarin week. Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Let op jou gedagtes, want dit word jou woorde. Let op jou woorde, want dit word jou dade. Let op jou dade, want dit word jou gewoontes. Hou jou gewoontes dop, want dit word jou karakter. Hou jou karakter dop, want dit word jou lot.’

God het vir Gideon gesê: ‘…Breek jou pa se altaar vir Baäl af…’ (Rigters 6:25 NLV). In die plek daarvan het Gideon ‘n nuwe altaar vir die Here gebou en sy lewe en die van sy familie vir ewig verander. Deur jou gedagtes met God se Woord te programmeer, kan jy dieselfde doen!

Sielskos: 3 Joh; Judas; Joh 13:18-30;
Ps 65; Spr 28:17-20

Kry die regte ingesteldheid (1)

2022-12-03
Kolossense 3:2 NLV

Wat is tans jou grootste uitdaging? Om ‘n slegte gewoonte te verbreek, of ‘n nuwe een in plek te stel? Om ‘n nuwe besigheid te begin, of ‘n ou een weer reg te ruk? Om van ‘n slegte huwelik te herstel, of ‘n goeie een beter te maak? Om uit ‘n depressiewe gat te kom, of om te keer dat jy in een verval? Paulus gee ons twee kragtige sleutels: 1) Stel jou gedagtes in die regte rigting. 2) Hou jou gedagtes gestel in die regte rigting. Om jou gedagtes in die regte rigting te stel is die maklike deel, om dit in die regte rigting te hou verg daaglikse toewyding.

Enigiemand kan ‘n begin maak, maar min steek die wenstreep oor. ‘ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie’ (Hebreërs 12:2-3 NLV).

Raak jy as gevolg van jou gedagtes en emosies moeg en moedeloos? Wat is die dryfveer in jou lewe? Jou gevoelens? Jou impulse? Jou buie? Hier is twee lewensveranderende Skrifgedeeltes: ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV). ‘Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV).

Sielskos: 2 Kron 35-36; 2 Joh; Joh 13:1-17; Ps 14; Spr 28:13-16

Let op jou gedagtes

2022-06-29
Spreuke 23:7 AFR53

c besigheid.’ Hier is egter wyse raad wat op alles in die lewe betrekking het: ‘Let op jou gedagtes!’ Wanneer jy in hierdie area verloor, verloor jy orals anders! Salomo bespreek in Spreuke 23 ses beginsels waarvolgens om te te lewe wanneer dit by jou denkwyse kom.

1) Jou gedagtes bepaal jou karakter. ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ Voor jy ‘n leuen vertel, moet jy dit eers oorweeg en soos ‘n leuenaar dink. Voor jy egbreuk pleeg, moet jy eers ‘n fantasie daaroor hê. As jy dus nie iets wil doen nie, hou op om daaraan te dink!

2) Moenie jou gedagtes mors op mense wat dit nie waardeer nie. ‘Moenie ‘n dwaas reghelp nie. Jou goeie raad behandel hy met minagting’ (vers 9 NLV).

3) Die eerste persoon wat jy moet lei, is jouself. ‘Maak alles wat die spreuke jou leer jou eie. Spits jou ore om nog meer van die lewe te leer’ (vers 12 DB). Solank as wat jy aanhou groei, kan jy aanhou lei.

4) Maak seker dat jou rolmodelle mense met beginsels en integriteit is. ‘Moenie jaloers word op sondaars nie…’ (vers 17 NLV).

5) Bly vol vertroue dat die visie wat God vir jou gegee het, sal gebeur. ‘Hou altyd jou ontsag vir die Here. Jy sal altyd ‘n toekoms hê. Jou hoop sal nooit beskaam word nie (verse 17-18 NLV).

6) Bly standvastig in dit wat jy weet reg is. Moenie die pad byster raak nie. ‘…luister… dat jy wys kan word. Hou jou hart op die regte koers’ (vers 19 NLV).

Let dus op jou gedagtes.

Sielskos: Jer 4-6; Matt 22:15-22; Ps 59:1-8; Spr 14:21-22

‘n Veilige plek om af te pak

2022-04-11
Galasiërs 6:2 AFR83

Het jy al ooit iets gesê wat jy gewens het jy kon terugneem? Jy het al, né? Chuck Swindoll skryf: ‘Ons tree impulsief op en besef, na die tyd, hoe dwaas ons was. Boonop maak ons die mense vir wie ons die liefste is, seer. Al hierdie dinge druk swaar op ons gemoed en ons wonder hoe enigiemand, veral God, vir ons kan lief wees. Wanneer ons so begin dink, moet ons ons gedagtes op die ‘mekaar’ in die Nuwe Testament rig. Wees lief vir mekaar, bou mekaar op, wys mekaar tereg, bemoedig mekaar, lewe in vrede met mekaar, bely julle sondes teenoor mekaar, praat met mekaar, bid vir mekaar. ‘Dra mekaar se laste…’ (Galasiërs 6:2 AFR83).

Dink aan twee bergklimmers. Een het ‘n ligte rugsak terwyl die ander arme siel onder sy bagasie steier. Dit kan ‘n langslewende wrok wees wat sy binneste vergiftig. Of ‘n gebroke verhouding met sy vrou of een van sy kinders wees. Die rugsak kan met onbetaalde rekeninge oorlaai wees. Die vraag is: Waar kan hy gaan om af te pak? Wat hy nodig het, is ‘n plek waar daar persoon-tot-persoon omgee en opregte deelname is. Waar hy vry, sonder skaamte, kan voel om sy geheim of stryd te deel. Waar iemand na hom sal luister, hom sal help afpak en hom nuwe krag sal gee.

Volwasse selgroepe is nie miniatuur kerkdienste nie. Hulle is groepe mense wat Christus liefhet en daarin glo om mekaar te help. Hulle wys nie vinger of preek of vergelyk nie. Hulle is jou broers en susters in Christus. Is jy by ‘n selgroep betrokke? Indien nie, oorweeg dit om by een aan te sluit of een te begin.’ Sodra jy begin afpak, sal jy agterkom hoeveel makliker die reis voel.

Sielskos: Lev 18-19; Luk 22:63-71; Ps 25:8-15; Spr 10:2

Die Bybel en jou gesondheid (1)

2021-02-10
Spreuke 14:30 NLV

In die laaste halfeeu, het dokters die verhouding tussen geestelike en fisiese gesondheid begin verstaan en beklemtoon. Tog praat die Bybel meer as drie duisend jaar gelede al daaroor toe koning Salomo vir ons hierdie vier spreuke gegee het: 1) ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid. Jaloesie vreet ‘n mens op.’ 2). ‘Oë wat blink, bring vreugde. Goeie nuus, bring gesondheid’ (Spreuke 15:30 NLV). 3) ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). 4) “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ‘n Neerslagtige mens tap jou krag” (Spreuke 17:22 NLV).

Hierdie Skrifgedeeltes kan as volg opgesom word: ‘n Houding wat met geloof gevul is (deur op die goeie eerder as die slegte te fokus), lag (die vermoë om jouself te verbly) en gesproke woorde van aanmoediging het ‘n diepgaande effek op jou gesondheid (sowel as die gesondheid van diegene rondom jou).

Wat is die teenmiddel vir stres? Kalmte! Wat is die geneesmiddel vir vrees? Geloof! Waar kom kalmte en geloof vandaan? Van God af! Dit het nie goed met Dawid gegaan toe hy die volgende geskryf het nie: ‘Ek het na U geroep, Here. Ek het by U gepleit om genade: ‘Wat sal dit U baat as ek sterf, as ek wegsak in die graf?’…’ (Psalm 30:9-10 NLV). Ons weet nie of hy stres gehad het of fisies siek was nie. God het egter ingetree en later het Dawid in dieselfde Psalm geskryf: ‘U het my droefheid verander in ‘n dans van vreugde. U het my… met vreugde geklee. Daarom sal ek sing tot u eer en nie swyg nie…’ (verse 12-13 NLV).

Daar is geen twyfel daaraan nie – jou gedagtes het ‘n diepgaande effek op jou gesondheid!

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Matt 13:36-46; Ps 138; Spr 4:14-17